Is ons al DAAR?
In een van die skreeusnaakse tonele in die 2004 animasiefliek Shrek 2, vra Donkie aanhoudend vir die groen monster, Shrek, en die prinses, Fiona: “Are we there yet?”
Dis ’n vraag wat ons sovele kere terwyl ons reis vir ons kinders moes antwoord toe hulle klein was. As ek terugdink, vermoed ek dat ek dit ook gevra het. Baie kinders gaan dit hierdie vakansie ook vra op pad na Kersvakansie-bestemmings.
Die afgelope tyd het ek heelwat mense hoor sê dat hulle wens hierdie jaar was al verby. Dis net ’n ander manier van sug: “Is ons al daar?” Al weet ons dis net ’n jaartal wat oor ’n paar weke verander, help dit ons gemoed om soos ’n rekenaar te reset sodat ons kan sê ons gaan volgende jaar met nuwe hoop begin. Vanjaar se hoop het al soos ’n sandtydhouertjie deurgeloop en daar is net korreltjies oor.
Na aanleiding van haar navorsing, het Angela Duckworth, professor in psigologie aan die Universiteit van Pennsylvania, ’n boek geskryf met die titel:
GRIT: The power of passion and perseverance
Toe sy nog wiskunde vir skoolkinders geleer het, het sy iets baie interessants opgemerk. Die mees suksesvolle studente was nie altyd diegene wat ’n natuurlike talent vir wiskunde het nie. Die mees suksesvolle studente het ’n vermoë vertoon wat sy “grit” noem. Grit is die langdurige uithou en aanhou om met ’n sekere doel te slaag. Dis durf en vasbyt totdat jy slaag.
So van vasbyt gepraat: In ’n vorige gemeente doen ek besoek by ’n plaashuis. Die tannie het die heerlikste melkterte gebak, daardie soort wat boontoe uitbult. Sy roep die oom en vir my om by ’n klein tafeltjie te kom sit en eet van dié heerlike melktert. Elkeen kry omtrent so ’n vyfde van die tert. Ek eet myne met ’n vurk. Die oom vat syne met die hand.
Toe ek afkyk om te kyk waar moet ek die volgende stukkie raakvurk, voel ek dis asof ek moet opkyk. Ek kyk op en sien dat die oom nie sy stuk tert lekker kon hap nie. Hy trek dit toe uit om beter te hap, maar in die proses bly sy valstande vashaak in die tert! Daar kyk ek vas in hierdie stuk tert met die tande op die punt terwyl hy daarna kyk…
Toe werk hy weer tert en tande terug in sy mond om beter te byt én die stuk af te byt. Dis nou vasbyt!
Angela noem grit: “passion and perseverance for a long-term goal”
Toe sy dit begin toets by soldate en by ander organisasies en mense wat uitstyg, kom hierdie vermoë telkens na vore. Haar argument is dat ’n mens nie jouself kan dwing om geïnteresseerd te wees in iets waarin jy nie belangstel nie. Maar jy kan aktief jou belangstelling ontdek en verdiep. Dan moet jy aanhou daarmee. So wanneer jy dít kry waaroor jy passievol is, kan jy die moeilike en dikwels frustrerende ding doen wat jou beter maak. Dis om in hierdie tyd ook die hoop en veerkragtigheid te behou selfs ten spyte van teenslae.
Mens sien dat atlete wat goed presteer hierdie vermoë ontwikkel. Soos om vroeg te bly opstaan en te draf in die koue en reën met die oog op ’n Olimpiese deelname. Die meeste van ons wil graag die sukses beleef, maar wil nie die moeite wat daarmee gepaardgaan ook doen nie.
Dis juis hierdie voortdurende aanhou met die passie of liefde vir wat ons wil beleef wat ons gaan help met sukses.
Angela sê wat haar die meeste verras het, is dat gritty mense ’n besef van ’n doel of roeping het wat groter as hulleself is.
Dis nogal wat Jesus se volgeling kan help totdat Hy weer kom. Petrus leer ons dat net diegene met geestelike grit gaan gereed wees vir God se koms. Hoe jy motivering hou, is om ’n doel te hê wat groter as jouself is.
Hierdie doel sal volgens Petrus dan wees om te “leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” (2 Petrus 3:13).
Want Jesus het nie net met sy geboorte na die aarde gekom nie. Dis net die voorsmakie van Sy koms. Hy kom weer!
As Jesus se volgelinge vra ons: “Is ons al dáár?”
Nog net ’n bietjie vasbyt!
WONDERLIKE HUMOR: Kyk hier na die videogreep uit Shrek 2: “Are we there yet?”