Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

VRY om te FLOREER!

Ek bedoel hier “vry” soos in vryheid. Hoewel die fisiese daad van soen ook sy voordele het! Onder andere vertel navorsing dat om jou geliefde te soen, verhoog die vlakke van oksitosien, jou liefdeshormoon, en jou liggaam se kalmeermiddel. En dit verhoog endorfiene, die goed-voel hormone. Dit het selfs die voordeel om jou immuniteit te verbeter. So in hierdie sin kan hierdie tipe vry jou wel help om te floreer!

Dis in sielkundige en teologiese kringe bekend dat Victor Frankl gesê het: “Ons grootste vryheid is die vryheid om ons houding (attitude) te kies.” Die besef dat jy die vryheid om jou houding te kies, is wat hom en andere gehelp het om die ellendes van die konsentrasiekamp in Auschwitz te oorleef tydens die 2de Wêreldoorlog.

Persoonlik dink ek die grootste vryheid is juis ons vermoë om te kies. Dis die vryheid wat God aan mense gegee het. Ons vermoë om te kies stel my in staat om te fokus en ek gee betekenis aan dit waarop ek fokus. Dit lei dan tot bepaalde emosies en gedrag.

Wanneer jy nie vry voel om te floreer nie, is dit omrede jy voel jy het nie meer ’n keuse nie. Jy fokus al hoe meer op dit wat jy voel jou vryheid om te kies, ontneem. Dus moet ons werk daaraan om te onthou: “Ek kan altyd kies!”

Die navorsers in positiewe sielkunde gebruik al hoe meer die woord “floreer” in plaas van net die woord “geluk”. Om te floreer, sluit baie aan by wat ons in die natuur waarneem. As ons sê ’n plant of boom floreer, dan bedoel ons dit dra vrug, dit gee saad, dit groei welig. Jy kan ervarings van bergtoppe en ervarings van valleie in jou lewe op ’n manier hanteer wat nie jou innerlike vreugde steel nie.

Waarop moet ons fokus om te floreer?

Die sogenaamde “vader van die positiewe sielkunde”, professor Martin Seligman, gebruik die akroniem PERMA om die elemente van floreer aan te dui.

  • Positive emotion: Dis om goed te voel. As jy ’n videogreep sien van ’n kindjie wat lag, of ’n diertjie wat eienaardige bewegings doen, wek dit ook positiewe emosie in jou.
  • Engagement: Dis om volledig in iets betrokke of teenwoordig te wees – wat hy “flow” of vloei noem. Dis veral waar jy jou sterkpunte en talente gebruik en as’t ware van die tyd vergeet.
  • Relationships: Dis opregte positiewe konneksies te hê met ander mense.
  • Meaning: Betekenis as ’n doelgerigte lewe – om iets of iemand groter as jyself te dien.
  • Achievement: Dis die ervaring om iets te bereik, om te slaag in iets.

Om te floreer, beteken dat ons kies om soveel as moontlik te fokus op positiewe emosies, om volledig in iets betrokke te raak, om positiewe verhoudings te kweek en opbouende betekenis aan ons lewe en insidente gee, en daarna streef om iets te bereik.

Ek geniet die wysheid van florering in Psalm 37: Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Dís waar ons vryheid om te floreer begin.

(Verkorte inspirasie gesprek op RSG Sondagjoernaal met Lizelle de Bruin Sondag 30 September 2018)


Wonder: Kyk hier vir heelwording.