Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

WOEDE, XENOFOBIE EN DIE 3 P’S

20150930_152508Soos ons weet word Vryheidsdag gevier om ons te herinner dat almal in ons land regverdig behandel word deur te mag stem. Saam met die moontlikheid om te stem, het mense ook gehoop op ander verwagtings, soos om ’n werk te hê en bo armoede uit te styg.

Die dilemma is dat sommige mense hierdie verwagting gebruik as rede om mense van ander nasionaliteite te verdryf en selfs te dood. Sommige gebruik die vrees dat ander mense hulle hul moontlike werk kan ontneem as rede vir al die geweld. Die woord wat ons nou oral hoor, is Xenofobie, wat letterlik beteken “ om vreemdes te vrees.” Daar is egter ook diegene wat gewoon krimineel is en die oomblik gebruik om te baat by die chaos.

Hoewel daar ’n verskeidenheid van redes is hoekom mense tot gewelddadige optrede oorgaan, dink ek ons het ’n situasie waarin die gevoel van magteloosheid oorgaan tot onbeheersde aggressie. Mense se vrese lei hul om afskuwelike dade te pleeg.

Ons moet verstaan dat ons mees basiese ingesteldheid om oorlewing gaan. Hierdie primêre behoeftes om te oorleef, is veral fisiologies van aard, soos die behoefte aan gesondheid, kos en slaap. As jy voel hierdie mees basiese behoeftes van jou word bedreig, skop jou sogenaamde oerinstinkte in, naamlik om te veg, vlug of vries. As jy nie meer weet waarheen om te vlug nie en voel jy kan nie meer ontkom uit die situasie nie, sit die angstigheid om te oorleef oor in die drang om te veg. Daardie drang word aangevuur deur die emosies van aggressie en woede.

Mense mag kwaad word oor iets wat nie reg is nie. Dis nie die probleem nie. Die krisis kom as jy toelaat dat woede destruktief word. Daar is egter beter en positiewe en opbouende opsies moontlik. Dis hoekom die gedrag wat met xenofobie gepaardgaan so onaanvaarbaar is, want ons weet daar is ook ander positiewe opsies moontlik. Mense wat so venynig optree in xenofobie, besef nie dat hulle op langtermyn eintlik almal se vryheid inkort nie. Ook hulle eie vryheid bly in die slag, want ook hulle moet naderhand heeltyd loop met die vrees dat iemand hulle weer gaan seermaak. Dis ’n bose spiraal van vernietiging.

Watter opsies is daar vir gelowiges moontlik om in hierdie situasie hoop te bring?

Kom ons hanteer die kompleksiteit van xenofobie met die krag van eenvoud. Ek wil dit dus beperk tot drie aspekte wat ek ter wille van onthou met die letter “P” sal assosieer.

Nommer 1 is Prioriteite. Jou prioriteite bepaal jou optrede. Jou prioriteite is die weerspieëling van jou waardes. Gelowiges sal mekaar en die land moet help onthou dat die vernaamste prioriteit is om jou naaste lief te hê. Gelowiges sal politici moet bly motiveer om te werk in die rigting van naasteliefde. Dis die gebod wat God gee om mense te help om in vryheid te leef. In die Eksodus 22:21 herinner God sy mense: “Jy mag nie ’n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte.” En Jesus herinner dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. As jou prioriteite die positiewe van naasteliefde weerspieël, groei jy saam in nuwe oplossings.

Nommer 2 is Positiewe wil. Gelowiges is nie magteloos nie. Ons het die beste wapen teen vrees en dit is liefde. Wanneer die liefde van Jesus in jou leef, wil jy die positiewe vir jou naaste en dus letterlik vir die vreemdeling ook. Liefde werk met die positiewe wil dat daar vir ons almal in Jesus lewe in oorvloed is. So wat moet ’n gelowige doen as jy bang óf woedend óf magteloos voel? Kies om die positiewe te wil. Wie die positiewe wil, ontvang die positiewe.

Nommer 3 is Perspektief. Mense wat magteloos voel, se planne is gewoonlik op. Kry mense saam om saam beste oplossings te soek. Die perspektief van iemand anders kan my lewe verryk. Saam kan ons veel meer verwag wat vir ons almal oorvloed bring. Jesus het aanhoudend die perspektief van God se koninkryk van liefde gebring. Dis nog altyd die wonderlikste as mense in liefde mekaar help. En die sleutel tot hierdie koninkryk van oorvloed is eenvoudig: Jy moet die Here jou God liefhê en jou naaste soos jouself.

(Notas van my inspirasie gedagte op RSG Sondagjoernaal van 3 Mei 2015. As jy wil luister, soek my naam en van by www.rsg.co.za  onder Potgooi en Sondagjoernaal, of soek die datum van die uitsending op Sondagjoernaal)