Wat as TUSSEN-IN?
Wat van die tyd tussen seisoene?
Ons weet daar is ’n seisoen vir alles. So sê die Bybel, asook ons lewenservaring vir ons. Maar wat doen ’n mens as jy nog nie klaar is met die een seisoen of nog nie binne die volgende seisoen is nie? Soms is dit net die tyd tussen begin en bemeestering wat hierdie tussen-in gevoel gee.
Op ’n kleinerige dog internasionale lughawe wonder ek verlede week daaroor. Ek het vroeg genoeg opgedaag sodat ek solank deur die paspoortbeheer kan gaan – maar hulle is nog nie oop nie. Al het ek die vorige aand reeds per internet ingeboek, sal hulle eers oor ’n uur oop wees en my bagasie kan ontvang. Die lughawe aan die binnelandse kant is drukkend warm. Seker nog nie geld om die lugreëlaars reg te maak of selfs te installeer nie. Binne die koffiewinkel is dit heerlik koel. Hulle wil egter nie dollars neem vir betaling nie, en ek sleep my tas maar weer uit.
Oral hang mense soos nat lappe oor die metaallughawestoele wat net vir ’n rukkie gemaklik is. Dis te taai-warm binne. Ek stap na buite en gaan sit onder die afdak tussen die rokers. Hier roer die luggie darem effens. Dit voel vir my daar is te min tyd om my laptop uit te haal en te begin tik. Ek merk die weerkaatsing van myself op in die venster voor my en besluit dit sal darem ’n oulike selfie maak. Terwyl ek die foto neem, besef ek dis wat ek dikwels doen in die tussen-in tye. Ek vermaak myself met verbeeldingryke aktiwiteite. Sommige mense lees om die tyd om te kry totdat die seisoen verander. Of gee likes op almal se Facebook-prentjies en -opmerkings.
Toe kom sy na my toe aangestap. Oorlaai met meer as die gewone handbagasie en met ’n tassie in sleeptou. Met ’n ander aksent vra sy: “Would you mind if I sit here?” Daar is nie ander sitplek in die omgewing nie. “Not at all,” antwoord ek. Sy krap in ’n plastieksak op soek na iets; vind dit uiteindelik in die kantsakkie van haar handbagasie. Dis haar vlugkouse wat sy uithaal en aantrek. Sy begin met my gesels oor die lang vlug wat op haar wag terug na Nederland. Sy vra wat ek kom doen het. Ek verduidelik ek het kom M.B.A.-klasse aanbied namens ’n Duitse universiteit.
“Oh, are you a professor?” wil sy weet. “No,” antwoord ek. Ek is wel ’n doktor. Maar die studente noem my sommer: Professor! Toe vra ek uit ordentlikheid wat sy doen. “I am a professor. I research sustainable innovation in the regional knowledge economy,” verduidelik sy. Nou is my aandag volledig by haar en ek wil weet wat sy daarmee bedoel. Sy verduidelik onder andere dat sy gaan kyk het hoe die Distrik Ses se museum in die Kaap ’n rol speel in innovasie en ontwikkeling van ’n gemeenskap.
Na die gesels staan sy op om na binne te gaan vir haar vlug. “By the way, do you smoke?” vra ek. Sy rook ook nie, het ook net kom koeler sitplek soek hier buite. Ons het amper ’n uur lank gesels. Dis tyd vir my om ook deur paspoortbeheer te gaan. Op ’n manier het die tussen-tyd vinniger verbygegaan as wat ek gedink het. Net omdat iemand met my begin gesels het.
Dit herinner my dat engele nogal ’n manier het om so op te daag by mense in ’n tussen-in-seisoen. En Jesus ook. Hy het vir Saggeus uit ’n boom geroep om by hom te gaan eet. Toe verander Saggeus se lewe. Jesus het sommer begin saamloop met twee dissipels op pad na Emmaus. Dié twee was heel verward oor Jesus se dood en Sy verskyning aan sommige dissipels. Tussen seisoene. Dan verduidelik Hy vir hierdie twee met die somber gesigte al die Skrifuitsprake wat op Hom van toepassing is.
Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Lukas 24:32).
Die teenwoordigheid van iemand in die tussen-in-tye van ons lewe maak dit draagliker.
Maar:
Die teenwoordigheid van Jesus maak ons harte so warm dat ons opgewonde kan raaksien dis eintlik die begin van die volgende seisoen!
Ek dink ek gaan vandag weer my Bybel begin lees by die boeke wat Jesus se lewe beskryf. Hierdie keer gaan ek ’n ander kleur pen gebruik om Jesus se beloftes wat my hart warm maak, te onderstreep. Of nog beter, ek gaan dit in die Bybel-toep op my selfoon lees, want ek het onlangs ontdek dit het ook ’n boekmerk- en onderstreepfunksie.
“Jesus, kom stap my lewe ook binne. Tussen-in waar ek nou is. Asseblief.”
WONDERLIK: Tussen-in-tye het hierdie GROTER PRENTJIE nodig!