Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

RADIKALE REGMAAK!

TEMA: RADIKALE REGMAAK

2 Konings 6:1-7

(Na aanleiding van preekreeks deur Craig Groeschel)

Het almal al iets verloor wat hulle nie bedoel het om te verloor nie?
Die algemene ene is waarskynlik sleutels… Ek het ook al gesien in die plattelandse gemeente waar ons was dat iemand staan en gesels het en sy Bybel en gesangboek op die kar se dak gesit het – en toe daarvan vergeet het en wegry en dis nog op die dak van die motor….
Niemand het sovêr ek weet hulle eie goed al doelbewus vir hulleself weggesteek nie.
In hierdie Skrifgedeelte lees ons hoe ’n leerlingprofeet die byl (dalk die kop?) verloor. En dit was mos nie bedoel nie. En ek wonder: hoekom is hierdie wonderwerk opgeteken?
Toe ek hierdie wonderwerk van Elisa lees, besef ek weer hoe baie wonders deur hom gebeur het. Die weduwee se kruik het vol olie geraak en gebly, ’n kind is uit die dood gered, water is reggemaak, Naäman is genees… en so kan ons aangaan.
Wat duidelik raak, is dat God deur Elisa werk. Elisa is God se verteenwoordiger op aarde, so as Elisa iets genees of regmaak, is dit God wat aan die werk is. Dis God persoonlik.
Die wonderlike lyn wat ons heeltyd in hierdie verhale sien, is hoe God dinge herstel. Hoe God genees. Hoe God die Een is wat regmaak wat verkeerd is. Radikaal Regmaak.
So die een ding wat ons duidelik moet vashou as ons hier interpreteer is:
GOD MAAK RADIKAAL REG
Hoe pas dit by hierdie gedeelte?
Die boek Konings is gerig aan die volk Israel wat in ballingskap is in Babilonië na 586 v.C. Dit kom voor hierdie boek is geskryf sodat die volk wat wonder waar God is, kan onthou dat God omgee. In die woorde van netnou: GOD MAAK RADIKAAL REG.
In hierdie gedeelte het die plek waar Elisa jong profete oplei, te klein geword. Hulle stel voordat hulle by die Jordaan ’n groter plek bou. Aanvanklik was Elisa, waarskynlik vanweë sy ouderdom, nie gereed om saam te gaan nie. Maar hy stem tog later in. So dis ’n gewone situasie van groei en vooruitgang.
Maar dan gebeur die ongeluk…
Hulle kap bome af, soos ons gelees het en die volgende oomblik verloor die een die byl(kop) in die water. Julle wat al hout gekap het, sal weet hoe dikwels ’n byl se kop loskom. Of selfs die hele byl uit ’n natgeswete hand kan gly.
Dis ’n gewone gebeurtenis. Per ongeluk verloor. Per abuis verloor.
Foeitog, hoor sy woorde: “Ag tog, Meneer, en dit was boonop ’n geleende byl!” (2 Kon 6:5)
Wat jy hier mooi moet hoor, is die desperaatheid van hierdie roep. ’n Byl sou daardie tyd baie werd wees, want dis yster.
Bowendien is dit ’n geleende byl. Dit beteken hierdie leerling profeet sou nie sy studies kon klaarmaak nie omrede hy ander werk sal moes doen om dit terug te betaal.
Ag tog, dis ’n dilemma. ’n Persoonlike nood en krisis.
Verskeie van die bronne wat ek geraadpleeg het, vra: How have you lost your edge? Hoe het jy jou skerpkant, jou passie, verloor?
Ai tog, ons kan besig wees met die dinge van God, maar in die proses verloor ons ons byl. Dis nie bedoel om te verloor nie, dit gebeur net.
Ons het gehoor dat God regmaak. God herstel soos dit moet wees.
Die eerste stap wat ons moet neem, is om eerlik te wees en te erken
1. ERKEN: Ek het dit verloor!
Jy kan dalk sê: Per ongeluk het ek minder aktief en minder passievol vir God geraak. Per abuis het ek my heilige rituele wat my vantevore na aan God gehou het, verloor. Ek doen nog die ding van godsdiens, maar ek het die hart van gebed, die hart van liefde, die hart van getuig, die hart van opgewondenheid om te leef vir God verloor. Ek het van ’n voltydse volgeling van Jesus na ’n deeltydse volgeling geskuif.
Jy kan uitroep: Ag tog, ek het dit verloor…
