Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

5 Goed om te gryp as dit BRAND!

Verwese staan hy langs die enkele besittings wat hy uit die huis kon red. Die pragtige grasdakhuis is nou net ’n smeulende murasie. ’n Uitgebrande motor. Borde wat nog reg staan vir ete, maar nou vol roet. Die restaurant is afgebrand. Diere wat nie die gulsige vuur kon ontsnap nie… Dis enkele van die foto’s wat in die media was.

Wat sal jy gryp as die brand op jou blyplek afstorm?

Die afgelope week is Gordonsbaai (en ander plekke) geteister met ’n massiewe brand. Dis nie die eerste keer dat ons dit beleef nie. Vorige kere is plekke herbou en die fynbos en bome het weer gegroei. Maar elke keer as ’n mens weer ’n wegholbrand beleef, is dit eintlik emosioneel intenser – jy weet mos hoeveel pyn op mens en dier en omgewing wag.

In die jare voor Facebook en cloud-stoorplek het mense se foto-verlede eenvoudig verdwyn as die fotoalbums wegbrand. Ons het daardie tyd mense aangeraai om net ’n fotoalbum en hulle belangrike dokumente te gryp. Die probleem is: wat om te los…?

Wat jy bymekaargemaak het, is vir jou kosbaar. Die aandenkings van vakansies en kinders is onvervangbaar. Elke geskenk vertel ’n storie. Dis die fisiese herinnerings aan hierdie stories wat dalk in ’n brand of diefstal uit jou lewe verdwyn. Maar die storie sal nie verdwyn solank jy kan onthou nie…

Dis ons innige gebed dat daar heling sal kom by elkeen wat so seergekry het in hierdie tyd.

Ek het besef ek het hierdie 5 goed nodig om in plek te kry, eintlik vóór dit brand:

Gryp die geleentheid om weer te onthou terwyl die geleentheid nog daar is. Die onthou-jy-nogs is wat ons liefdesverhale laat bly leef. Dié herinnerings kan nie gesteel word of wegbrand nie. Dis die sosiale gom wat lewensmaats, familie en vriende gekonnekteer hou. Dalk is dit nou tyd om weer die foto’s deur te blaai saam met die ander. Of dalk ’n collage maak van foto’s wat jy as Kersfeesgeskenk gee om julle storie saam te vier.

Gryp die kans om weer skoon te maak en ligter te leef. Nadat ek soveel e-posse verloor het vanweë ’n rugsteun (ja, ek het wel ge-backup!) wat die program nie ordentlik gedoen het nie, moes ek aanvaar dat daardie deel van my lewe weg is. Op ’n manier was dit ’n bevryding, want my Inbox het sommer my stoorplek ook begin raak. Dis vir mense soos ek wat die search funksie ontwerp is. Dit het my die geleentheid gegee om weer van vooraf te begin. Natuurlik moes ek eers ophou wroeg en aanvaar wat gebeur het. Ek werk toe met die filosofie “wat belangrik is, sal weer na my toe kom.” Ek meen, jy gaan weer die rekening kry wat nie betaal is nie…

Gryp die genade van medemense. As ek kyk hoeveel mense gehelp en voorrade gebring het, voel ek opgewonde oor medemense se omgee. Ons moenie so selfstandig probeer wees dat ons die goedgunstigheid van familie, vriende en vreemde mense verbeur nie. Dit doen almal goed om te gee – én te ontvang.

Gryp die kans om te fokus op ’n groter prentjie. Toe die persoonlike tsoenami’s ons getref het, was dit moeilik om die groter prentjie te onthou. Maar dit het gehelp toe ons positiewe betekenis probeer gee het aan wat met ons aan die gebeur is. Paulus het dit ook gedoen toe hy skryf: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” Op ’n vreemde manier kan dit wat ÍN jou gebeur tydens beproewing meer betekenis gee as wat mét jou gebeur. Daarmee sál die Heilige Gees help.

Gryp die lewe! In ’n oogwink kán en hét mense se lewens verander. Die belangrike is om te besef dat ons lewens beslis nie vervangbaar is nie. Om lewe te red is eerste prioriteit. Ons leer om fisiese goed liggies vas te hou, maar dit wat ons lewe regtig verryk en verruim, aan te gryp.  Die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee om die lewe te geniet, is LIEFDE. Uiteindelik is liefde al wat ons met ons kan saamneem tot in die ewige lewe. Maar vir nou: ek is bly ek leef – om lief te hê!

P.S. I Love You! (My WhatsApp vir my vrou, kinders en kleinkind)


Verwonder: Kyk hier wat doen Alvin Law met wat hy hét (die dromspeel aan die begin is kort)