DAG 2 IN ICU
“Hoe maklik of moeilik is dit vir jou om beheer af te gee?” Frederick kyk my ernstig in die oë. Hierdie ene gaan ek nie kan systap nie. Hy het die Sondag spesiaal van Stellenbosch gery om my te besoek voor hy by ’n familie-ete elders aansluit.
“Maklik!” Ek glimlag en vervolg: “As ’n mens ’n persoonlike tsunami beleef het, leer jy om te surrender.”
Tog het oorgee ’n eie proses om te wys dat ’n mens nie regtig so maklik oorgee nie. Jy gee jou oor aan Jesus. Dan leer die Gees jou om Hom te vertrou om jou te help om in een situasie na die ander te vertrou daar gaan uitkoms wees – jy moet net oorgegee bly. Dis die nederige deel – en dikwels gaan dit met vernedering gepaard.
Ek het myself nogal oorgegee aan Jesus én die proses. Ewe gelate het ek die inspuitings en bloedtrek en ondersoeke aanvaar. Maar ek sukkel met die aanvaar van die hoesery. Nie my eie nie – die hoesery van die siek ou vir wie ek nie kan sien vanuit my gordyn-sel nie.
Teen halfdrie die oggend wonder ek of ek nie die kussingmetode moet gebruik nie. Dis nou as jy ’n kussing oor iemand se kop druk dat jy nie die harde hoes hoef te hoor nie…
Soos my kinders altyd gesê het: Ek is nou oor dit! Die siek ou se harde gehoes maak slaap onmoontlik. Ek het gewonder of ek nie maar ’n slaappil vir die nag kan kry om al hierdie vreemde geluide te ignoreer nie, maar hulle moet my “observeer”. Observeer voel na dieselfde aksie as waarmee ons die aksie dopgehou het toe meneer die padda in biologie dissekteer en die ding nog sulke spasmas maak. Ek strek my bene – my arms kan nie eintlik met ‘n drupnaald in die een en die bloeddruk-band om die ander nie. Ek weet nie of julle die foto onthou van Gulliver wat vasgebind word deur die klein Lilliputiërs nie – ek voel nou omtrent so met al die monitordrade aan my lyf.
ICU is ’n lewendige plek. Moet ook maar wees anders was dit ’n grafkelder. Jy word kort-kort gemonitor deur die outomatiese oppomp van die stywe band om jou arm sodat jou bloeddruk gemeet kan word. As jy net insluimer, raas en pomp die ding. Verpleegpersoneel verskyn soos spoke in die halfskemer om jou te observeer. Dis my groot pret om vir hulle hard “hallo!” te fluister… Uiteindelik raak ek so vir 2 ure aan die slaap.
Toe word dit tyd vir die werklike toets: of ek maklik beheer afgee!
’n Manlike en ’n vroulike verpleër kom staan weerskante van my bed. Dis tyd om gewas te word. My voete mag mos nie grond raak nie. Gister al het ek gevra wat maak ek as ek ’n nood het. “O as doktor wil piepie bring ons ’n piepiehouer,” lig sy my vriendelik in. Ek was ’n nie gereed hiervoor nie. Wou nog met nommers werk. Dis mos nommer een. “En as ek wil nommer 2 – ek bedoel ek is gereeld…” Sy onderbreek my. “Dan bring ons vir dokter ’n pan.” Hemel, ’n pan is bedoel vir eiers bak! Ek sien myself al op die bed balanseer met al die toue aan my lyf terwyl ek go-cart ry met die pan. Los dan maar…
Hy trek die beddegoed van my lyf af weg en help die blou agterstevoor toga uittrek. Tot dusver was ek bevoorreg – ek het my eie onderbroek aangehad. Die moet ook waai. Hy gooi ’n handdoek oor sodat ek my onderbroek kan uitwikkel. Sy begin solank die beddegoed losmaak, want hulle gaan die bed ook oortrek met my nog bo-op. Dan word ek gespons van bo die handdoek en van onder tot by die handdoek. Dis eintlik ’n illusie: ek struggle om die handdoek in plek te hou, maar dié is dan hierdie kant af, dan daardie kant af soos ek van weerskante gewas word. Dan hy, dan sy. Ek gee toe nie heeltemal beheer oor nie. In The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy het hulle gewaarsku jy moenie waag om die vreemde in te gaan sonder jou handdoek nie. Dan kry ek die spons om onder die handdoek te was. Die laaste bres teen oorgee. Ek word op my sy gerol sodat die beddegoed onder my uitgetrek en ander ingevou kan word. Die handdoek wil nie lekker op ’n mens se sy in plek bly nie…
Ek het my misreken. Die volgende oggend, dag drie, het twee vroulikes my kom was. Toe kry ek twéé handdoeke oor my private dele. Dis nog meer van ’n gesukkel om alles toe te hou. Alles skuif oop en toe en oop en toe soos gordyne op ’n konsert wat uit sync toetrek. Toe gee ek maar beheer oor.
“Hier, doktor, hier is die spons.” Dankie – vir die voorreg om wel dáár te mag was.
Dis toe nie so maklik om beheer oor te gee nie. Veral nie oor dit wat ek gedink het privaat moet bly nie.
Sien ook episode 1 –
en episode 3 –
Kopiereg Dr Jannie le Roux