6 Idees vir meer PASSIE!
Goeie nuus! Ons almal het ten minste een iets waaroor ons amper permanent opgewonde kan voel. Daardie “iets” is jou passie.
Jou passie is die sterk gevoel of emosie wat die dryfkrag kan wees na iets beter of wat jou bo jou situasie uitlig. Passie is die energie wat jou aan die gang hou lank nadat jy al met ander goed sou ophou. Dit motiveer jou. Dit bring die gevoel van opwinding, betekenis, tevredenheid en vervulling. Dis waarvoor jy lief is. Dis wat jy hoop!
Howard Thurman sê dit mooi:
“Don’t ask what the world needs. Ask what makes you come alive, and go do it. Because what the world needs is people who have come alive.”
Wat laat jou regtig “lewendig” voel?
’n Mens hoef nie by net een passie vas te haak nie. Ons het almal ’n “portfolio” van passies. Om nie vasgeloop en moeg te voel nie, help dit om een van daardie passies uit te haal en daarop te fokus. Dis so eenvoudig as om te vra: “Wat is dit waaraan ek maklik al my aandag gee – en my gelukkig laat voel as ek dit gedoen het?”
Toe ek onlangs gevra is om op Kruiskyk-TV asook RSG* te praat, het ek die letters van “passie” gebruik. Dit gee 6 idees hoe ek probeer om met meer passie te leef. Dis nie in volgorde van belangrikheid nie, want elkeen hiervan is nodig:
P = PLAN. As ’n mens ’n plan het, gee dit die gevoel dat jy meer beheer oor jou toekoms het en dat daar darem ’n mate van rigting in jou lewe is. Die plan is net die werkbare idee om jou passie êrens in ’n dag of week te beoefen. Selfs al doen ek net 20 minute daarvan elke oggend, voel my lewe beter.
A = AANDAG. Waarop ’n mens fokus, is waar jy jou aandag gee. As jy jou aandag as volgehoue fokus op iets rig, help dit jou om meer passievol te leef. Jy sou ook kon praat van ’n betekenisvolle visie waarop jy jouself rig. Wat wil ek maak? Wat wil ek doen hiermee? Waar wil ek uitkom? Wat wil ek beleef? Jim Collins praat van jou “BHAG” (Big Hairy Audacious Goal).
S = SLAAP. Om genoeg te slaap, bring herstel in jou selle. Doen gerus ’n “power nap” gedurende jou dag – net so 10 minute lank. Kry ook genoeg slaap in die nag sodat jou brein kan herprogrammeer en al die goed verwerk wat in jou leef.
S = SPEEL. Dis om die genot te ervaar van eksperimentering. Dis die saam deel in verhoudings rondom spel. Al skop jy ’n bal saam met iemand, gee dit die gevoel jy dra iets by en jy is ook belangrik. Speel help jou om in die oomblik te leef en die moment te waardeer. Dit maak kreatiwiteit los en laat jou voel jy lééf.
I = INTIMITEIT. Dis die dieper konneksie met God. Dis in hierdie intimiteit met God waar jy besef God het jou bedoel en jou passie help ’n wêreld om positief te leef. Natuurlik is intimiteit met jou liefdesmaat, familie en vriende nodig. Dis die genot van vriendskappe. Navorsing wys dat goeie verhoudings met iemand verseker dat jy gelukkiger gaan voel.
E = ENERGIE. Jy moet energie gee om energiek te voel. Soos as jy oefen of ’n ent gaan stap. Wanneer jy beweeg en oefen, stel dit die goedvoel hormone vry. Dan voel jy meer passievol!
Ek en jy is nie sonder rede geskep nie. Ons passies is belangrik. Dit laat my goed voel om te weet “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10).
Wat laat jou léwendig voel?
WONDERLIK! Calysta Bevier se oudisie vir America’s Got Talent gryp ‘n mens weer aan:
https://www.youtube.com/watch?v=9msiUy0JN64
(*Hierdie tema het was op RSG se program Ons en die onderwys 12 Maart 2017 uitgesaai as “Onderwys met passie”.)