Is jy bang? WONDERLIK!
As jy nou al vir hoe lank wonder of jy iets moet doen, selfs vir 20 jaar al, is dit nie nou die tyd om iets daaromtrent te doen nie?
Dis wat die 33-jarige Larry Walters gedoen het. Hy sit weer in die agterplaas en wens dat hy kan vlieg. Op sy gewone aluminiumtuinstoel.
Toe kry Larry dié idee: hy maak 45 weerballonne gevul met helium aan sy stoel vas. Gewapen met ’n BB-geweer om die ballonne mee stukkend te skiet sodat hy weer kan afkom, ’n paar toebroodjies, bier, ’n kamera en ’n burgerband radio, gaan sit hy op sy stoel. Daar is verskillende weergawes van wat volgende gebeur het. Maar toe die een tou losgemaak word, breek die ander twee en daar trek hy die lug in!
Nogal gepas het hy sy stoel gedoop: Inspiration I.
In ’n ommesientjie styg hy op sy aluminiumstoel tot 4 900 meter. (Ek het Sondag ’n ander bron gebruik, maar hierdie is die Wikipedia weergawe). Op ’n klankbaan kan ’n mens hoor hoe bekommerd klink Carol, sy vriendin.
Ten minste twee kommersiële vliegtuie het hom gesien. Kan jy die verbasing van die loods indink toe hy by die venster uitkyk en ’n ou op ’n tuinstoel buite die vliegtuig sien hang!
Die goeie nuus is dat alles in sy guns getel het om weer veilig te land. Nie sonder skade nie, want sy toue het die kragdrade geraak en vir Long Beach vir 20 minute sonder elektrisiteit gelaat. Hy moes ook ’n boete betaal aan die lugvaartowerhede. Hulle het wel die klag laat vaar dat hy ’n siviele vliegtuig vlieg wat nie ’n lugwaardigheidsertifikaat het nie – want dis nie toepaslik vir sy tipe “vliegtuig” nie.
Volgens Robert Fulghum se weergawe het hy vir die nuusmedia gesê: “Wel, ’n mens kan nie net daar sit nie.”
Toe hulle vra: “ Was jy bang?”
Antwoord hy: “Yes… wonderfully so.”
(Robert Fulghum, Everything I Really Need To Know I Learned In Kindergarten, (New York: Villard Books, 1988, p. 139).
Soms moet ’n mens net die ding doen waarvoor jy bang is.
En om uit te vind waarvoor jy regtig bang is, hoef jy ’n paar keer te vra: “Waarvoor is jy regtig bang?”
Die meeste kere wil ’n mens die risiko loop – sonder die risiko. Maar dan is dit nie ’n uitdaging wat al jou passies en talente ontwikkel nie.
Risiko het nogal die manier om ’n mens te help om op God te vertrou. En as die risiko skeefloop? Wel, God is nie die Een wat jou in die steek gaan laat of Hom vir jou gaan skaam nie. God is by jou, ook al lek jy jou wonde.
Toe Jesus drie van sy dissipels neem om vir ’n oomblik op ’n bergtop in hemelse geselskap te wees, het Hy hulle nie daar laat bly in veilige afsondering nie (vgl. Markus 9:2-9). Maar hulle móés God daar hoor sê: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”
Dalk is jou bang-wees op hierdie oomblik om net weer saam met Jesus teen die berg uit te klim en God te hoor: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” Dis Inspirasie I!
Só sien jy weer kans om te waag saam met Jesus.
Wanneer jy na Jesus luister, luister jy na God self. Wanneer jy Jesus volg, doen jy God se wil.
Gaan ons soms bang wees? Ja, wonderlik so!
WONDERLIK: Hierdie video herinner my om net weer te besef soms moet jy net waag!