As my MOED opraak?
Hoe lank sal jy aanhou om jou opdrag uit te voer as jy by vyf verskillende geleenthede 39 houe met ’n sweep sou kry? In totaal 195 houe? Gewoonlik is die sweep een met ’n klomp punte, met stukke metaal, been of glas in die leer.
Hoe lank sal jy aanhou met jou opdrag as jy met klippe gegooi word? Deur gevaarlike riviere en klowe moet gaan? Dis maar net enkele goed wat Paulus ervaar het volgens 2 Kor. 11.
As ek vinnig dink wat ’n mens laat moed verloor, is dit:
Vrees. Jy is bang vir skade, vir verlies, vir seerkry. Jy is bang vir jou lewe of vir die lewe van jou geliefdes.
Vervaldatum ontbreek. Jy weet nie hoe lank die swaarkry gaan aanhou nie.
Vervulling ontbreek. Jy het jou lus daarvoor verloor. Jy voel nie meer passievol daaroor nie.
Verwarring. Dit voel chaoties. Jy weet nie waarop te fokus nie, wat is belangrik en wat jy moet laat los nie.
Vasgeketting voel in ’n situasie waaruit jy dink jy nie kan ontsnap nie. Jy het beloof om dit te doen, maar kan nie.
Verlatenheid – daar is niemand vir jou nie. Dit voel wat jy doen maak vir niemand saak nie.
Ons het seker al almal ervaar wat gebeur as jy moed verloor. Ek hou nie daarvan nie, want:
Ek voel ontmagtig, sonder vertroue en selfvertroue en koester nie meer hoop nie. Ek is geneig om te begin uitstel en afstel en is dan vies vir myself. Sommige mense raak angstig en selfs depressief. Of daar is net nie meer energie oor nie, ook nie die wilskrag om iets te verander nie. Dis asof iemand ’n kussing oor jou gesig druk en jy nie kan asem kry nie.
Miskien moet ’n mens net weer kyk wat moed behels. Moed is om dapper te wees wanneer nodig. Soms is dit fisieke dapperheid soos om iemand te red ten spyte van gevaar. Soms is dit morele dapperheid soos om die regte ding te doen ten spyte van negatiewe sosiale of finansiële gevolge. Soms is dit sielkundige dapperheid soos om aan te hou met die lewe ten spyte van depressie of kanker wat jou terughou.
Moed is die waag om jou vrese in die oë te kyk, jou uitdagings aan te durf, die moeilikheid en pyn binne te gaan en dit te hanteer. Moed is om aan te hou en uit te hou.
In 1855 in Cleveland, was ’n 16-jarige pasgekwalifiseerde boekhouer op soek na ‘n werk. Hy het by ‘n hele klomp maatskappye aansoek gedoen vir poste. Sy eerste onderhoud was onsuksesvol omdat hy as te onervare en jonk bestempel is. Sy tweede onderhoud misluk ook, en die derde, en elke enkele een op sy lang lys!
Sy reaksie? Hy begin weer by die bokant van sy lys! En uiteindelik kry iemand hom jammer en neem hom in diens.
Sy naam? John D Rockefeller (!) wat uiteindelik een van die rykste en suksesvolste sakemanne in die wêreld geword het.
Dalk het Rockefeller by Paulus geleer hoe om met moed te leef! Hoe leef ’n mens met moed?
Paulus sê “Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie.” (vgl. 1 Kor. 9:16-17; 24-27). By Paulus leer ek:
Om te leef met ’n GOD-GROOTTE-REDE. ’n Gewone rede gaan jou nie moed gee nie. God is vir Paulus groter en belangriker as enigiets anders. In die tydjie wat my ma moes verwerk dat hulle verhuis na die aftreeoord na 60 jaar in dieselfde huis en ook moes verwerk dat haar man met wie sy 60 jaar getroud is nou oorlede is, asook haar skoonseun, sê sy: “Dis deel van die Here se pad met my lewe!” Ja, sy snik, maar sy leef met moed omdat sy ’n GOD-GROOTTE-REDE gekry het.
Om te leef met ’n MOED-METAFOOR. Paulus moes besluit met watter intensie hy sy lewe saam met God gaan aanpak. Sy metafoor is dié van ’n atleet. Sy metafoor help hom om sy lewe te vergelyk met dié van ’n atleet en nou leef hy sy roeping uit soos ’n atleet. Een van my kanker-vriende het gesê hy is “God se witbroodjie” en hy hanteer die lewe met dankbaarheid. Selfs sy sterwensproses kon hy só met moed deurgaan.
Laat weet my hoe jy moed hou? So groei ons saam in Jesus na ’n lewe met méér moed!
Wonder: Biskop T.D.Jakes sê hier nogal iets wat moed te make het.