Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

Moenie dat jou geloof ge-“HACK” word nie!

Het jy ook al die sinkende gevoel beleef dat jou Facebook of e-posse of blog ge-hack is? Of dat daar sogenaamd onder jou naam e-posse na almal gaan wat geld vra, of skakels na obskure webtuistes gee?

’n Vinnige internet soektog wys dat hack se betekenis oorgeskuif het van ’n rowwe kap, sny of hou, na die onwettige inbreek op rekenaars of rekenaarnetwerke deur die beveiliging te omseil. Moet sê dat die effek van beide verduidelikings nogal dieselfde ervarings gee!

Verlede jaar het ek van een skootrekenaar na ’n ander oorgeskakel. Ewe oulik het ek gedink ek het al my e-pos inligting oorgedra. In my verweer moet ek sê die program wat ek gebruik het, het so beloof. Net om daarna te ontdek ’n deel van my e-pos lewe en kalender is skoonveld. Niks kon dit ongedaan maak nie. Ek het effektief myself ’n rowwe hou toegedien…

Om alles te kroon, kry ek die einde van laasjaar dié boodskap: A hacker uploaded malicious content to your website ‘jannieleroux.co.za’. En daar word my blog geblok. Netso. Iemand wat êrens in die wêreld sit en programme skryf wat ander mense skade berokken, het my blog ook as deel van sy of haar statistiek.

“Toe maar, Jannie,” troos my vriend. “Jy is net een van miljoene wat dit oorkom.”

Eintlik is dit nie wat ek wou hoor nie. Ek wil nie net ’n anonieme nommer of ’n stukkie statistiek wees nie. Ek bedoel, as die persoon dan nou iets teen my het – wys dan net jou gesig sodat ek kan weet en kan vra: “Hoekom?”

Blykbaar is daar ’n hackers attack elke 39 sekondes wat 1 uit 3 Amerikaners elke jaar affekteer.  Verlede jaar is meer as 6.5% mense se identiteit gesteel en misbruik. Elke dag kom daar 230,000 nuwe goggas by. Die skelms het so slim geraak dat hulle bowendien jou data kan kaap en dan moet jy ’n losprys betaal om dit weer terug te kry – 4000 mense word per dag só geraak. (As jy in sulke statistieke geïnteresseerd is, lees hier.)

Dié aaklige mense steel egter nie net ons data nie.

Hulle gee ons ’n knou waar dit nog seerder is:

  • Ons tyd
  • Ons vriende wat ons help se tyd
  • Ons vrede
  • Ons vertroue in ons medemens
  • Maak gevoelens los wat kon gebly het – irritasie, aggressie, woede, magteloosheid…
  • Ons privaatheid
  • Ons vryheid

Dis egter nie ’n nuwe ding nie. ’n Mens beleef hacking gereeld in jou geloofslewe ook:

  • Twyfel meteens of God jou toekoms gaan beter maak
  • Doen ’n verkeerde ding wat jy in retrospek besef totaal dom was
  • Gee jou oor aan jaloesie, afguns, woede, drinkery, rusie (vgl. tekste soos Rom.13:13)
  • Jou lewe neem die plek van jou tyd saam met God in
  • Jy vergeet dat Jesus saam met jou is…

Noudat ek daaraan dink: ek wonder hoeveel kere mors ek eintlik God se tyd en liefde met wat ek aanvang?

Toe ek so half nie weet wat om nou verder te doen nadat ek my vriend geskakel het om die blog hopelik weer reg te kry nie, het ek besef ek moet met ’n breër perspektief kyk. Ek moenie toelaat dat hierdie onbekendes my geloof in God en my medemens steel nie. Vir my was dit die tyd om weer opnuut te kyk na wat ek doen en wat regtig belangrik is. Om weer te vra: is wat ek doen vir Jesus belangrik en gaan dit Hom verheerlik?

Die één ding wat hierdie bose mense nie van ons kan hack nie, kom van Gód se kant.

Ons kan dit gelukkig nie verloor nie. Nadat Paulus ’n hele klomp goed genoem het wat ons geloof dalk kan hack, eindig hy met hierdie vastigheid wat van God se kant kom (Romeine 8:39):

“… [niks] kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Niks in hierdie jaar – en in die res van ons lewe – kan ons van hierdie liefde van God beroof nie!


WONDERLIK: Hierdie video herinner my om net weer te besef…