Gebed en wonders
Seuntjies bid by Westelike tempelmuur Jerusalem
Gebed help my om dinge vanuit God se perspektief te sien… en dis ‘n perspektief van oorvloed…dan sien ek die wonders raak…
Stuur gerus vir my ‘n kort getuienis as jy ‘n wonder beleef het na jannie@jannieleroux.co.za
Dankie Pieter van der Merwe vir die volgende:
Hi Jannie
Baie dankie vir jou woorde oor moedverloor en moedskep. Ons moed lê mos op geen ander plek as in die persoon van Jesus Christus nie. Hy was ons Voorganger sê Hebreërs. Dit het sommer net weer my hart geraak omdat ons persoonlik soveel van dit wat jy skrywe in die afgelope tyd ervaar het.
Ons boer in die Klein Karoo- deel van die Wes-Kaap met vrugte. Sowat 15 mde gelede het die Here my gewaarsku dat “iets” aan die kom is, maar dat ek net my oë op Hom moet hou. Ek het geen idee gehad waarvan Hy praat nie, maar het die woord met my vrou gedeel, daaroor gebid, en dit in ons harte gebêre. Alles het op daardie stadium goed gegaan: die bome het pragtig geblom, daar was genoeg water t.s.v. ‘n droë tydperk ens. Toe volg die swakste oes in baie jare, die droogste tydperk sedert ons boer (37 jr), hartseer m.b.t. ons familie, probleme met personeel, rebellie van werkers wat unielede is, ens. ens. Maar Hy het gesê ons oë moet op Hom bly! Dit bring die wonderlikste vrede ten spyte van alles. En ook te weet Sy oë bly op Sy kinders! (Ps. 33:8)
Uiteindelik was al die water op. Wonderlike bure het hier en daar bietjie water uit die min wat hulle gehad het, gegee. Ons kon kritiese areas lawe en ander net los. Hier is boorde wat weke lank geen water gehad het nie. Maar my Here het gesê: hou net jou oë op My! Intussen het ons strykdeur woorde van hoop uit die Woord ontvang en met alle mag daaraan geklou.
Sowat ‘n week terug het ons wonderlike reën gehad en het ons nou genoeg water vir ten minste ‘n maand. Prys die Here. Intussen het ons begin oes. Ons oë bly op Hom! Ek sou nog baie kon skrywe oor die pad wat Hy met ons loop, maar dis nie nou ter sake nie. Ek wou eintlik sommer iets van my hart deel d.m.v. versies wat ek die afgelope tyd (voor die reën) geskrywe het. Al die eer aan Hom.
HIERDIE GROND
Here ek kies vandag dat my oë wegkant dwaal
anderkant die leuens van Accuweather-skaal
verby dorstige bome met afspeen-vrugte
en YR se ontroue lieg-reën gerugte
waar hoop en wanhoop wipplank ry
fronte suid-langs kusoor gly
berge wolkloos staalblou wag
klowe plooiend grynsend lag
my hulp is nie van julle nie
nie van berge of sinoptiese tekeninge
stelsels of klimatologiese berekeninge
my hulp is van die Here
wat die hemel en hierdie gronde
deurweek met bloed van Sy wonde
deur ‘n skeppingswoord gemaak het
lig hieroor gespreek het
lewe uit niks laat breek het
al sou die vye nie dra nie
ek nie meer weet hoe om te vra nie
sal ek sing voor my Hemelse Vader
dorstig drink van Sy lewende water
LEWENDE WATER
wat lê anderkant vashou
verby heldersien drome bou
klou
anderkant moedverloor se vlakte
waar papierplanne verskrompel
oraroriese preke vermompel
roggel
kopwysheid wind-in warrel
in winterblare grond-toe dwarrel
koggel
verby jy-mens
se hoop-wens
daar wag die Prins van vrede
oop arms deurboorde lede
wat Sy beker mond-in kantel
Sy mantel
saggies alsoor vroetel
troetel
lewende water skink
uit Sy bron te drink
Mag die Here jou seën in jou bediening. Ek glo jy raak baie harte.
Vrede en sterkte
Pieter van der Merwe
Na een van my TV-opnames, ontvang ek hierdie e-pos wat ek met die skrywer se toestemming hier plaas (ongeredigeer):
“Dr, ek is dankbaar vir die voorreg wat God my gee om iets groots in my lewe met u te deel. Die 25ste Junie 1974 ontmoet ek n dametjie met wie ek agtien maande later trou. Net twee weke na ons huwelik rol sy my Volvo en breek haar nek twee plekke en haar lae rug. Sy het gaan saad koop vir die voëltjies en baie lank weggebly. Toe ek die huis op die plaas binnestap lui die foon onophoudend en ek kry die slegte nuus sy het die kar gerol. Daar aangekom toe lê sy 48 meter van die kar af. Toe ek die kar sien het dit in my opgkom dat sy nie hier kon oorleef nie, dit was n wrak. Sy het altyd baie hard gery. Sy is per Helikopter Tygerberg toe geneem.
In die Tygerberg hospitaal ICU het hulle gedoen wat hulle kon doen vir haar. Sy was in n staal traksie van kop tot tone, vol pype ens. Buisvoeding gekry, stoelgang op die kant ingesit, kateter ingesit.
Die Spsialis het vir my gesê, Mnr va Wyk, sy het sleg seergekry en al wat ons vir haar kan doen is om haar gemaklik te maak. Ons kan nie die nek en rugmurg herstel nie.
Dr, sy het uitgeteer tot sy 37 kg geweeg het. Nag vir nag het ek gebid, gesmeek en gevra, Here gee haar asb terug vir my. Na sewentien maande en drie dae die nag, krap iemand tussen my hare en ek glo dit is die verpleegsters wat my koffie aanbied. Nee ek was verkeerd, dit was my vrou wat die eerste keer aan my gevat het. Sy het my gewys ek moet die Dr’s roep toe word ek bang maar tog het ek n kalmte gevoel. Sy het hulle gewys om die pype uit haar keel te haal n sy het moeilik maar wel gepraat.
Drie maande later het ek daai kleine bondeltjie mens huistoe gevat.
Haar gevoer, naels gedoen, skoongemaak, haar lang hare gekam, aangetrek, op my voete gesit en haar weer leer loop.
Die Spesialis het vir my gesê, God het hier genees want dit was vêr bokant hulle vermoë. Sy is nog vandag my vrou, ons het vyf kinders en nog een aangeneem. Ek wil net vir die hele wêreld n boodskap gee, ons God leef en Hy het nog nooit opgehou met Sy genesingsplan nie. Ek prys Hom en al die eer behoort aan Hom en nie aan ons nie.
Dankie dat ek met u kon gesels my vriend. Ek geniet u baie op die tv.
Jesus liefde
Morkel”
Â
Recent Comments