Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

3 Maniere om IN EKSTASE te leef!

’n Oorweldigende gevoel van groot geluk. Vreugdevolle opwinding.  Poëtiese inspirasie. Om uit jou normale ervaring te beweeg na ’n toestand van geïntensifiseerde of verhoogde gevoel. Dis ekstase!

Wanneer ons toer saam met mede-pelgrims, ervaar ons gereeld hierdie momente van ekstase. Die woorde Wow(!), fantasties, ongelooflik, wonderlik, amazing en die oopmond en wyer oopoë ervarings wys dit. Mense word afgeneem by eeue-oue ruïnes wat gedeeltelik gerekonstrueer word. Of met ’n fantastiese sonsondergang op die agtergrond. Of groepfoto’s waar die meeste glimlag. Moenie vergeet van die baie foto’s wat van die verskillende eksotiese kosse geneem word nie!

In sy nou al bekende video oor “Flow”, merk die Hongaarse sielkundige met die byna onuitspreeklike naam Mihaly Csikszentmihalyi  (jy spreek dit uit in die Engelse Me-High Chick-Sent-Me-High) op dat ekstase die betekenis gekry het om in ’n alternatiewe realiteit in te beweeg. Wat my aandag getrek het, is dat hy sê dis interessant om te besef dat wat ons waardeer van die ou beskawings, is die “ekstases” wat hulle vir ons nagelaat het. Arenas, teaters, katedrale. Dis plekke waarheen mense gegaan het om ’n ander realiteit te beleef.

Dit lyk my dis wat toer aan ’n mens doen. Ons neem meer foto’s van die mooie en vergeet van die ure lange wag in lang toue op lughawens. Ons vier die ontdekking van beelde en bouwerke en vergeet die lang lys van goed wat ons by die huis agtergelaat het van wat nog gedoen moet word. Ons gaan op ekskursies vir nuwe ervarings en vergeet die reëlings wat skeefgeloop het.

Op die laaste been van ons terugkeer na ’n wonderlike toer, hoor ons eers ’n paar uur voor vertrek by ons gids in Israel dat vanaf ’n maand gelede jy nie meer jou tas met ’n slot mag sluit nie (behalwe as dit ’n TSA-kombinasieslot is waarvoor die sekuriteit ’n loper het!). En die sekuriteit gaan dit deur nadat jou tas by die lugredery se toonbank ingegee is. Ons is meteens nie meer opgewonde nie. Ons is bang ons sorgvuldig uitgesoekte geskenke en aandenkings gaan verdwyn. Vergete is die oomblikke van ekstase, ons moet nou eers hierdie realiteit bestuur.

Dan kom die moment van oorgee – ons kan nie iets aan die situasie verander nie. Die oorgee is self ’n moment van ekstase, want ons wil eintlik altyd in beheer voel…

In die ry van Ethiopian Airlines staan ons lank en wag. Die personeel skarrel van rekenaar na rekenaar. Na lang gewag hoor ons dat hulle ons per hand gaan inboek. Party van ons gaan deur. Die ene wie se familie haar tuis elektronies ingeboek het, moet in ’n ander ry gaan staan en kom heelwat later by ons aan saam met Wilma wat vir haar gesoek en gewag het. Die reëling is: elkeen moet hardloop vir ’n goeie sitplek!

Eg Suid-Afrikaans weet ons hoe om ’n skrum te vorm. Ek het gesorg dat ons mense eerste by die punt moet wees en reël dat ons elke ry se voorkant moet beset. Wys sommer die ander mense om agter in die rye in te val, ons het genoeg van hierdie warmte en gesukkel. Ons beset sitplekke volgens smaak.

In Addis Abeba gaan dit nie veel beter nie. Nou moet ons ’n boarding ticket by informasie gaan kry. Dis meer as 1½ uur se wag, want die rekenaars is stadig. En die groepslid wie se inboek elektronies was, moet nou op standby gaan wag. Weer gaan staan ek voor by die toonbank lank voor die personeel opdaag. ’n Vriendelike ene daag op. Ek verduidelik ons lid se saak. “Do not worry, I’ll give her a seat” is die goeie nuus. Ek verduidelik ook sommer die saak van die jong Sweedse meisie wat langs ons by die toonbank staan en wag het en met wie ons aan die gesels geraak het – dié kom ’n maand lank in Suid-Afrika gemeenskapswerk doen by benadeelde kinders. Sy is so bly toe sy ook ’n instapkaartjie kry.

In die vliegtuig wonder ek: Jannie, hoekom pak jy sulke goed aan?

Tuis begin ek en Wilma deur die foto’s van ons reis blaai. En ek besef weer hoekom ek sulke goed aanpak. Dis vir die momente van ekstase. In daardie momente voel ek iets van die grootheid en goedheid van God. Ekself en die lewe voel anders. Alles voel in die moment van “Flow” soos Mihaly sou sê. Ek voel gekonnekteer met iets en Iemand groter en meer as ekself.

So wil ek soos Dawid uitroep in sy aangrypend mooi lofpsalm (Ps. 145): “Ek wil u lof verkondig, my God en Koning, ek wil u Naam altyd loof”.

Nou, drie maniere om meer ekstase te beleef:

  1. Speel geestelike musiek en kyk na ’n brandende kers terwyl jy in jou verbeelding saam met Jesus loop – doen dit langer as gewoonlik totdat jy een met Jesus voel.
  2. Kyk ’n video of fliek waar mense (diere ook) bo die normale presteer, of ten spyte van hulle aaklige omstandighede seëvier.
  3. Gaan buite jou eie gemaksone en strek jou brein of lyf om iets moeilik of die moeite werd te beleef soos om verder as gewoonlik te stap.

MOENIE TOELAAT DAT 10% SLEGTE DIE 90% GOEIE BEDERF NIE! 


Verwonder: Dalk het jy hierdie lied ook al baie gehoor, maar luister en kyk nou IN EKSTASE...