Belangrike kennisgewing: Covid-19 is 'n ernstige siekte. Vir meer informasie, besoek: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

Nie VREES se slaaf!

Onlangs het ek die begrafnisdiens gelei van ‘n uiters begaafde violis wat onverwags oorlede is. Op die sluimerskerm (“screensaver”) van sy selfoon was die woorde van die trefferlied “No longer slaves”. In Afrikaans vertaal: Ek is nie langer ‘n slaaf van vrees nie, ek is ‘n kind van God.

Dit blyk dat angs stoornisse in verskeie wêrelddele die nommer een geestesongesteldheid is. In die VSA is dit die nommer een geestesongesteldheid waaraan blykbaar 40 miljoen mense ly! En dit lyk volgens die internet in Suid-Afrika met ons unieke uitdagings nie beter nie. Die punt is: mense is angstig.

Angstigheid maak jou ‘n slaaf van vrees. Jy voel jy kan nie ontsnap nie. Vrees is die boeie wat jou hande agter jou rug vasmaak. Vrees beroof jou van jou gevoel van vryheid. Dit maak jou nog meer angstig sodat jy in ‘n bose afwaartse emosionele draaikolk begin verdrink.

Dit voel vir my een van die sterkste drywers van vrees is die gevoel: Ek het nie vryheid nie!

Die moeilikheid is dat ons onsself dikwels vryheid ontneem omdat ons toegee aan die vyand van ons vryheid.  En hierdie vyand het een naam, naamlik VREES.

Dis vrees wat mense gevange hou in ‘n sisteem wat nie menswaardig is nie – en dit kan ook ‘n stelsel van die politiek of selfs georganiseerde godsdiens wees. Dis vrees wat jou slagoffer hou in ‘n vreesaanjaende toksiese verhouding. Dis vrees wat mense in ‘n gemaksone laat bly en nie die risiko laat loop van nuwe potensiaal nie. Dis vrees wat veroorsaak dat jy nie weer wil probeer nie, want jy wil nie weer die seerkry van mislukking ervaar nie. Dis vrees wat veroorsaak dat jy by jou groep of bende se ongesonde waardes bly, want jy is bang jy word verwerp. Dis vrees wat veroorsaak dat jy dink “wie is ek om dit te doen?” omdat jy jouself minderwaardig skat.

Op een of ander manier word ons gereeld ‘n slaaf van vrees.  Dan dikteer vrees ons lewe.  Dan bepaal vrees ons toekoms. Dan bepaal vrees dat ons eendag gaan sê: “Ag, het ek maar net die kans gewaag”. Uiteindelik bepaal vrees ons identiteit. ‘n Slaaf was oorgelewer aan die onbillike optrede van sy of haar eienaar. As slaaf kon tot jou kinders van jou weggeneem en verkoop word. Die ergste van slawerny is dat iemand anders oor jou hele lewe en toekoms die sê gekry het.

Ek dink dís wat vrees aan ‘n mens doen. Jou vrese, of dit nou werklike gevaar of net in jou eie gedagtes is, begin die sê kry oor jou hele lewe en toekoms. Jy word beroof van jou vryheid en jy word beroof van jou identiteit.

Gelukkig herinner Paulus my in Galasiërs 4:7 dat Jesus Christus my identiteit en dus my lewe totaal verander het. Hy skryf: “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.”

Elkeen wie in Jesus glo en sy of haar lewe vir Jesus gee, word vrygemaak óók van die slawerny van vrees. Jy word vrygemaak vir jou eintlike identiteit: KIND VAN GOD!

Want dié God wat ons nou sy kinders noem, se liefde vir ons is oneindig groter en magtiger as wat enige vrees kan wees. As ons in hierdie liefde inbeweeg, lig ons vertroue en kry ons hoop in nuwe moontlikhede. Ons ontvang geloof om te kan doen wat ons moet doen om die mooie na vore te bring.

Ek is vrygemaak om weer te onthou ek kom van God, en ek is bedoel vir God. Ek is vrygemaak om te besef: Dis nie die arms van vrees wat my elke dag hoef vas te knel nie, dis die omhelsing van God wat my beskerm en die omarming van God wat my bevry. Dis God wat my uitlig en my oplig. Ek is vry. Vry om God se kind te wees. Vry om as God se kind nuut te leef.

En ek mág God vra: “Help asseblief!”


Verwonder: Die lied waaroor ek hierbo geskryf het – luister en kyk hier.