Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Sê nou jy TWYFEL in jouself?

Sê nou jy voel ‘n mislukking – ten spyte van al jou suksesse?

Sê nou jy voel nie opgewasse vir alles wat jy moet doen nie – al het jy dit in die verlede effektief hanteer?

Sê nou jy twyfel skielik aan jouself en dit wat jy bereik het, en jy kan nie ontslae raak van hierdie angstige gevoel nie?

Iemand het my onlangs besoek en hierdie tipe gevoelens beskryf. Dis nogal ‘n suksesvolle persoon wat meestal in beheer van die meeste situasies voel.

In ons gesprek het ek besef van die redes vir hierdie tipe gevoelens mag die volgende wees:

  • Dat die sisteem waarin jy werk of jou organisasie nie genoeg erkenning vir jou gee vir wat jy doen, en veral ékstra doen nie
  • Of jy word oorvra met verantwoordelikhede terwyl jy nie kapasiteit vir alles het nie.
  • Dat die werksverpligtinge so vermeerder dat jy nie meer in beheer van die situasie kan bly nie en daarom moet kompromitteer op jou eie standaarde van effektiwiteit
  • Dat jy jouself al hoe meer begin afkraak as “ontoereikend” op grond van bogenoemde en so vorm ʼn aangeleerde negatiewe denkgewoonte wat jou soos ʼn slagoffer laat voel
  • Dat jy al meer fokus op jou angstigheid en nie fokus op vorige suksesse nie…

Die goeie nuus is: almal voel by tye ontoereikend.  Sommige mense ly egter heeltyd daaraan.

In ekstreme vorm ly hierdie mense aan die sogenaamde imposter syndrome. Mense wat ly aan die imposter syndrome voel soos bedrieërs. Hulle is beangs om blootgestel te word dat hulle eintlik nie in staat is tot sukses nie. Die ergste van hierdie sindroom is dat dit juis suksesvolle mense is wat aan hierdie sielkundige verskynsel ly. Hulle voel ook hulle verdien nie hul suksesse nie.

Van die bekendste mense wat hieraan ly, is die akteurs Tom Hanks, en Emma Watson. Tom Hanks het onder andere die Golden Globe Award en Oscar gekry vir beste akteur en verskeie ander toekennings ontvang. Emma Watson het onder andere die Brittania Award gewen vir beste aktrise. Uiters suksesvolle akteurs, maar dan twyfel hulle tog aan hulleself!

Dit lyk vir my die hantering van die imposter syndrome is ʼn voortdurende proses van aanvaarding van wie jy wérklik is en om in jóú vermoëns te glo. Natuurlik is ons nog nie klaar gegroei nie, daarom is dit belangrik om, soos professor Carol Dweck se navorsing wys, eerder ʼn open mindset in plaas van ʼn fixed mindset te ontwikkel. Dit beteken elke situasie is ʼn geleentheid om te leer en te groei. Al beteken jou groei dan dat jy ontdek jy is in ʼn toksiese omgewing en jy moet ʼn fisiese skuif maak. Of dalk ontdek jy dat jyself nou al toksies in jou eie denke is en ʼn denkskuif moet maak. Daarom is dit goed om met iemand buite jou situasie te gesels om ʼn breër perspektief te kry.

Sommige mense skryf gereeld hulle suksesse neer in ʼn sogenaamde suksesjoernaal. Ander begin weer met ʼn dankbaarheidsjoernaal waarin hulle neerskryf wat vir hulle reg verloop het, en hoekom. As ek begin twyfel aan my vermoëns, blaai ek dikwels terug in my joernaal om my “dankies” raak te lees. Een jaar het die vroue op die vrouekamp by Oos-Londen vir my ʼn blikkie gegee vol briefies waarin mense my lof besing het vir my optrede daar. Dis só lekker om gereeld een van hierdie briefies van waardering te lees!

Hierdie tipe positiewe-onthou help dat, hoewel jy jou self-kritiese-stem hoor, jy nie ernstig daarna luister nie.

Voor ek vergeet: ‘n Belangrike manier om in jouself te glo, is om ten minste te weet Jesus glo in jou!

Johannes skryf nogal wat gebeur as jy in Jesus glo: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het hy die reg gegee om kinders van God te word” (Johannes 1:12). Dit lyk mos dat God in óns glo!

Kan jy dink dat die God van die Heelal bereid is om ons kinders van God te noem? Dis die geskenk wat God ons gee wanneer ek en jy in Hom glo. Dis die platform waarop ons ’n toekoms kan bou!

Dis wie jy IS, nie wie jy voel nie.


Wonder: Ek wonder of hierdie komediant soms aan imposter syndrome ly? Kyk hier!