Die regte GROOT “K”
Enkele weke terug het Wilma na die dokter gegaan om te laat kyk na ’n plekkie binne haar mond teen die kakebeen. Dit wil nie herstel nie.
Toe sy by die huis kom na die afspraak, kan ek sien sy is nie heeltemal haar vrolike self nie. Toe kom dit uit dat die dokter die groot “K”-woord gebruik het.
Ja, ons moet laat kyk of dit nie dalk KANKER kan wees nie.
Normaalweg as ’n dokter sê jy moet vir toetse van een of ander aard gaan, is dit een ding. Maar as jy hoor dit is die groot “K”-woord, doem allerlei onheilspellende prentjies voor jou op. Ten spyte van al die moderne mediese vermoëns om jou te help en dit in remissie te hou of te verwyder, bly ‘n mens se kop gou die ergste dink.
Dis normaal om aan moontlike negatiewe gevolge te dink. Dis deel van die proses wat ons help om vir gevaar weg te deins. In ons brein het ons ons sogenaamde amigdala wat vinniger as jou denke reageer. Wanneer jy gevaar sien, reageer jou amigdala vinnig met ’n proses om adrenalien asook kortisol in jou los te laat. Dis wat jou hartklop en asemhaling skielik laat versnel asook jou bloeddruk verhoog. Nou is jy reg om te vlug. Of natuurlik te veg of te vries. Die amigdala reageer veral op die vrese of gevaarsituasies wat weer lyk soos die wat jy vantevore beleef het. Die visuele, m.a.w. prentjies word die beste onthou en kom weer in jou op.
’n Aantal jare gelede het ’n dame in ons gemeente mondkanker gekry. Dele van haar kakebeen het verdwyn en haar hele gesigvorm het verander. Bowendien moes hulle ook die kant van haar tong verwyder.
So wat gebeur toe ons hoor van die moontlikheid van kanker in die mond? Natuurlik onthou ons amigdala hierdie situasie en pomp ons vol al die streshormone.
Maar: ons vertel dit nie vir mekaar nie. Eers die week later sit ons die aand en dink na oor alles en die toetse en bely ons teenoor mekaar dat ons aan haar situasie gedink het…
Die vraag wat dikwels opkom, is of gelowiges ook veronderstel is om te stres. Gelowiges is mense. Dus beleef ons ook stres situasies en reageer ons liggame soos normale mense op stres.
Die verskil is dat ons deur ons geloofsvertroue die stres kan verwerk op ’n betekenisvolle manier. Daarom herinner God ons gereeld in die Bybel dat ons nie bekommerd moet wees of moet vrees oftewel stres nie.
Gesonde geloofsvertroue beteken dat jy begin dink oor God in die situasie en dit help jou om jouself nie te bly oorgee aan die dwarrelwind van emosies nie. Jy voel die emosie, maar jy laat dit nie wild loshardloop nie. Jy bestuur die emosie met en in geloofsvertroue. Jy vra positief: Waarmee goeds is God hier besig?
Ek het ’n bietjie gaan lig kry by Paulus. Kyk, hierdie man het darem sy kwota stres gehad (vgl. 2 Kor. 11). Net die idee dat hy vyf keer 39 houe as straf gekry het, gee my al stres!
Tog is dit Paulus wat sê: “Aan Hom wat deur sy KRAG wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe…” (Efes 3:20,21).
Paulus leer ons die regte groot “K” = KRAG van die Drie-enige God.
Kyk, dit beteken nie alles is meteens wonderlik en hanteerbaar nie. Jy gee jouself oor vir God en het ’n tydjie vrede, net om op ’n onverwagse oomblik weer die adrenalien te voel bruis en ’n duisend vraagtekens te beleef. Maar jy keer gouer en meer terug na God.
O ja, voor ek vergeet: Van die mooiste woorde sedert Wilma vir my gesê het sy het my lief, was die woorde van die spesialis. Hy sit sy koplampie op, vou haar wang terug en kyk: “Dis nie kanker nie!”
God is deur sy krag wat in jou werk, magtig om oneindig meer te doen as wat jy gebid of gedink het!
WONDERWERK: Hier is die storie van ’n buitengewone seuntjie – CHRISTIAN BUCHANAN – en sy moeder Lacey. Kyk ook hier.
“I’ve learned how to trust God, that all things work together for good,” Lacey says. “In the moment, it was hard to see how I could deal with this, how it’s good. Now I look back, and I would go through that a million more times if it meant I got to have Christian. I’m so thankful I get to be his mom.”