Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Het jy hierdie TWEE BENE?

Dis nou nie bedoel dat jy met 2 bene in Israel met ons saam loop nie – maar as jy wil en kan, kry HIER meer inligting oor ons September ISRAEL-PETRA (Jordanië) TOER.

Die afgelope 2 plus jare het vir my en Wilma nogal baie geleer van die waarde om twee bene te hê wat reg werk. Ons het albei gesukkel met ‘n been. Sy met beide haar bene.

As een been nie lekker is nie, moet die ander been kompenseer. Dit maak beweging moeiliker en dikwels seerder. Dit smokkel met jou emosies en kan jou moedeloos maak.

Daarom: in die oorgang van een jaar na ‘n ander, van een seisoen na ‘n ander, van een situasie na ‘n ander, help dit om dit met twee bene te doen. Hier is my voorstel vir twee bene:

Linkerbeen: WAARHEID.

In ‘n dag waarin dit gevoel het alles loop verkeerd, het ek myself die aand gevra: Wat is die waarheid oor hierdie dag?

Die waarheid was dat nie alles verkeerd geloop het nie, dit was net ‘n insident wat my perspektief verklein het. Soos wanneer jou motor se voorruit skielik toewasem en jy net deur ‘n kolletjie ‘n stukkie van die pad kan sien. “Wat is die waarheid?” help om te besef ek het dalk nie die volle prentjie nie, of die ander persoon het my nie reg verstaan nie, of daar is ‘n oplossing vir iets wat verkeerd geloop het, of ek het hulp nodig. Of sommer net: dit het ge-flop en my ego het seergekry. Maar ek gaan weer probeer.

Hierdie vraag help om die afgelope tyd in perspektief te sien. Dit help ook vir beplanning vir die volgende seisoen. Want as iets nog nie die waarheid in my lewe is nie, wat wil ek hê moet daardie waarheid wees? Wat is die “waar-om” wat ek graag waar wil sien? Wat is die “waar-heen” wat my waarheid moet word? “Waar” gaan ek dit vind en wat gaan my help daarmee? Is die waarheid dat ek werklik glo ek gáán dit of dat doen?

Sommer net ‘n voorbeeld uit ons lewe: ons beplan weer om mense op ‘n toer te begelei. Die waarheid is dat ons dikwels benoud voel of ons die vereiste aantal inskrywings gaan kry. Die dieper waarheid is egter waarom ons dit doen: dit help ons voel ons vervul ons lewensroeping om mense te inspireer met ervarings van God!

Hierdie waarheid het ook die ander been nodig:

Regterbeen: WAARDERING.

Teen hierdie tyd weet ons dat dit waarop ons fokus, is wat ons gaan ervaar.

As ons fokus op die negatiewe, raai wat sien ons? Korrek, die negatiewe. As ons fokus op dit wat reg loop en op dit wat ons in verwondering laat oor die goedheid van God, skuif dit ons emosies na die positiewe. Die verrassende gebeur dan: meer geleenthede is meteens daar, want nou kyk ons met die lens van waardering, en nie van wat ons gedink het hoe dinge behoort te wees nie. Ons ly gewoonlik as dinge nie voldoen aan ons verwagtinge nie. Waardering bring egter oorvloed.

Wanneer ons oorbeweeg na waardering, verdryf dit ons negatiewe gevoelens oor die lewe. Dit help ons om ‘n lewe van oorwinning te lei, want só oorwin ons vrese en frustrasies, woede en wrokke, seer en skuldgevoelens.

Waardering help ons om ons vrae oor die lewe of ‘n situasie ietwat anders te formuleer. Byvoorbeeld as die slegste gebeur: Waar het ek God se Teenwoordigheid opgemerk? Dikwels het God se teenwoordigheid in so ‘n oomblik duideliker geword via iemand se drukkie, ‘n WhatsApp met ‘n tydige boodskap, ‘n Bybelvers wat jou aanraak, ‘n mooi natuurtoneel.

Dit kos moed om met waardering na die slegte goed in ons lewe te kyk. Maar dit bevry ons om weer kans te sien vir die pad vorentoe. Want waardering help ons onthou: daar is altyd ‘n wonder wat wag.

WAARHEID EN WAARDERING: Die diepste waarheid én waardering wat ons sekerlik kan beleef, is saamgevat in hierdie treffende woorde van Paulus: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Romeine 8:38-39)


INSPIRERENDE TOER: ISRAEL EN PETRA (JORDANIë)

Kry HIER al die inligting vir die toer wat 1 September 2023 vertrek.

Dis so lekker om te hoor as iemand terugvoer gee: “Wees verseker dat ek en B……, en ek glo ook die res van die groep, die toer terdeë geniet het. Nie net geniet het nie, maar ook insiggewend, leersaam en verrykend. Ons het al ‘n toer of twee meegemaak maar wees verseker, die toer saam met julle tel onder die bestes wat ons al ooit beleef het. Met julle twee as toerleiers asook al die organisasie rondom dit en  saam met die groep was dit een groot feestelike pret. Nuwe ontmoetings het nuwe vriende geword en lewens is verryk.”


Inspirasie-video: Omdraai, of vorentoe?


Inteken: Indien jy nog nie ingeteken het nie en graag hierdie INSPIRASIE-nuusbrief wil ontvang, teken hier in. Dit sal goed wees as jy die e-posadres jannie@inspireguroux.com onder jou Contacts sal save, want dan verseker jy dat die nuusbrief nie in die “Junk Email” verdwyn nie.


Nooi/Share: Jy mag die nuusbrief gratis share. Nooi gerus iemand om in te skryf! Forward dit en Cc vir jannie@inspireguroux.com, dan sit ons hulle by ons poslys.