Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Die wonder-werk van goeie kommunikasie!

Ek het onlangs ‘n boek klaar geskryf oor wonderwerke, en hoe meer ek oor kommunikasie gesels, hoe meer dink ek dis ‘n wonder dat ons mekaar verstaan – en natuurlik wonder ons soms of ons mekaar reg verstaan. Asook: dis ‘n werk. So: Goeie kommunikasie is ‘n wonder-werk! Natuurlik met ‘n koppelteken.

Anders gestel: goeie kommunikasie is ‘n kuns (die wonder) en ‘n wetenskap (hoe dit werk).

Die kuns en wetenskap van goeie kommunikasie vul mekaar aan, die een kan nie regtig sonder die ander effektiewe en opbouende kommunikasie bring nie.

Om so ‘n bietjie tegnies te stel: ons weet die wetenskap van kommunikasie is dinge soos die taal en grammatika. Byvoorbeeld net om jou komma of pouse in ‘n sin op ‘n ander plek te sit, kan iets heel anders beteken.

Dis soos om te sê: “Kom ons eet, Ouma.” Teenoor: Kom ons eet Ouma!

Die een sonder die komma voor Ouma maak dit ‘n heeltemal ander sin en betekenis.

Aan die ander kant is die kuns van kommunikasie meer dinge soos die toonhoogte waarop jy praat en jou lyftaal. Dis hoe ek jou as’t ware “lees” om te kan bepaal hoe moet ek op jou kommunikasie met my reageer. As ek sou sê “Johan…” op ‘n manier wat net jou aandag wil trek, is dit anders as wat ek “Johan!” sou uitroep om jou te help uit die pad beweeg van ‘n voertuig wat op jou afpyl.

As Wilma my aandag wil trek vir iets ernstigs, sal sy byvoorbeeld my geboortesertifikaat naam gebruik, naamlik “Johannes.” So ek weet as sy sê “Johannes”, moet ek regtig my ore spits om te luister.

Vir my persoonlik is die beste kommunikasie wat gebeur, die wonderwerk as dit lei tot konneksie.

Met ander woorde as dit lei tot die ervaring dat ons soos hulle sê “rapport” het met mekaar, op een golflengte kom en in harmonie kan wees. Dis die ervaring van jy hoor en verstaan my hart.

Jy kan HIER verder luister na die my praatjie 14 Maart 2023 op RSG saam met Johan van Lill.

Onthou om SAAM TE TOER NA ISRAEL en Petra (Jordanië). Meer inligting HIER.