Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Wat van DAG EEN?

“My seuntjie van 18 maande is gisteraand oorlede na ’n asma-aanval,” sê die jong vrou. Dit voel of ’n harde hou my op die krop van my maag tref. “Sal julle vir ons bid?”

“Natuurlik!” antwoord ek. Sy draai om en stap terug na die moederskamer. Ek raak besig met praktiese goed, maar voel heel verward. Glad nie dié ervaring sien aankom nie. Dit was hierdie afgelope Sondag.

Na die doop van ’n ander jong paartjie se baba, nooi ek die jong vrou en haar familie om vir die gemeente te sê wat gebeur het. En vra sommer of ander ook by ons wil aansluit om vir haar te bid. Meteens swerm daar ’n aantal mense wat hulle kom omhels. Skielik maak kleur, kar en klas nie saak nie. Ek maak keel skoon om te bid, maar sukkel om verby die knop in my keel hardop te praat met die Here. Want saam met die pyn is hierdie opregte wys van liefde ook oorweldigend.

Wat ’n dag!

Op ’n manier gee pyn die perspektief van wat werklik saak maak. Dit wat vandag daar is, is nie noodwendig môre weer daar nie. Dis nie vanselfsprekend dat ons mekaar môre in die oë kan kyk en kan sê: “Ek is lief vir jou” nie.

In die Kaap het die pyn van waternood en wegkwyn van plante ook perspektief gebring. Dis nie vanselfsprekend dat water uit ’n onbeperkte bron sal vloei nie. Hier word nou baie menings gegee oor wat bekend geword het as Dag Zero – die dag wanneer daar nie meer water vrylik beskikbaar is nie. Dié dag word heen en weer geskuif afhangend van hoeveel water beskikbaar is. Die vrees bly dat daar werklik ’n dag gaan kom wanneer ons die pyn gaan ervaar dat daar géén water beskikbaar is nie. Ek is nie lief om water te drink nie, maar nou is ek meer as ooit bewus van die slukkies wat ek wel neem.

Elke dag is nie net nog ’n dag nie. Ons weet dit mos. Maar nou meet ons dit aan Dag Zero. Die weervoorspelling word gereeld gekyk. Gebedsgeleenthede word gereël. Ons wonder of ons nader aan of verder van Dag Zero is. Die vraag is:

Watter dag?

Toe keer ’n vriend my voor. “Iemand het vanoggend gesê: ‘Wat as jy nie meer praat van EENDAG nie, maar van DAG EEN?’”

Baie in sy noppies dat hy my kon verras met hierdie wysheid, herhaal hy: “Wat as vandag jou eerste dag is, dag een, van wat jy gedink het eers eendag kan gebeur?”

DAG EEN.

Dis vandag DAG EEN van die proses om hartseer te verwerk, want heel-word moenie uitgestel word nie.

Dis vandag DAG EEN om die geld opsy te sit vir die droom, want anders gaan dit net wensdenkery bly.

Dis vandag DAG EEN om op te hou kwaad en teleurgesteld wees, want dit hou kreatiwiteit en liefde terug.

Dis vandag DAG EEN om ’n nuwe vaardigheid aan te leer wat alles vorentoe sal neem, anders lyk môre dieselfde as gister.

Dis vandag DAG EEN om voluit te glo dat God kán, want vir die een wat glo, kán álles! (Markus 9:23).

Te midde van omstandighede waaroor ons nie altyd ’n keuse het nie, is die Heilige Gees besig om ons te help groei en genees. Met die hulp van die Gees kan ons vandag met DAG EEN begin.

Dit herinner my aan die gesindheid van die Psalmdigter:

“Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees” (Psalm 118:24).

Dis eintlik ’n ELKE-DAG-Gesindheid.

So, staan net ’n oomblik op en sê met volle verwagting: “Dit is DIé DAG!”

Dis immers DAG EEN van die res van jou lewe…


WONDERLIK: Hierdie video herinner my om net weer te besef watter wonders gebeur deur OMGEE!