3 Maniere om jou verhouding met jouself te verbeter vir meer geluk
Beteken geluk dat ’n mens heeltyd met ’n glimlag moet rondloop soos daardie geel gesiggie met die glimlag die sogenaamde “Smiley face” voorstel?
Asseblief nee! Die meeste navorsers oor geluk is dit eens dat ’n glimlag nie al element van geluk is nie. Positiewe emosies is slegs ’n komponent van ’n reeks komponente wat jou help om te floreer. Jy het ook positiewe verhoudings nodig. Energie is belangrik. So ook die ervaring van betekenis en die besef dat jy iets kan bereik of afhandel. Om in die oomblik opgeneem te wees, sogenaamde ” engagement”, speel ook ’n rol. Mense met ’n sogenaamde lae positiewe affek of emosionele gewaarwording kan volgens navorsing ook nog gelukkig wees, sonder om noodwendig met ’n glimlag rond te loop.
Dit wil voorkom alhoewel daar meer vermaak en geleentheid vir ontspanning en plesier in die wêreld is, daar tog meer depressie is.
Ongelukkig, ja. Die sogenaamde vader van die positiewe sielkunde, professor Martin Seligman, skryf dit toe aan drie invloede. Die een is die verbrokkeling van die positiewe verhouding tussen ek-en-ons. M.a.w. hoe meer individualisties ons geword het, hoe meer hang alles van jouself af en is jy nie meer deel van ’n gesonde groep nie. So as jy dan misluk of mislukking vrees, is dit net jy wat dit moet verduur. Maar as jy ouers het wat jou ondersteun, ’n kerkgroep waaraan jy behoort, dan help hulle jou om nie jouself en selfwaarde te verloor nie. Ek dink deel van die toename in bendes wat mense in die Kaap en elders terroriseer, is hierdie basiese gevoel van geluk wat jy kry om aan ’n groep te behoort wat jou identiteit en waarde gee, want die ander gesonde goed in die samelewing het begin verbrokkel.
Die tweede invloed op meer depressie is die opkoms van die selfbeeld beweging. Kortliks: dit het mense gehelp om te glo hulle is baie spesiaal, met mantras soos: Ek is oulik, ek is goed, ek is die beste… maar sonder om mense te help fokus op waarmee hulle goed is en dit dan te laat groei. Ten diepste weet ’n mens jy is nie goed in alles nie, so jy bluf jouself. Inplaas daar van moet ons skole kinders help om te ontdek waarmee hulle goed is en wat hulle kan bemeester sodat jy daardie gegronde selfwaarde kan hê. Nou kry jy kriminele met ’n hoë selfbeeld! Inplaas van mense met ’n gesonde selfbeeld wat jy kry omdat jy in goeie verhoudings met ander is, ’n positiewe betekenis aan die lewe gee, graag wil werk om iets te bereik en te beleef.
’n Derde invloed wat die toename in depressie aanmoedig, is wat professor Seligman ’n slagoffermentaliteit noem. Jy blameer alles anders behalwe jou eie verantwoordelikheid. So dis die onderwyser se skuld, die regering se skuld, die kerk se skuld, almal anders se skuld. En die resultaat is dat mense nooit die probleem analiseer en oplos nie en daarom al hoe meer magteloos voel en dus depressiewe tekens toon.
Hoe gaan ’n mens jou verhouding met jouself op ’n gesonde manier verbeter sodat jy meer lewensvreugde kan ervaar?
Kom ek stel 3 maniere voor:
Een. God het ons elkeen uniek geskep. Dis belangrik om te onthou. Dus gaan jy nie al die talente van iemand anders hê nie. Vergelyking met ander se beste talente gaan jou net al hoe meer moedeloos m aak. ’n Mens moet fokus op jou sterkpunte oftewel positiewe karaktereienskappe en waardes. Interessant, as Paulus met die gelowige oor die Gees praat, dan noem hy dat elke gelowige ’n gawe van die Gees ontvang het. Hy moedig gelowiges aan om daardie gawe tot voordeel van die hele liggaam, die gemeente te gebruik. Dis om leiding te gee, of dalk is jou gawe om iemand te leer, of dalk gesond te maak of wat ook al. Maar gebruik jou gawe in jou werk en oral tot voordeel van ander.
Tweedens moet jy weet dat jou brein heeltyd aan die hardloop is met gedagtes. Nie al daardie gedagtes is positief en opbouend nie. Gelukkig kan ons brein nuwe neurologiese bane skep sodat jy gouer weer vreugde en vervulling kan ervaar as jou negatiewe gedagtes jou wil aftrek. Negatiewe gedagtes is net wat dit is. Net ’n gedagte. Nie ’n voorspelling van jou toekoms of ’n waarde van jou verlede nie. So as negatiewe gedagtes begin opkom, neem net geringweg daarvan kennis soos om ’n borrel op ’n damwater te sien opkom. Moet as’t ware nie die gedagte begin dink nie, want dan begin jou brein redes kry hoekom jy negatief moet wees. Moet ook nie die negatiewe gedagte onderdruk nie. Maar moenie te veel aandag daaraan gee nie. Fokus doelbewus op iets anders. Doen ’n ander aktiwiteit wat jou gedagtes in ’n positiewe rigting kan neem en jou positiewe hormone kan help vrystel, soos om in die natuur te gaan stap.
Derdens: fokus op die oomblik, op die nou. Bring net jou gedagtes na waar jy is en gebruik jou sintuie om in die oomblik te wees. Hoe meer jy bewuswees van die oomblik beoefen, hoe minder gaan jou brein oor in ’n evaluasie-modus van negatiewe oordeel en negatiewe gedagtes. Navorsing wys dat hierdie twee minute bewusword jou help om veel meer oop vir lewensvreugde te wees.
So haal vir ’n minuut stadig asem en in die tweede minuut fokus jy net op God. Twee minute gereeld wat jou hele lewe kan verander.
’n Laaste gedagte wat ons moet bly onthou om meer lewensvreugde in jou verhouding met jouself te beleef?
Paulus het gesê in Romeine 12:2” … maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”. Dis God se vreugde dat jy meer lewensvreugde beleef. En daarvoor moet jy jou denke laat verander deur goeie groot Goddelike gedagtes te begin dink! Dink so daaraan: Jy is die een vir wie God lief het!
(Notas van my inspirasie gedagtes op RSG. As jy wil luister, soek by www.rsg.co.za onder Potgooi en Sondagjoernaal)