Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

Gelukkige GEWOONTE van GELOOF

In die 2012 New York Times beste verkoper, “The Power of Habit”, verduidelik Charles Duhigg, besigheidsverslaggewer, hoe ons gewoontes vorm en hoe die gewoontes ons vorm. En natuurlik hoe om die gewoontes te verander.

Hoe vorm ’n gewoonte-lus (habit loop)?

  1. Leidraad: dis iets wat ons brein aktiveer om in die outomatiese aksie in te gaan waar ons ’n gewoonte het
  2. Roetine: Dan doen ons die gewoontehandeling. Dit kan fisies, verstandelik of emosioneel wees. Die gewoonte is vas gevorm aan die leidraad. So jy doen dit outomaties sodra die leidraad daar is.
  3. Beloning: Nou is jy tevrede a.g.v. die leidraad en die roetine en so versterk die gewoonte.

Om die gewoonte te vorm of te verander, is dit belangrik om te let op wat die leidraad is wat aanleiding gee, asook watter behoefte beloon word. Dan kan jy die roetine verander om ‘n ander nuwe gewoonte te laat inskop sodra jy weer daardie leidraad het.

Nou die interessante. Ons het al besef dat party middelafhanklikes terugval op ou gewoontes, maar daar is bv. alkoholiste wat ten spyte van erge stres tog sober bly. Die geheim, of die faktor vir sukses is – geloof!

Wat navorsing wys is dat geloof, in hierdie geval die geloof dat hulle stres kan hanteer sonder alkohol, van deurslaggewende belang is.

Nie net vir jou geloofslewe nie, maar vir jou suksesgewoontes is dit belangrik om te weet:  die leidraad, roetine, beloning EN GELOOF kan jou help om te floreer.

Om suksesvol te wees, moet ons eenvoudig glo dat ons dít wat ons as ons doelwitte stel, kán bereik. So groei ons in sukses.

En om die wonderwerk van God se hulp te beleef, moet ons dus eenvoudig glo dat God saam met ons sal wees en help. So groei ons in geloof.

Die dilemma is: ons dink ons geloofsvertroue gaan vanself gebeur. Maar ons moet doelbewus die roetine hê wat ons gaan help om te bly glo God gaan by ons wees en ons help. Sodra die leidraad van byvoorbeeld bekommernis daar is, moet ons in die geloofsgewoonte wees wat ons vertroue in God gaan bly versterk. Ons moet dadelik aandag gee aan ons aanvanklike twyfel om dit met die gelukkige geloofsgewoonte hok te slaan!

Wanneer ons wonder oor geloof…wat groei na twyfel… wat groei na ongeloof… is dit ’n (slegte) GEWOONTE!

MAAR: gewoontes kan verander na goeie of gelukkige gewoontes – as ons GLO, kan dit twyfel oorwin!

WAT IS GELOOF?

Geloof is eenvoudig VERTROUE.

Dis die vertroue dat ek met die regte gewoonte wel in ’n beter plek in my lewe sal wees.

Dis die vertroue dat my vermoëns geskik is en dat ek sal slaag as ek in die rigting van hierdie doel werk.

Dis die vertroue dat dinge vir my sal uitwerk.

Ons vertroue dat ons met die gelukkige gewoonte in ’n beter plek in ons lewe sal wees, word versterk as ons ons vertroue in Jesus Christus bly versterk.

Daarom kan Paulus in die gewoonte wees om te sê én te weet: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil. 4:13).

Die geestelike aspek van geloof versterk ons geloof in die algemeen sodat ons ons besigheidsbekommernis en ons gesinsbekommernis en ons algemene bekommernisse – ons héle lewe dus – met Jesus deel, in die vertroue dat Jesus sal help.

Geloof is eenvoudig VERTROUE IN JESUS – wat ons deur die regte gewoonte bly versterk.

Coach Wooden was een van die top afrigters – volgens baie was hy die beste – in Amerikaanse basketbal. Hy was ook ’n diep gelowige Christen.

Ek hou van hierdie aanhaling van hom:

“We must have faith that if we do the things we know we should do, things will work out as they should. This doesn’t mean that they will necessarily be the way we would want them to, but as they should. We should not expect more than that.”Coach John Wooden.

Ons moet die geloofsvertroue hê dat dinge sal uitwerk soos God dit wil hê.

’n Pa wat waarskynlik al moedeloos was met al die soeke na hulp vir sy kind wat aan ’n versteuring gely het, gaan soek hulp by Jesus se dissipels.

Ek moet bieg dat ek meesal eers self alles probeer oplos voordat ek na Jesus gaan. So ek moet bly werk aan die gewoonte om dadelik na Jesus te gaan. Om, as ek enigsins begin moedeloos of magteloos voel, of selfs te twyfel, dadelik soos hierdie pa te sê: “Ek glo, help my in my ongeloof!” (Markus 9:24).

Kom ons probeer elke dag die gelukkige gewoonte in te oefen om vir Jesus te sê: “Ek glo, help my in my ongeloof!” Totdat ons mosterdsaadjie-geloof al groter in Jesus groei.


WONDERLIK: Sy het destyds ‘n bietjie geloof bymekaargeskraap om tog te kyk of haar droom kan gebeur. Kyk hier na die verrassing. En hierdie ene wys haar droom-optrede.