Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

DETOKS jou tyd

Het jy geweet die Afrikaanse woord vir “declutter” is “ontklotter”?

Dis om al die klotter (Engels: “clutter”) op te ruim. Klotter is al die goed wat jou lewe onnodig oorvol maak. Ek wil eerder gesels oor hoe om ons lewe van al die giftige goed, die toksiene, te bevry. Ek reken dis die toksiene wat  ons meer skade doen en onnodig ruimte maak vir die klotter; daarom kies ek nou vir “detoks”.

Vraag vir myself: Kan ek my tyd detoks om meer lewensvreugde te geniet?

Een van my vriende werk sy hele week volgens wat hy die strepies-metode noem. Hy trek ’n strepie vir elke halfuur wat hy aan iets bestee het. Hy beplan sy week vooraf en dan jaag hy deur die halfure. Doen dit gerus, maar moenie dat jou tyd saam met diegene vir wie jy lief is, ook net strepies word nie. Ek meen, hoeveel strepies is jou familie werd?

Waarvan ek gereeld moet detoks, is die gedagte dat ek meer waardevol word hoe besiger en meer my halfure is.

’n Australiese verpleegster, Bronnie Ware, het mense versorg tydens die laaste 3 maande van hulle lewe. Waaroor was hulle die meeste spyt?

Hulle was spyt dat hulle nie meer die lewe geleef het wat hulle sélf kies nie. Hulle het te veel die lewe geleef wat ander van hulle verwag.

My waarheid is: Ek moet my lewe INTENSIONEEL leef. Ek moet doelbewus my aandag en dus my tyd gee waar ek die meeste waarde kan toevoeg. As iets nie ’n “WOW-JA!” is nie, moet ek eerder NEE sê. Ek hoor my vrou al in die agtergrond “ja-ja” sê, maar ek probeer regtig!

Om jou tyd te detoks, moet jy besef hoe waardevol jyself is. Ons weet almal tyd is belangrik, maar as jy nie met jou volle aandag teenwoordig is nie, is dit die mors van jou léwe.

Hoor by God hoe waardevol jy is. Jesus sê vir ons: “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:7). Jy is iemand vir wie Jesus Christus bereid was om te sterf sodat jy vry kan wees en léwe kan kry. Jy is só waardevol, daarom moet jy jou tyd op aarde waardeer en vervulling geniet. Jy kan nie jou lewe sommer net so weggee nie.

Dit het vir my waarde om net stil te sit. Te luister. Te wees. Van my kosbaarste tye is om net by God te sit. Eienaardig, hoe meer tyd ek saam met God bestee, hoe meer waardevol ag ek myself en gee ek my tyd aan wie en wat werklik belangrik is.

Ek het my voorgeneem om aan wie en wat vir my die waardevolste is, die meeste tyd te gee.

Ek moet elke week weer besluit om my tyd te detoks, want my week word gou weer vol halfuur klotters…


Verwonder: Hier is Jesus se lewe in Twitter-styl. Dit het vir my nogal baie beteken om dit weer te oordink met Goeie Vrydag en Opstanding Sondag in gedagte.