Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Kersdag en ‘n Israel Pelgrimsreis

Om mense saam te neem na Israel, en natuurlik self te gaan, bly vir ons ‘n persoonlike roeping. Want elke keer is dit vir ons én vir die mense saam met ons ‘n unieke pelgrimsreis.

Ons was weer in November 2022 daar met ‘n besondere groep mense.

Natuurlik kan ‘n mens in enige ander deel van die wêreld en ook tuis ‘n pelgrimsreis ervaar. Die besondere om in Israel te wees, is dat dit is waar ons kan sien en beleef waar Jesus Christus op aarde geleef het. Dis waar Hy mense aangeraak en beïnvloed het. Dis ‘n pelgrimsreis om in die voetspore van Jesus te loop. Jy sien die wêreld ‘n bietjie deur Jesus se oë. En jy sien Jesus ook deur die oë van daardie wêreld. Jou Bybel word as’t ware meer werklik sodat as jy dit daarna lees, jy dit nou met nuwe oë sien.

Die verrassing is dat hoewel ons tuis Kersdag op 25 Desember vier, voel dit elke keer vir ons na Kersdag as ons by Jesus se geboorteplek aankom, ongeag die datum. Ek dink dis omdat ons onthou van Jesus se geboorte asook ons daarwees in daardie omgewing, as’t ware ineenvloei sodat dit ontsettend werklik voel. Soos vir: Ek is hier! Ek was daar!

Om die volle ervaring van Israel te hê, moet dit vir jou persoonlike missie, ‘n persoonlike roeping wees om te gaan. Dit moet as’t ware ‘n móét word. Want jy kan gaan as gewone toeris, of as historikus, of wat ook al. Maar as dit vir gaan om jou persoonlike verhouding met Jesus te verdiep en vir God Drie-enig te ervaar, gee dit ‘n ander dimensie aan jou reis.

Jy beleef meer as dit vir jou ‘n missie is om iets van God te beleef.

Die gevoel van ‘n missie of roeping laat ons geestesoë verhelder, soos Paulus destyds gebid het in Efesiërs 1: 18 “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.”

Hierdie reis het ons net weer laat besef: God het nog nooit opgegee op ons nie. In die wêreld van hoop-loosheid stuur God Jesus as ons Hoop.

(Deel van die gesprek met Lizelle de Bruin – RSG – op Kersdag 25 Desember 2022)

Ons het reeds ons toerprogram vir ISRAEL en Jordanië (Petra) ontvang – skryf in by https://inspireguroux.com/kom-toer-saam/