Wees eerlik waar jy is en sê: Ek het die dissipline om God in sy Bybel te soek verloor. Ek het opgehou tyd maak om stil te raak by God. Ek het opgehou om meer as my gewone dankoffer te gee sodat ek kan onthou alles behoort aan God. Ek het opgehou om God te vertrou om in my daaglikse behoeftes te voorsien. Ek het opgehou om lus te wees om geestelik te groei.
Wat sê jy vanoggend?
Is jy vanoggend eerlik genoeg om te erken jy het dit verloor? Eerlik met jouself? Eerlik met God?
Ag tog, ek het dit verloor…
Ek het al soveel gewone dinge verloor en dan vir God gevra waar dit is. Dan help God my om dit te vind. Hoekom sal ons God nie vir ons geestelike groei ook vertrou nie
Maar ons moet self 100% verantwoordelikheid aanvaar: Erken eerlik: Ek het dit verloor…
2. WEET: Waar het ek dit verloor
Dis opvallend dat die leerling profeet presies kon beduie waar hy dit verloor het. (vs 6)
Om jou byl terug te kry, moet jy weet presies waar jy dit verloor het. Om jou geestelike lewe in die regte rigting te hê, moet jy weet waar jy dit verloor het. Het dit gebeur toe jy opgehou het om elke dag jou Bybel te lees? Het dit gebeur toe ek al hoe minder begin kerk bywoon het? Het dit gebeur toe ek kwaad geword het vir iemand in die gemeente en nie kon vergeef nie? Het dit gebeur toe ek na ’n ou sondige gewoonte terugkeer?
Gaan terug na die plek waar jy dit verloor het – en wys dit vir God.
Waar en wanneer het jy dit verloor?
3. VAT TERUG: Met God se hulp – wat jy verloor het
Elisa gooi toe ’n stuk hout in by die plek waar die byl verloor is en dit het die byl laat bo dryf. Elisa sê toe vir die profeet: Haal dit uit. Die man het sy hand uitgesteek en dit gevat.
Net God kan die wonder doen om die byl te laat dryf.
En ek en jy moet terugvat wat ons verloor het. Al sê daardie stemmetjie in jou dis te laat dit gaan nooit weer regkom nie. Dis nie waar nie. God genees. God herstel. Maar God wil ook hê jy moet dit uittel. Hy sal dit laat uitlig, maar jy moet jou deel in geloof doen.
In Openbaring 2 sê God vir die gemeente van Efese: Openbaring 2:4-5 4Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.
5Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!
As die Here vir jou uitlig: hier is die Bybelstudie wat jy verloor het – dan begin jy weer daarmee al is jy nie lus nie… en die passie sal weer groei.
As die Here vir jou uitlig: hier is jou gebedslewe – dan begin jy weer bid en met God gesels al voel jy nie reg nie… en die passie sal weer groei.
As die Here vir jou uitlig: jy vertrou My nie – dan begin jy jou dankoffer meer maak omdat dit jou vertroue wys dat God sal sorg al dink jy normaalweg hoeveel jy kan spaar… en die passie sal weer groei.
As die Here vir jou uitlig: jy het te gemaklik geraak – dan begin jy vas sodat jy sensitief kan word vir mense wat dit nie so gemaklik het nie – en die passie sal weer groei.
Die Here sal dit uitlig- jy moet dit net vat!
SLOTSOM:
God gee ook om vir ons gewone lewe.
God maak radikaal reg.
God sê in Hebreërs 13:5: “Ek sal jou nooit verlaat nie‚ jou nooit in die steek laat nie.”
Daarom kan Jesus sê:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28).
Dan doen Jesus wonders wat mense regmaak.
In die Bybel is wonderwerke nie vreemd nie, dis deel van die geestelike lewe. Dis deel van ’n lewe saam met God.
Soos die gids in Israel vir ons gesê het: We don’t believe in miracles – we depend on them!
Wonderwerke maak reg wat verkeerd is. Wonderwerke wys na die toekoms waarin God alles sal herstel, ’n nuwe werklikheid. God spesialiseer in heelmaak en herstel… ook in die kleinste dinge in ons lewe. Soos as ons iets verloor…
ERKEN: Ek het dit verloor!
WEET: Waar het ek dit verloor
VAT TERUG: Met God se hulp – wat jy verloor het
God maak radikaal reg!