Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

“KISS” is nie net soen nie!

Wat my nog altyd fassineer, is dat twee mense ontsettend baie tyd en aandag aan mekaar gee voor hul troue, net om kort daarna te dink dinge moet nou vanselfsprekend gebeur. Daarna gee hulle nie meer so baie tyd en aandag aan mekaar en hul verhouding nie. Dan kwyn die liefde soos ’n plantjie wat verlep.

Floreer beteken om te blom, om vrug te dra, om ’n toekoms te verseker soos ’n plant wat saad voortbring. In Engels is die woord “thrive”. Floreer is om welig te groei. Jy kan in die plantewêreld sien so ’n plant of boom is gelukkig! So kan jy ook sien wanneer twee mense in hulle liefdesverhouding uitbundig gelukkig is, met ander woorde dat hulle floreer! Hulle vereer God met hierdie besondere verhouding wat ons ’n huwelik noem.

Ek verduidelik dit met die woord “KISS”. Dis die Engelse woord vir soen, maar dis ook al gebruik vir Keep It Simple, Stupid. Ek gebruik KISS sodat verliefdes en getroudes nie net sal onthou om te soen nie, maar ook vier belangrike beginsels sal bly naleef OM TE FLOREER IN HUL VERHOUDING.

Het jy geweet daar is meer as ’n 100 miljard senuweeselle in jou lippe? As jy soen, laat weet hierdie senuweeselle dat die goedvoel-hormone vrygestel moet word. Onder andere kom dopamien los in jou brein en gee jou die gevoel van plesier. Jou liggaam skei ook die hormoon oksitosien af, wat ondermeer stres laat afneem, en die gevoel gee van geluk en die begeerte om by mekaar te wees. Dit verhoog die gevoelens van konneksie.

KISS is die akroniem vir die volgende: Konneksie, Identiteit, Saam, Spiritueel.

Konneksie. As jy ’n florerende en gelukkige liefdesverhouding wil hê, moet jy bly werk om hierdie konneksie ten alle koste te behou.

Konneksie het alles te make met hoe en wat jy kommunikeer. Gary Chapman se vyf liefdestale beskryf dit baie mooi. Hy sê elkeen van ons het ’n primêre liefdestaal wat jou meer geliefd laat voel as jou maat op daardie manier met jou kommunikeer, nl.: Om geskenke te ontvang; kwaliteit tyd met mekaar spandeer; woorde van bevestiging vir jou maat; dade van diens; en fisiese aanraking.

Ons is geneig om met ons eie voorkeur-liefdestaal met ons maat te kommunikeer, en dis heel dikwels nie jou maat se voorkeur nie. Jy floreer eerder byvoorbeeld op fisiese aanraking en sal altyd aan jou maat wil raak. Hoewel jou maat moet leer om aan jou te bly raak, moet jý doen wat jou maat se voorkeur is: jou liefdesmaat wil dalk woorde van bevestiging hoor, soos: “Jy is die beste ding wat ooit met my gebeur het!” Ons moet natuurlik al vyf hierdie tale gereeld beoefen om liefde te wys.

Mense verskil van mekaar, raak kwaad omdat die ander een nie jou punt insien nie. Dan gaan hulle die Ystydperk binne soos ysbere wat hiberneer en praat vir dae aaneen nie met mekaar nie. So word hul liefdeskonneksie verbreek.  Natuurlik mag ons elkeen ’n eie standpunt hê. Maar as julle verskil, vra dan: Wat is die beginsel? Dit help om konneksie te verseker.

Identiteit. Wanneer ons trou aan mekaar beloof, beteken dit nie dat jy nou jou identiteit prysgee nie. Jy behou jou eie identiteit én julle werk saam aan ’n ons-identiteit.

Huweliksmaats is mekaar se vriende, maar hulle het ook die dieper identiteit van gedeelde waardes. Hulle vorm ’n liefdesvennootskap waaraan hulle lewenslank bly werk. Almal sê: “Ek wil ’n gelukkige huwelik hê”, maar jy moet moeite doen om die waardes wat julle vir die volgende 60 plus jare wil nastreef, uit te spel. Dit vorm die basis van julle nuwe identiteit. Dwarsdeur my ouers se huwelik het hulle altyd wanneer hulle gestap het, hande vasgehou. Hulle was 60 jaar getroud en my pa het die dag na hierdie 60ste viering van hulle huweliksliefde gesterf. Ek sien in my geestesoog steeds hierdie twee mense wat so hand aan hand loop. Dit het deel van hulle identiteit gevorm.

Saam. Saamwees, saamdink, saamdoen, saamdroom. As julle so besig raak dat daar nie meer tyd is vir saamwees nie, hou hierdie liefdesverhouding op om te groei. Doen gereeld iets saam, soos om vakansie te hou, of te toer in ’n ander deel van die land of wêreld, of stap saam in ’n kunsgalery rond en beleef saam ander mense se uitdrukkings van die lewe. Saam-belewenisse gee die stories wat julle met mekaar bly deel.

’n Florerende seksualiteit bring ook dieper saamwees-ervarings. Een jaar is ek die spreker by ’n vrouekamp en ek vertel vir die dames dat ons eerder moet praat van “sensueel” as van seksueel. Een sit so reg voor my en luister aandagtig. Meteens sê sy kliphard na aanleiding van ’n advertensie wat in daardie tyd op televisie was: “Oh, I love it when you talk foreign to me!”

Dit bring my ook by die gedagte van humor. Om saam te lag gee soveel wonderlike gelukshormone af dat liefdesmaats wat saamlag, meer liefdevol voel.

Spiritueel. Dit  is eintlik die basis of fondament van ’n florerende liefdesverhouding.

Prediker 4:12 sê: “Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”

In ’n florerende huwelik is die sêding, “Two’s company, three’s a crowd” nie heeltemal waar nie. God is die enigste Derde Party toegelaat in ’n huwelik. ’n Florerende liefdesverhouding het regtig die genade van God nodig. Liefde, sê Galasiërs 5 vir ons, is bowendien ’n vrug van die Gees. God gee vir ons die geskenk van liefde en ons is verantwoordelik om hierdie liefde te bly koester.

Dis belangrik om God saam te beleef, om saam kerk toe te gaan of net saam oor of met God te praat. Bid saam vir wysheid. Sit ritmes en rituele in plek wat jul verhouding met God help groei. En mag julle saam die seën van God in oorvloed beleef, sodat julle vir ewig en altyd bly floreer!

(Hierdie stuk is ‘n verkorte weergawe van die 8 April RSG Sondagjoernaal se gesprek met my – jy kan hier na die potgooi luister)


WONDERLIK: Dis nogal mooi hoe mense vir mekaar hulle liefde betoon soos in hierdie video.