DROOGTE EN GEBED
Ons land het een van die ergste droogtes wat ons beleef. Watter inspirasie kan ‘n mens deel, veral met diegene wat ly onder die droogtes?
My ouers het in die plaaslike boere koöperasie in Beaufort-Wes gewerk. Van jongs af het ek die effek van droogtes op mense se lewens gesien. Dit was altyd so hartseer om ’n boer se teleurstelling te sien as hy hoor die voer vir sy diere het nog nie opgedaag nie. Om mense te sien oppak om te trek omdat hulle werkgewer hulle nie meer kan bekostig nie. Dis aaklig om te sien hoe die mooi landerye verwelk en die diere wegkwyn. So ja, die hartseer van die droogte is intens.
Wat in ons land baie kosbaar is, is mense se toevlug na God ten tye van droogtes. Dis verblydend om te sien hoe mense hulle afhanklikheid van God so ernstig neem dat hulle hul toevlug na gemeenskaplike gebed neem. Droogte vra nie vir jou aan watter kerkgroep jy behoort of wat jou finansiële status is nie. Droogte raak almal.
Daarom is dit so wonderlik dat mense mekaar se hande vat in gebed oor alle grense heen. In Beaufort-Wes se leë dorpsdam so ’n tyd gelede het gemeenteleiers van alle kerkgroepe en gemeenskapsleiers saam gebid. En RSG het begin praat oor die waternood en mense van regoor die land het waterbottels in daardie dorp afgelaai. As mense hulle harte vir God en mekaar oopmaak, word ’n droogte een van die wonderlikste ervarings in liefde. So saam met die slegte in die natuur kom die beste in mense na vore. En die wonderlike is dat God uitkoms gegee het. Die dam het vol water geloop vanweë die sneeu wat geval het.
Ons sien ook nou hoe mense se harte vir mekaar oopgaan en konvooie vragmotors met voer geskenk word om ander in nood te help. Ek kry sommer hoendervleis van opgewondenheid toe ek foto’s sien van die lang rye vragmotors wat die voer geneem het na ander dele in ons pragtige land. O die wonderlike vreugde wat loskom as mense opreg gee en ander mense opreg ontvang.
Ons hoor ook nou van reën wat op plekke val. Dis van die aangrypendste foto’s as mense dan in die reën op hulle knieë val om vir God dankie te sê.
Dis net iemand wat so desperaat gedors het wat so drasties dankbaar kan wees!
Moet mense hulle sondes bely voor ’n droogte gebreek word?
Kom ek vertel eers iets kostelik. Eendag woon ek in ’n plattelandse gemeente ’n biddag vir reën by en daardie tyd se jong dominee klim toe onder die boere in om hulle sondes te bely. “Wat het ons gesondig dat dit nie hier by ons reën nie!” bulder hy. Toe ons uitstap, stap ek agter twee ouer boere. Ek hoor die een sê vir die ander een: “Ek verstaan nie hierdie jong dominee van ons nie. Hy sê ons moet ons sondes bely. Maar ek doen my sondes in die Kaap en daar reën dit aanhoudend!” Die een wonderlike hulp wat God ons gegee het, is ons humor.
Die een ding wat ons moet vashou, is dat God ’n genadige God is wat altyd weer uitkoms gee.
Die Bybel sien ’n droogte sien as ’n geleentheid om weer na jou hele lewe te kyk en die dinge reg te maak wat verkeerd is. Maar veral – en dis eerder die belangrike – om jou vertroue in God en jou afhanklikheid van God te bevestig. Psalm 46:2 stel dit so duidelik: “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming. Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”
Die punt is: droogtes kan alles laat kwyn, maar daar is terselfdertyd geestelike en gemeenskapsgroei wat kán gebeur en God se ingryping wat beslis gáán gebeur!
(Teks soos min of meer aangebied op RSG Sondagjoernaal 24 Januarie 2016 – laaste paar minute van program)