Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

3 Maniere om beter te FOKUS

Hoeveel keer per dag raak jy aan jou selfoon?

Een studie beweer dat die gemiddelde persoon 2 617 keer per dag aan sy of haar selfoon raak!

As gister die informasie-era was, is vandag die aandag-era. Aandag is nou baie werd, want as ek jou aandag het, kan ek jou beïnvloed om my te volg of iets van my te koop of my te glo.

Ons aandag is ’n beperkte bron. Aandag is vinnig besig om ’n skaars bron te raak soos almal daarom meeding.

Waarop ons FOKUS*, is ons werklikheid. Dit hou ons aandag. As ek byvoorbeeld vanoggend fokus op die een slegte ding wat gebeur het, gaan dit my hele menswees beïnvloed. Dit stel adrenalien en kortisol vry sodat ek gejaagd en angstig en geïrriteerd sou voel. Ek fokus nou op moeilikheid en dis waar my aandag is. So my werklikheid is dié van slegte nuus.

As ek aan die ander kant fokus op drie dinge wat reg verloop het en hoekom dit reg verloop het, ervaar ek die vrystelling van serotonien en dopamien – die goedvoel-hormone. Dan voel ek sommer beter en my hele wêreld lyk beter. Waaraan ons aandag gee, dit waarop ons fokus, beleef ons as ons werklikheid en dit beïnvloed ons hele lewe.

Die werklikheid is: Dit waarop jy fokus en waaraan jy aandag gee, raak altyd groter en meer.

In die positiewe sielkunde voel mense hulle floreer as hulle in die sone van vloei is. Dis wanneer jy voel jou aandag is heeltemal waar jy nou mee besig is. Jy voel ten volle bewus en geniet dit so volledig dat jy van tyd vergeet.

Dink aan aandag en fokus soos ’n spier. Hoe meer jy dit oefen, hoe beter word dit. Die grootste mededingers om ons aandag is egter nie die eksterne omgewing nie. Dis eintlik die stemmetjie en woorde wat jy in jou eie gedagtes hoor. Jy fokus op iets en dan hoor jy hier binne, maar jy moes eintlik aan daardie ander ding ook aandag gee. Dan pieng jou e-pos en jy gee weer daaraan aandag. So raak jou gedagtes heeltemal deurmekaar en jy sukkel om aandag te gee waaraan jy besig is. Die ekonomiese effek hiervan is geweldig. Jy bestee soveel tyd net om weer te konsentreer dat dit jou of die maatskappy eintlik geld kos.

Hoe kry jy weer jou kop stiller sodat jy beter kan fokus? Ek probeer hierdie drie maniere:

  1. Die eerste is 2-minute-asemhaling: Jesus herinner ons in Matteus 6:33: “… beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Dit doen jy deur regtig by God stil te raak. Ek beveel vir mense aan om vir twee minute net asem te haal en Jesus se naam te fluister in hulle gedagtes. Fokus die eerste minuut net op jou asemhaling en die tweede op die Naam van Jesus.

Natuurlik is dit beter as ons langer kan stilword en fokus op God. Maar, as ek nou vir jou sê jy moet 20 minute daarvan doen soos ek elke oggend doen, gaan jy dit nie eers probeer nie. So begin net by 2 minute, maar doen dit gefokus. Gee jou aandag aan jou asemhaling en gee jou aandag aan Jesus.

  1. Vyf-sekonde-reël: Ek sien onlangs Mel Robbins sê ons moet die vyf sekonde reël volg. Dis nou nie die ene waar jou kos op die grond val en jy vyf sekondes het om dit op te tel anders is dit vuil nie. Dit was in elk geval nog nooit waar nie. Sy sê jy moet van 5 af terug tel tot 1 en dan fokus.

Wanneer jy uit beheer voel, verloor jy die funksionering van jou pre-frontale korteks. Dis die deel van jou brein wat te doen het met jou aandag, besluitneming en doelgerigtheid.

Dit werk dan so: 5, 4, 3, 2, 1 – fokus!

Ek moet sê dit het my nogal gehelp verstaan hoekom dit nooit vir my gehelp het om tot 10 te tel as ek kwaad word nie. Ons moes nooit by 1 begin tel het tot 10 nie, dit werk beter as jy van 10 af terug tel. So nou doen jy dit net van 5 af terug – en fokus!

  1. Die Pomodoro tegniek. Dis die tegniek om vir 25 minute te konsentreer en dan weer te ontspan. Dan weer 25 minute en weer ontspan.

“Pomodoro” is Italiaans vir “tamatie”. Die kombuistydhouer wat Francesco Cirillo in die laat 1980’s gebruik het om hierdie 25 minute fokustye af te meet, was in die vorm van ’n tamatie. Vandaar die naam vir die Pomodoro tegniek. Daar is selfs ’n paar toeps (“apps”) wat jy kan aflaai om dit te doen. Jy stel dit en jy fokus vir 25 minute op die een ding wat jy wil doen.

Die hele geheim van fokus is om in-die-oomblik te wees waar jy nou is, om jou aandag in die oomblik te gee aan die één ding wat nou belangrik is.

Só: Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid. Dis baie meer bevredigend!


BEWONDER! Kyk nou hoe bly jou aandag in die oomblik…

https://www.youtube.com/watch?v=CwzjlmBLfrQ


(*Ek het oor hierdie tema gesels op RSG se program  Sondagjoernaal 19 Maart 2017 .)