Drie “R”e om jou te VERRYK!
Onthou jy dalk die werklike verhaal van Bethany Hamilton? Sy het in Hawaii grootgeword. Die meeste van ons dink aan Hawaii as die plek waar mense so lekker branderplank ry. Sy is geen uitsondering nie. Teen 7-jarige ouderdom het sy al klaar branders met haar branderplank kon ry. Maar toe tref ’n aaklige tragedie haar in 2003.
’n Haai byt haar linkerarm af.
Soos sy in die herstelproses gaan, maak sy twee beloftes aan haarself. Die ene is dat sy nie sal kla oor hierdie slegte ding wat gebeur het nie. Die tweede is om weer terug te klim op haar branderplank. Meeste ander mense sou dink hulle gaan nooit weer die see aandurf nie. Maar nie Bethany nie. Na slegs 26 dae was sy terug op haar branderplank!
Sy skryf toe in vir kompetisies en is in ’n stadium gereken as een van die top 50 vroue branderplankryers in die wêreld! Daar is ook ’n fliek oor haar lewe gemaak met die titel Soul Surfer. Was sy soms gefrustreerd? Natuurlik. Sy het nog meer as die gewone hindernisse gehad deur sonder ’n arm te leer branderplankry en met die bestes mee te ding. Maar sy het geleer om haar vrese te bowe te kom en moeilike situasies te oorkom. Een van die dinge wat haar gehelp het, was haar geloofsvertroue in haar God.
Die belangrikste ding wat ons moet bly onthou, is dat elkeen ’n keuse het om jou lewe te verryk soos Bethany, of jy het ’n keuse om uit te klim en nie weer op jou branderplank te klim nie.
Hier is drie “R”e om te help: RESULTAAT, RITME en RYKDOM.
RESULTAAT: Daar is ’n spreekwoord: As jy na niks mik nie, gaan jy dit elke keer tref.
As jy helder en duidelik ’n bepaalde resultaat of doel in die oog het, weet jy waarna jy streef. ’n Helder resultaat bring helder strategie, bring helder aksies om jou daarheen te neem.
RITME: Dansritme, lewensritme, seisoenritme – dis alles ’n herhalende, gereelde patroon of beweging. Ons het elkeen ’n bepaalde ritme of gewoonte hoe ons elke dag of week of maand hanteer. Maar al die ritmes is nie effektief nie. Om jou beste jaar te beleef, moet jy soos ’n atleet ’n goeie ritme hê tussen oefen en herstel.
In hulle navorsing wys Tony Schwartz en Jim Loehr daarop dat ons nie net ons tyd moet bestuur nie, maar veral ons energie. Dit doen ons deur ritmes in te bou vir sukses.
RYKDOM: Rykdom is veel meer as net finansies. Ons dilemma is: ons meet ons rykdom aan ander mense se prestasies. Dan dink ons: “As ek net dit of dat bereik, dan sal ek…”
Almal kan dink oor ’n tyd waarin jy intens iets begeer het, gedroom het as ek dit sal hê, gaan ek gelukkig wees. Miskien ’n ander motor, ‘n belangriker pos by die werk, ’n ander huis, selfs ’n ander man of vrou… Maar as jy dit dan kry, is jy ook nie noodwendig langer gelukkig nie.
Hierdie verskynsel word die hedoniese trapmeule oftewel hedoniese aanpassing genoem. Dis ’n teorie wat beweer dat ’n mens terugkeer na jou vlak van geluk ongeag wat met jou gebeur om jou gelukkiger of ongelukkiger te maak. Gelukkig wys navorsing dat ons kan aanleer om gelukkiger te wees en dus meer innerlike rykdom te ervaar. Jou vlak van geluk kan aangeleer word om meer gelukkig te wees in watter situasie jy jou ook al bevind.
Rykdom lê vir my nader aan wat die bekende prediker Charles Spurgeon eendag gesê het: “It’s not how much we have, but how much we enjoy, that makes happiness.”
Om rykdom te ervaar, is om die kuns van waardering aan te leer. Om te waardeer wat jy het en beleef.
So: Besluit watter resultaat wil jy beleef, bepaal die ritmes wat jou daarmee en met jou lewensgeluk gaan help. En moenie vergeet nie, daar is oral rykdom rondom en in jou!
The Message stel dit treffend: “God can pour on the blessings in astonishing ways so that you’re ready for anything and everything, more than just ready to do what needs to be done” ( 2 Corinthians).
(Verwerk uit die RSG onderhoud met my
Ons en die onderwys 6 Januarie 2019
Johan van Lill praat met dr. Jannie le Roux oor ’n fokus vir jou onderwysjaar in 2019. Hoe kan jy seker maak dat jy die jaar op die regte noot begin? Soek hier)
Wonder: Ons het mos net soveel tyd… kyk hier