Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Kry só Diamantstatus vir UITSTEL!

“Jy is darem lief om uit te stel!”

Só sê Wilma nou die aand vir my toe ek sê ek gaan na die braaivuur sit en kyk. Haar rede vir die opmerking is geldig. Ek het vooraf gesê ek gaan die belastingopgawe se goed daardie aand afhandel. Maar toe was ek nie meer lus nie. Veral nadat ek van rekenaar verwissel het en ’n groot deel van my e-posse verdwyn het waarop daardie inligting was. Nou moet ek die inligting weer orals aanvra.

Maar ek stel ander tye ook graag uit. Veral as dit vir my voel dis nie nou vir my die regte tyd om aan iets te werk waarvoor ek nie eintlik lus het nie. Of as ek nog nie lekker weet hoe om my preek te begin nie. Of as ek lank genoeg na my sin besonder produktief was en nie meer energie het om iets so eentonig soos belastinginvul te doen nie. Of my beste rede: as iets anders lekkerder is om te doen as dit wat nie my passie is nie. Dan gaan ek onmiddellik vir dit wat vir my lekkerder gaan wees.

My verweer is gewoonlik: “Uitstel is positief. Anders sou die Engelse woord procrastinate nie met ’n ‘pro-‘ begin het nie!” Daar moet mos iets positiefs wees aan uitstel!

Hier is my positiewe redes om diamantstatus te kry vir uitstel:

  • Van uitstel kom beter OPstel. Ja, as ek uitstel om my preek dadelik klaar te maak en net eers gaan gym of iets anders doen, kry dit in my onderbewussyn die regte fokus. Dan kom ek terug en meteens kan ek die preek reg opstel met die inspirasie wat dit moet hê in plaas dat dit net klink soos ’n dorre tesis.
  • Van uitstel kom goeie AFstel. Iemand het my destyds geleer as ek wil ophou rook, moet ek net elke keer uitstel. Ek het dit gedoen en ek stel nou al jare uit om weer te begin rook. Ek weet ook natuurlik dat ek nie weer kan waag om aan ’n sigaret te suig nie, want ek was ’n uiters produktiewe roker! Nou ja, dit sal almal goeddoen om uit te stel om ’n paar “sondes” te doen…
  • Van uitstel kom positiewe INstel. Gewoonlik sal mense sê: “Die tyd het ryp geword”. Dikwels moet dinge eers in my binneste tot rus kom sodat ek met die regte ingesteldheid kan werk. Ook sodat ek kan weet waarop ek moet fokus. Dan is my entoesiasme terug. Eienaardig hoe vinnig dinge dan uitgesorteer word.

‘n Mens moet persoonlikheid hierby reken. Ek moet erken dat ek meer geneig is om nuwe goed uit te dink en te droom en daarmee te begin. Dan verveel dit my verder en wil ek dit aangee. My vrou is ’n goeie voltooier. Sy begin nie net iets nie, sy voltooi dit uiters suksesvol. Dis hoekom ons ’n uiters effektiewe span is. Ek wonder hoe jou persoonlikheid is?

Ag, soms stel ek net uit omdat ek bang is ek gaan misluk. Of omdat ek nie kans sien vir hoeveel werk dit gaan vra nie. Of omdat ek nie iemand wil seermaak nie. Of omdat ek uitgestel het om my lewe te prioritiseer!

Net om perspektief te behou, moet ek darem ook ’n vrywaring vir myself gee: elke jaar skryf ek my Groot Vyf neer en werk daaraan om dit te bereik. Dis nou my Groot Vyf ideale goed wat ek die jaar graag sal wil bereik en beleef. Meesal slaag ek daarin om veel meer as dit te ervaar danksy God se genade, maar dit hou my gefokus.

Hoekom juis nou oor uitstel skryf? Wel, ek het my lank terug voorgeneem om elke week ’n stukkie inspirasie te deel met ander. Ek hoop om daarmee mense te help om meer lewensvreugde te ervaar en weer kans te sien om na nuwe drome uit te reik. Ek het gedink dit sal nie so moeilik wees nie, want ek het nog altyd maklik boeke geskryf. Maar elke week het ek ’n ‘pro’-rede gekry om uit te stel. Ag wat, dalk was dit net my seisoen vir uitstel.

Vandag het ek uitgestel om uit te stel!

In die Bybel lees ek Maria het by die engel gehoor dat niks by God onmoontlik is nie en sy daarom vir Jesus in die wêreld sou bring. Sy hoor toe dat haar tante Elizabeth wat onvrugbaar was, ook swanger is. Dan skryf Lukas: “Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ’n dorp in die bergstreek van Judea gegaan.” Daar het sy vir Elizabeth gaan sien en bevestiging gekry dat dit wat God beloof het, sal gebeur.

Dit laat my opnuut besef: As God vir jou iets belangriks in gedagte het om te doen, gaan jy nie versuim nie. Om in jou roeping en passie uit te leef, help om nie uit te stel om te doen wat nóú en op langtermyn belangrik is nie.


Wonder: Dikwels help humor my om aan die gang te kom. Maar hierdie besoek sal ek nie wil beleef nie… kyk hier…