Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

3 Nuwe POSISIES

Hoeveel ure van ons lewe wag ons in rye?

Dis Vrydag. Verlede week. ’n Vriend het gesê ek moet reeds 7-uur by Binnelandse Sake wees al maak die kantoor eers 8-uur oop. Ek dog hy is laf. Tog ry ek 7-uur verby en sien tot my skok dat die ry mense kronkel al ’n halwe straatblok lank.

En ek wil maar net my paspoort hernu…

Toe ek 10 minute oor 7 inval, is daar ten minste 50 mense voor my. Ek maak my reg vir die lang wag. Dis mos ’n goeie tyd om ’n bietjie mindful oftewel bewustelik in die oomblik te wees. Maar na ’n rukkie sein my linkerbeen dat ek nie so gemaklik staan as wat ek dink nie. Dis nog net 15 minute in die ry, en dis toe wat ek wonder: “Hoeveel ure van my lewe het ek al in ’n ry gewag?” Die dele van ry-staan in my ma se arms of aan my pa se hand kan ek nie eintlik onthou nie. Die rye by die Primêre Skool en later in die Hoërskool onthou ek egter baie goed. En die rye in die koshuis terwyl ons wag vir etes… Later jare die rye by die winkels en lughawens. O ja, die belangrike rye toe ons vir ’n demokratiese verkiesing in Suid-Afrika inval – Google herinner my dit was 27 April 1994. Maar ek het lanklaas so lank op ’n sypaadjie gewag.

Nou begin my bene leef en wil op hulle eie begin loop. Dalk help dit om aandag af te lei as ek na mense se gesigte kyk. Ek sien die kleinneef van Evita en die broer van Donald Trump. Mona Lisa se familie is ook daar – en my skoolvriend s’n. Of ten minste mense wat lyk asof hulle familie van bekendes kan wees.

Toe kyk ek voete. Netjiese skoene, skeef afgeloopte skoene, voete wat goed versorg is, ander voete wat te groot is vir die sandale en oorhang soos oorloopdeeg. ’n Korterige ou se ma het seker sy sandale gekoop in die hoop dat hy sal groei, maar sy voete is net so twee derdes van die sandale en hy het beslis lank reeds opgehou groei. Een vrou se voete herinner my aan ons vriendin wie se pa vir haar gesê het oor haar volgroeide voete: “Ag my kind, gooi die skoen weg en dra die boks!”

Toe kom ’n ou verby met net een been en krukke. Mense wat oud is of met liggaamsgebreke sukkel, kry voorkeur. Ek kwalifiseer gelukkig nog nie; dus is dit maar wag. Nou begin die dors en sommer honger ook. Ek gaan beslis nie nou ’n kafee soek en my posisie prysgee nie. Dis al 40 minute.

Skielik is daar beweging – dis 10 voor 8. ’n Beampte verdeel ons ry in twee: collections in een en ons ander in die ander ry. ’n Pa kom nader om by sy vrou in te val, twee kindertjies aan die hand. Die seuntjie gee sulke sprongetjies soos ’n paddatjie en lag van vreugde om sy ma te sien. Die meeste van ons glimlag ook. Sy kleiner sussie probeer dieselfde, maar dis meer soos ’n marshmallow wat hop. Hulle straal saam genot in die oomblik uit. Kinders leef mos baie meer in die oomblik. Die dogtertjie begin speel met haar tong; die seuntjie hop voort.

08:23. Uiteindelik is ek binne. Nog ’n ry, maar nou kry ek ’n nommer. ’n Baie effektiewe stelsel noem jou nommer en die toonbank waar jy moet wees. Dis net mense waar jy kyk.

10:23. Ek begin skryf in my boek. Iemand het my al ge-WhatsApp of ek kom koffie drink, maar hier bly ek droëmond sit. Agterop een ou se T-shirt staan Original Troublemaker. Nou weet ek ten minste waar al die moeilikheid begin het! ’n Pa tel sy kindjie op en ruik aan dié se agterstewe of die doek nog alles binne hou.

Dis toe wat ek dié groot besef kry. HIER TEL POSISIE NIE. Of jy die CEO is of watter afkorting ook al jou posisie aandui, hier beweeg jy volgens jou nommer. Almal is hier gelyk, ongeag jou kultuur of geloof of titel. Die beste wat jy hier kan doen, is om jou posisie uit jou kop te kry en net te wéés. Soos die seuntjie wat weer jolig vorentoe hop soos ’n mossie wat kos soek.

Jesus het nogal mense se posisies verander. Filippense 2:7 sê oor Jesus: “…Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Hy het in ons ry ingeval!

Daar is ten minste 3 posisies wat verander in Sy koninkryk:

  • Eerste moet laaste wees: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees” (Markus 9:35).
  • Soos ’n kindjie: “Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie” (Markus 10:15).
  • Van slaaf tot kind van God! “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak” (Galasiërs 4:7).

’n Kindjie swaai om een van die paaltjies met ’n aanwysingsbordjie. Hy kyk my diep in die oë en glimlag breed. Ek glimlag terug. Ingenome swaai hy weer om en om die paaltjie – gelukkig in die oomblik se koninkryk.

My nommer word geroep. Dinge gebeur vinnig by die toonbank. Toe wag ek weer dat my nommer geroep word in die ry om te betaal. Na ’n ruk het twee persone wat ver agter my in die ry was, reeds betaal. Ek gaan vra wat aangaan. Die kassier kyk op die sisteem…

My nommer is weg! Ek is my nommer-posisie kwyt!

Vir ’n oomblik wonder ek of ek nie soos ’n kind my speelgoed uit my cot moet gooi nie, maar besef ek volg Jesus en dit pas nie by Sy koninkryk nie. Hierdie keer het ek my driftigheid oorwin. Die kassier beduie waar ek moet inval om ’n nuwe nommer te kry en maar weer te wag.

11:40. Uiteindelik stap ek na buite nadat ek met my nuwe nommer kon betaal.

Ai, ek moet een van die dae teruggaan en in die collections ry inval!

Ek dink nie die Koninkryk het rye en nommers nie. In elk geval nie posisies nie!


WONDERLIK: Die kerk het hierdie Koninkryk-posisie nodig!