Daar is NOG ’n MOONTLIKHEID!
Ek het hierdie week die eerste keer van die Lasarus Moment gehoor.
Die verhaal van Lasarus wat deur Jesus uit die dood opgewek is, het al tot wonderlike preke gelei. Veral by begrafnisse is dit ’n troospreek waarin ons herinner word aan wat Jesus vir Marta sê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” (Johannes 11:25,26)
“Jesus het gehuil.”
Aangrypend lees ons hier in vers 35, die kortste vers (in ons vertaling), hoe God oor sy geliefdes voel. Meegevoel sonder grense. Ironies, toe ek gou hierdie vers vanoggend soek in ’n naslaan-Bybel, daar ’n los papiernota van my pa in hierdie Johannes-boek is. In sy handskrif het hy gesangverwysings geskryf, waarskynlik vir ’n wyksbyeenkoms. Hy is so drie jaar gelede oorlede. En sy handskrif ruk sommer ’n klomp herinneringe oop. Asof ek nou moet voel wat Jesus gevoel het…
Wat is die Lasarus Moment?
Dis die beeldspraak wat gebruik word om te beskryf dat iets wat dood was, weer lewend word. Dis wanneer iets of iemand wat afgeskryf is, weer opnuut na vore kom.
Die vorige 2 inspirasiebriewe het gegaan oor die moontlikheid van verandering in ons lewens. Hoe weet ons dis die tyd om te skuif? Hoe weet jy of jy nou die regte ding doen? Hier is nog ’n moontlikheid om te oorweeg:
Wat as die tyd waarin jy nou is, dié tyd is wat God gebruik om jou te laat verstaan dis oraait dat jyself nie meer moontlikhede sien nie – soos Lasarus wat vir 4 dae dood moes wees. Sodat die ingryping van God juis radikaal nuut is en so waardeer word!
Moedeloos, visieloos, passieloos, hopeloos, planloos, geldloos, stresvoos…
Moontlik is dit jou beurt vir ‘n Lasarus Moment!
- Of beter gestel, jou HERE-WAT-LEWEND-MAAK-MOMENT!
Ek wonder of die Gees ons weer wil sensitief maak om op Gód se ingrype te wag en te hoop. Desperaatheid, depressie en dood – ook die gevoel dat moontlikhede dood is – is nogal drie ongemaklike dinge om mee saam te leef. Maar wie sê dis nie juis die tyd wat nou tot ’n einde gaan kom danksy God se ingrype nie…
Wie weet regtig? Al wat ek weet, is dat Jesus wél die onmoontlike gedoen het. Marta wil nog keer dat die klip weggerol word, want “Here, hy ruik al, want dis al die vierde dag.” Ek kry so half die gevoel dat sy liewers met die sogenaamde realiteit wil saamleef. Maar die realiteit is net dit waarop ek fokus. As my fokus verskuif, is daar ’n ander realiteit. Soos om dié Stem te hoor: “Lasarus, kom uit!”
Wel, ons het natuurlik ’n keuse. Om in die gat te bly. Of om die Stem te volg na nuwe lewe!
Hier is ’n oefening om te help “hoor”:
Sit ontspanne en haal gemaklik asem. Buig dan jou kop stadig agteroor so ver jy kan, en kyk na bo. Simbolies om na Bo te kyk. Begin om dankie te sê vir alles waaraan jy kan dink, totdat jou dankies ’n gevoel van egte waardering in jou binneste bring. Raak dan stil… en luister na die Stem in jou hart…
Die Een wat praat, is dieselfde Jesus wat vir Marta gesê het: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” (Johannes 11:40)
Wonderlik: Baie dankie vir almal wat van hulle laat hoor. Ons lees elke e-pos en waardeer die idees of moontlike temas soos hierdie ene wat Frans gestuur het. Dis ook verrykend om te lees waarmee jy worstel, of die insig wat jy gekry het.
Wonderwerk: As ek hierdie verskynsel sien, gee dit vir my die gevoel wat met Lazarus gebeur het toe hy lewend word. Kyk hierna.