2016 – JOU INSPIRERENDE STORIE!
Ons het almal stories om te vertel oor ons lewe en hoe ons die lewe sien. Vanjaar wil ek mense graag help verstaan hulle moenie ’n Nuwejaarsvoorneme maak nie. Ons weet mos die goed hou net tot week twee – as dit ooit so lank hou en dan moet ’n mens al weer aanpassings maak. So jy begin jou jaar klaar met skuldgevoelens en dis nie bevorderlik om te floreer en lewensvreugde te ervaar nie.
Dus: Moenie ’n Nuwejaarsvoorneme maak nie. Begin eerder ’n Inspirerende Storie!
Ons almal het ’n storie wat ons vertel om ons situasie en siening en gedrag te verduidelik. Op ’n manier vertel daardie storie nie net hoe jy alles interpreteer nie, dit gee sommer die aanduiding wat jou lewenshouding is en hoe jy dinge wat nie lekker verloop nie gaan hanteer. Op ’n manier beïnvloed daardie storie ook jou toekoms en hoe jou toekoms gaan uitspeel. Dit word m.a.w. ’n selfvervullende profesie, ’n voorspelling wat jy oor jouself en die lewe uitspreek en dan moet jy nie verbaas wees as dit gebeur nie.
My een vriend Marius vertel gewoonlik sy storie met die woorde: “En toe was ek gelukkig om wat ook al te belewe of te ervaar…” So hy begin sy storie met die gedagte dat hy gelukkig was. En weet jy – dit lyk of die geluk hom bevoordeel. Maar dis sy stórie wat die positiewe energie oopmaak sodat dinge as’t ware wil saamwerk om sy storie waar te maak.
Iemand anders sal byvoorbeeld sê sy lewe is soos ’n nikkerbol – daardie harde lekkers met die sagte binnekant – die lewe is soos ’n nikkerbol, hard maar lekker. So die persoon sal altyd die harde kante van die lewe raaksien, maar darem glo daar is lekker momente ook. Iemand anders het weer net chronies gesug: Ai, die lewe is moeilik. Sowaar, daardie persoon het net al hoe meer negatief begin voel oor die lewe. As die dag te goed verloop, gaan kyk hy die nuus sodat hy meer bewyse kan kry die lewe is moeilik. Natuurlik is daar tye waarin die lewe hard is en moeilik is. As dit egter jou storie bly, hoe kan jy anders as om dit meer te raak te sien en so te beleef?
Jou storie vertel nie net nie, jou storie beïnvloed en stuur jou lewe. Anders gestel: jy is nie net jou storie nie – jy wórd jou storie.
Die beste manier is om vir God te vra om jou te help met ’n wonderlike storie. In 2 Kor. 5:17 beloof God “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens…”. Wees dan sensitief vir die Heilige Gees wat jou sal help vorm aan ’n sinnetjie wat jy kan gebruik. Net so 7 woorde. My storie was in 2015: Vanjaar gaan my beste jaar ooit wees! Sowaar – dit was in sovele opsigte. Ons was oorsee in Israel en die Griekse Eilande saam met wonderlike mense wat saamgereis het, ons het beleef hoe ’n hele gemeenskap en gemeentes ons dra tydens my ouers se siekte en my pa se sterfte, ag nog soveel ander wonderlike beste goed. Dit was regtig ’n belewenisjaar!
So begin 2016 met jou eie Inspirerende Storie. Dis jóú storie saam met ons wonderlike God!
(Min of meer soos uitgesaai deur RSG Sondagjoernaal)