Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Staan ek IN MY EIE PAD?

Sommige mense moet eers op die rand van uitbranding dans voordat

Ander mense voel so moedeloos oor die suksesse van andere dat hulle hul aan kos of drank vergryp voordat

Party mense voel so ’n mislukking as hulle op Facebook na ander se droomvakansies kyk voordat

Nog ander mense is so gestres dat hulle liewer niks aanpak nie voordat

HULLE BESEF DAT HULLE IN HUL EIE PAD STAAN

en

DAT HULLE SAAM MET JESUS ’n ANDER RIGTING KAN GAAN.

Ons het waarskynlik almal een of ander tyd in ons eie pad gestaan en onsself gesaboteer. ’n Vriend vertel onlangs hoe hy nie net een verkeerde ding gesê het nie – toe hy die situasie wou regstel, het hy dit nog erger gemaak. Verwysend na die Engelse idioom, lag hy verleë dat hy nie net een voet nie, maar albei in sy mond gesit het!

Van die maniere waarop ons in ons eie pad na geluk en betekenis staan, is:

Om te wag vir die perfekte oomblik: Dan leef jy met “As dit net…” Dit sal mos lekker wees as alle omstandighede ideaal was om daardie ding te doen waaroor jy droom. Die lewe werk nie heeltemal so nie. As jy begin met wat jy rééds het, vorder en leer jy.  Diegene wat Windows as bedryfsisteem gebruik, weet sekerlik teen hierdie tyd dat Microsoft iets in die mark plaas en dan daarop verbeter vanuit die terugvoer wat hulle kry. Die oomblik mag verbygaan as jy wag vir perfeksie.

As jy ’n agent vir die gemiddelde wil wees: ’n Mens verloor jou unieke bydrae tot die mensdom se kollektiewe wysheid as jy net soos ander mense wil wees. Dis onnodige druk op jouself as jy gedwing voel om die wêreld presies te sien soos iemand anders dit sien. Of om hulle drome te leef en joune opsy te skuif. Wat is jou eíe stem? Wat is jóú waarheid?

Om te dink jy het nie genoeg nie: Waarop jy fokus, het die geneigdheid om groter te raak. As jy fokus op wat jy nie het nie, maak jy die deur oop vir die gevoel van magteloosheid. Hierteenoor staan soveel navorsing wat die krag van dankbaarheid ondersteun. As jy dankbaar is vir wat jy rééds het en wat rééds reg verloop, help dit jou om kreatief en innoverend te wees. Dikwels is wat jy kort, net om te vra!

Om jou innerlike kritikus die enigste spreekbeurt te gee: Hierdie negatiewe stemmetjie wat ’n mens so dikwels kan boelie, is regtig nie die enigste stem nie. Groet dit met: “O, is jy weer hier. Baie dankie vir jou opinie, maar ek gaan ander menings ook inwin.” Soms moet ’n mens minder na jouself luister en meer positief met jouself praat.

Om jouself nie genadig te wees nie: Almal het seisoene waarin hulle minder gemotiveerd voel. Gee genade vir jouself as jy ’n winterseisoen beleef. Dis die tyd wanneer jy weer reserwes opbou. Voed jou siel met verrykende leesstof, goeie (en soms ander soorte) musiek en flieks. En kyk sommer ’n komedie en lag diep uit jou maag vir geen rede nie. Wéés net ’n bietjie.

Jy is nie toevallig gebore nie. God het bedoel dat ek en jy hier moet wees. As dit tyd is om uit jou eie pad te staan, luister na wat die Gees in jou hart sê. En: staan opsy vir die REGTIGE JY.

Een van die mooi Bybelse verhale wat illustreer hoe Jesus jou rigting kan help verander, is dié van Paulus op die pad na Damaskus. Paulus het soos ’n besetene die volgelinge van Jesus wou laat gevange neem. Op daardie pad, skyn daar skielik ’n helder lig op hom en ‘n stem vra: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?” Waarop Paulus vra: “Wie is U, Here?” En Jesus antwoord: “Ek is Jesus. Dit is vir My wat jy vervolg.” Vanaf hierdie oomblik het die hele rigting van sy lewe verander. Ons lees nou nog die avontuurlike pad wat Jesus en hy geloop het.

Dalk is dit vandag dié Stem wat jy hoor om uit jou eie pad te kom. “Ek is Jesus. Stap eerder saam met My…”


BEWONDER! Mandy Harvey wou nie dat opgee in haar pad staan nie… Kyk hier. In ‘n tweede video clip tydens haar finale optrede vertel sy hoe sy een van twee keuses moes maak… Kyk dit hier!


Soveel mense het met wonderlike (en ook hartseer) verhale gereageer op die vorige Inspirasie: “As my moed opraak!” E-pos asseblief wilma@inspireguroux.com met jou verhaal of inspirasie en noem of ons dit met of sonder jou naam mag plaas op die blogbladsy www.inspireguroux.com