Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Geestelike leestekens vir DEURBRAKE!

Ons hou daarvan om ‘n deurbraak te beleef!

Dikwels is dit in die vorm van ‘n antwoord op ‘n moeilike keuse, of ‘n nuwe insig. Of dit kan wees dat jy bevry word van iets, of ‘n nuwe rigting kan inslaan.

In Handelinge 16 lees ons dat die Heilige Gees vir Paulus-hulle “verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig” (vs. 6). En toe hulle na Bitinië wou gaan, sien ons “maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie” (vs. 7). Nog later sien Paulus in ‘n gesig ‘n Masedoniese man wat hom smeek dat hulle na Masedonië moet gaan en hulle besluit om wel soontoe te gaan “omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig” (vs. 10).

In ‘n kaart het die bekende professor NT Wright by hierdie plekke ‘n vraagteken gesit (Google images, “Following Paul’s Map and Charting our own Course” soos verwys deur professor David P. Seemuth). Dis waar hulle ‘n volgende deurbraak of rigting gesoek het by God.

Dit het my laat wonder oor “geestelike leestekens”.

Net hier ‘n “vrywaring”: jy het nie ‘n geestelike leesteken nodig om te doen wat God rééds vir ons gesê het nie. Ons weet reeds duidelik God se wil soos Jesus dit aangedui het: Ons moet die Here ons God liefhê met ons alles en ons naaste soos onsself. 

Maar by ander plekke in ons lewe mag ons ‘n punt, komma, vraagteken of uitroepteken beleef:

PUNT: Wanneer die Heilige Gees jou oortuig dis die einde van hierdie seisoen.

Ons is so geneig om agter mense se goedkeuring aan te hardloop en by hulle die antwoorde te soek. Ons is so bang ons gee die sekuriteit van die bekende prys.

Daar kom wel ‘n geleentheid waarin ‘n mens na gebed en vra vir God, net weet: Dis die punt waar ek moet klaarmaak.

Dikwels is dit nadat ‘n mens raad gevra het by iemand wat ‘n kundige is, gebid het daaroor, deur die Bybel wysheid gesoek het, ‘n nuwe behoefte raakgesien het, of net nie meer die bestaande verwagting kan vervul nie, gewag het op die Here, geklop het aan deure.

Dit vra ‘n gewilligheid om te vertrou, al weet jy nie hoe die nuwe seisoen gaan wees nie, jy met hierdie seisoen nou eers moet klaarmaak.

Dit vra gewilligheid om te vertrou, om te stop…en te glo God gaan jou wys waarheen volgende.

KOMMA: Wanneer die Heilige Gees jou help om weer na alles te kyk en fokus te kry.

Dikwels is ons in ‘n oomblik waarin ons net weer wil seker maak of ons met die regte goed besig is, fokus kry, dalk meer hieroor moet leer, of selfs moet wag, en in die regte rigting op pad is.

As ek dink aan ‘n komma-tyd in ‘n mens se reis met die Heilige Gees, staan Jesus se gebedstye vir my uit. Kort-kort het hy uit die skares wegbeweeg en weer gaan stilword en bid. Dan kom Hy weer met hernude fokus en leer die mense. Selfs voor sy kruisiging voel dit vir my na so ‘n komma-oomblik toe Hy gevra het of God die beker van lyding by Hom sou laat verbygaan, en dan bid Hy die komma-maar: “Maar doen nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.” (Mark 14:36).

Dalk is jy nou in ‘n komma-tyd, dan is dit tyd om weer te gaan stil word en bid om wysheid en veral die krag om weer te doen wat jy wéét jy moet doen.

VRAAGTEKEN: Wanneer die Heilige Gees jou laat wonder oor waarheen of wat volgende.

Die kaart van Paulus se reis is vol vraagtekens waar hulle roete onseker of rigting onopgelos is.

Ek lees die interessantheid dat Paulus eintlik Spanje toe wou gaan. Tog het die Gees hom só gelei dat hy uiteindelik in Rome kom om die nuus van Jesus as Koning voor die destydse keiser te bring. Die keiser moes hoor hy is nie eintlik die koning nie, Jesus is!

Dalk is jy nou in vraagteken-tyd. Heilige Gees, waarheen nou?

Dit vra gewilligheid om jou eie planne en drome opsy te skuif en by God te hoor wat nou volgende – en dan net daardie treetjie te neem en weer te vra: Wat volgende?

UITROEPTEKEN: Wanneer die Heilige Gees jou laat besef: Ek móét dit doen! En jy dit dan doen!

Daar kom ‘n tyd wanneer ‘n mens al die raad gevra het wat jy kan, strategiese planne gemaak het, navorsing gedoen het en die feite gekry het, en dan net diep in jou binneste weet: Dis wat ek nou moet doen. Selfs al wou jy eintlik iets anders doen!

Dikwels is dit ‘n gevoel van jou lyf wat jou laat voel al voel jy gestres, voel dit net “oop” om dit te doen. Want wanneer jou lyf voel of jy al hoe meer benoud en “toe” voel, is dit nog nie tyd vir jou uitroepteken lewe nie. Dis soos ‘n vriend vir my gesê het: luister na jou hart!

Dikwels is dit net die wete: Ek kan nie langer uitstel nie, ek kan dit nie langer verduur nie.

Dikwels is dit net ‘n moment van absolute helderheid, ‘n heilige AHA!

Wanneer jy weet DIS DIE OOMBLIK OM DIE TREE TE NEEM, dan moet jy dit doen met al die vertroue in God en al die passie waaroor jy beskik.

So tussen al die geestelike leestekens deur, onthou asseblief wat Paulus herinner: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God…” (Romeine 8:14)

Mag jy DEUR DIE GEES ‘n DEURBRAAK BELEEF!


Verwonder: Dis Gód wat die deurbrake geeluister hier.