Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

MISKIEN MôRE?

Onlangs ry ek met ons tuinman verby ‘n groep mense wie by ’n robot wag vir werk. Ek vra vir hom of hy ook al so moes wag. Hy sê “ja!” Voordat hy by my en ander mense werk gekry het, moes hy ook so wag, elke dag.

Toe vra ek hom waaraan hy gedink het as hy die dag nie werk kry nie.

Hy is ‘n oomblik stil. Toe antwoord hy. “I think: maybe tomorrow…”.

Dis hoe ons gedagtes ook werk rondom HOOP. Miskien is môre die Groot Dag. Miskien gaan ek môre ‘n werk kry. Miskien is my groot deurbraak môre. Miskien verander my hele lewe môre. Miskien tel my besigheid môre op…

Jesus se dissipels het geglo dat sy wederkoms naby is, dat hy hulle gaan kom haal. Hulle het vasgehou aan “miskien môre!” Maar intussen is Jerusalem en die tempel verwoes deur die Romeine en deesdae versnipper en verskeur deur al die belangegroepe.

Wat gebeur as ‘n mens teleurgesteld word in jou verwagtinge? 

Jy weet jy moet nou begin verander, maar hoe en waarheen?

In ’n tipiese veranderingsproses gebeur onder andere die volgende:

  1. SKOK EN ONTKENNING: Aanvanklik wil ’n mens hê dat dinge moet bly soos dit was. Mense besef hulle moet verander, maar in die verandering hunker hulle terug na die bekende. Op persoonlike vlak moet jy dalk ’n verandering maak. Dis nie verkeerd om te verlang na wat was nie. Maar vir groei is dit oneffektief en bly jy seerkry. Dit geld ook van organisasies, besighede en kerke.
  2. ONTWRIGTING met gepaardgaande woede of vrees: Ek was onlangs by mense waarvan die man sy werk verloor het en onmiddellik moes die gesin met die helfte minder inkomste klaarkom. Hulle sukkel en werk langer ure en het meer stres en leef tussen woede en vrees. Wat is jou situasie? Die punt is: jy kan nie hier bly en oorleef nie. Hoe moeilik ook al, jy moet beweeg na die volgende fase. In die destydse fliek Shawshank Redemption sê die een akteur: “I guess it comes down to a simple choice, really. Get busy living or get busy dying.” Jy is gevorm om te groei!
  3. ONTDEKKING deur aanvaarding: Die kuns is om op ’n punt te kom waar jy begin aanvaar wat aan die gebeur is en ontdek hoe kan dit jou help groei. Ek moes vir myself al sê: “Dis hoe dit nou is.” Dan kan die ontdekking begin. Dan kan ek honderd keer misluk, maar een of ander tyd gaan ek ontdek in watter rigting ek wel moet gaan. Dis wanneer hoop nader kom as “maybe today!
  4. HEROPBOU deur “commitment”: Dis eers wanneer jy jou verbind om ’n nuwe rigting in te slaan dat die heropbou gebeur. Sir Winston Churchill, die Eerste Minister van Brittanje wat so ’n groot rol gespeel het in die uitkoms van die Tweede Wêreldoorlog, het gesê: “Kites rise highest against the wind – not with it.”

Oor enkele dae vier ons weer Kersfees (ek het hierdie as ‘n nuusbrief gestuur voor Kersfees). Gister het ek iemand raakgeloop wie se man enkele maande gelede oorlede is. Vir haar gaan dit ’n eerste wees sonder hom. Iemand wat sy werk verloor het, het met my gesels oor sy seer en vernedering. ’n Ander het met my gesels oor haar drome vir haar nuwe werk volgende jaar. ’n Jong egpaar geniet die gedagte dat daar volgende jaar ’n baba gaan wees, veral noudat hulle die hartkloppie deur ʼn sonar gehoor het. Elkeen van ons is in ’n ander fase van verandering. Elkeen leef met die HOOP: “Maybe tomorrow…”.

Ek hou van hoe die engel vir die skaapwagters in Lukas 2:11 kom sê het dat die hele wêreld se geskiedenis gaan verander. Nie met ’n “maybe tomorrow” nie, maar met ’n “vandag”. Hierdie GROOT VANDAG wat ons as Christusfees vier, gee regtig hoop vir al ons “maybe tomorrows”.

“Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”

Geseënde Kersfees.


Wonder: Dalk het ons meer hiervan nodig in hierdie tyd. Kyk hier