Hou vrees vir VERNEDERING jou terug?
My voorkoms…
Om by alles uit te kom…
Tyd…
Aanvaarding…
Dis van die antwoorde wat deur die menigte vrouens by die Skittervroue konferensie die afgelope naweek in Bloemfontein genoem is. So dikwels worstel ’n mens hiermee en voel jy lam en oorweldig.
Al hierdie antwoorde het gewoonlik met een vrees te make:
Die VREES VIR VERNEDERING.
Dis die dieperliggende vrees om ge-shame te word of só te voel. Dis nie net vrouens nie, maar ook mans wat dikwels hierdie vrees ervaar. Verskuil in hierdie vrees is die stemmetjie wat vir jou venynig fluister dat jy nie goed genoeg is nie. Of wanneer jy dan iets aanpak, jou vermoëns bevraagteken: “Wie dink jy is jy om dit te doen?”.
Die navorsing van Brené Brown het hierdie hele bynes van skaamwees en vrees vir vernedering oopgekrap. Ons is bang om outentiek onsself te wees uit vrees vir verwerping en vernedering. Die gevolg? Ons hou onsself terug terwyl ons eintlik die volle reg het om te skitter!
Die vrees vir vernedering krap ons heel deurmekaar met verwagtinge wat eintlik onbereikbaar en konflikterend is. Ons probeer leef soos ons dink ons behoort te wees, maar dis eintlik hoe ons dink ánder van ons verwag om te wees. Ek dink daardie “ander” is die gesiglose onhaalbare idealistiese “ek” wat jou verhinder om jou outentieke, ware jy te geniet. Dis ongelukkig jou strewe na die tipe volmaaktheid wat jy dink ánder gelukkig sal hou.
Dis tyd om jouself toestemming te gee om jou egte self te wees. Daardie mens wat kan foute maak en terselfdertyd streef om ’n goeie ma te wees. Daardie mens wat stoei met die lewe en ook die wonderlike oomblikke geniet. Jou egte self wat nie gedefinieer word deur selluliet of sellulêre kanker of seëninge nie.
Toe ons as kinders leer loop het, het ons nie gedink ons word ge-shame as ons val nie. Ons het eenvoudig weer opgestaan. Aangrypend het Jana du Plessis baie broos opgeklim na die verhoog met die hulp van ’n vriendin.
Sy het vertel hoe die kanker haar aanval, van dele van haar liggaam wat elke keer geopereer en bestraal moet word. Terwyl die trane by baie vrouens saggies loop, herinner sy ons dat aardetyd genadetyd is. Net voor haar het ek gepraat oor hoe om jou outentieke self te wees. Hier kom wys sy prente van haar outentieke self en verklaar dat sy nie opgee op lewe nie – nie met hierdie God wat haar telkens genees nie!
Na my derde tema vertel Leilani le Roux hoe sy en haar man moes vlug nadat die tsunami hulle oorweldig het. Van die massa mense in hulle hotel het net 6 bly leef waarvan hulle die enigste paartjie is. In ‘n stadium is sy deur die watermassa in ’n boom se top ingedruk. ʼn Gebreekte boomtak het in haar ingewande ingesteek. Al haar klere is van haar lyf afgestroop deur die watermassa. Sy word gered en hardloop saam met haar man na hoër grond. Dan, wanneer sy nie meer kan nie en in ’n koma lê, beleef sy die nabyheid van ’n engel en die vrede daarmee saam. Op ’n wonderbaarlike manier oorleef hulle. Sy dra nog die L-vormige letsel dwars oor haar liggaam tot by haar sy. Maar dis nie ’n letsel van vernedering nie. Vir haar is dit: Leilani Leef in Liefde.
Hierdie dapper dames herinner my: die lewe kan verrassend vinnig verander. Daar is eintlik nie regtig tyd en energie om te mors met die vrees vir vernedering nie.
Dis tyd om ons egte self uit te leef – in ons drome en liefde!
Ek was bevoorreg om by die Skittervroue konferensie in Bloemfontein op te tree. My tema: Die Wonder-Werk van Vreugde! Anso Steyn en almal, baie dankie dat ek en Wilma dit saam met julle kon beleef het!
Verwonder: Een van die aangrypende liedere van Leonard Cohen is wanneer hy oor ons broosheid sing:
Ring the bells that still can ring/ Forget your perfect offering
There is a crack in everything/ That’s how the light gets in