Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

ANTI-STUITBAAR – reg vir 2024

Het jy die vermoë verloor om die natuurlike onvoorspelbaarheid van die lewe te hanteer?

In sy boek Anti-fragile, skryf Nassim Nicolas Taleb dat ons met al die wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling, die vermoë verloor het om die natuurlike onvoorspelbaarheid van die lewe te hanteer. Onthou hy het hierdie boek al in 2012 geskryf, en die tema het veral tydens die Covid-19 pandemie weer baie aandag gekry.

Ons wil alles orden. Ons wil sisteme en stelsels in plek sit wat voorspelbaarheid waarborg. Daarom sukkel ons om die stres te hanteer die oomblik as daar ‘n skielike verandering in rentekoerse of petrolprys, in kurrikulum of in koue is.

Daar is verskillende woorde waarmee anti-fragile sekerlik vertaal kan word, soos anti-breekbaar, of anti-kwesbaar, of anti-broos. Maar dis vir my te staties. Daar is ook beweging en verandering en momentum en groei nodig in so ‘n woord as ons in 2024 wil floreer.

Ek noem dit dat jy weer anti-stuitbaar moet word.

Ons is in ‘n wêreld wat wisselvallig en onseker is. Ons moet leer om nie net onsekerheid en ontwrigting weg te wens nie, maar te kyk hoe ons daarby kan baat. Ons moet anti-stuitbaar wees in ons groei na anderkant onsekerheid en ontwrigting en hierdie faktore gebruik as motiveerders vir verdere groei en innovasie.

Ons moet leer om nie net terug te buig na ons vorige posisie soos ‘n boom in die suidooswind nie, maar selfs ‘n nuwe posisie in te neem en nog meer te floreer.

Ek hou van die teksvers in Spreuke 28:1: “Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie; die regverdiges het die moed van ‘n leeu.” Deur die Heilige Gees kry ons bonatuurlike moed!

In plaas daarvan om te kla, kan ons vra: Wat kan ons hieruit leer? Wat is die potensiaal wat hierin opgesluit is? Hoe kan ons met nuwe benaderings eksperimenteer? By wie anders kan ons leer? Hoe kan die omgekeerde gedoen word?

Ek herinner my aan die storie oor Thomas Edison se fabriek wat afgebrand het. Volgens ‘n artikel in die New York Times, het Edison se fabriek in New Jersey in 1914 afgebrand en het hy ‘n groot deel van sy werk verloor. Toe sy seun hom vra of hy van voor af gaan begin, het Edison gesê: “Seun, ons begin van voor af, maar ons begin van voor af met meer ondervinding as voorheen.”

Hy was beslis anti-stuitbaar!

Saam toer? Meer inligting HIER.


*Inteken: Indien jy nog nie ingeteken is nie en graag hierdie INSPIRASIE-nuusbrief wil ontvang, teken hier in. Dit sal goed wees as jy die e-posadres janniewilma@inspiregurouxmedia.com onder jou Contacts sal save, want dan verseker jy dat die nuusbrief nie in die “Junk Email” verdwyn nie.


**Share/Nooi: As hierdie Inspirasie nuusbrief vir jou iets beteken, nooi gerus iemand om in te skryf! Jy mag dit Share. Forward dit en Cc janniewilma@inspiregurouxmedia.com daarin, dan sit ons hulle by ons poslys.