Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

UIT ICU

“Is u reg om te gaan?”

Ek is so bly om weer my voete te laat grond raak. Dis Maandagoggend nadat ek Saterdag in ICU opgeneem is. Wil net begin loop, maar word gekeer: “Nee, die portier met die rolstoel sal u neem na die saal.”

Lyk my nie hulle waag dit om mense wat nie op ’n reguit lyn kan loop aan hulle eie lot oor te laat nie. Toe ek vir iemand vertel dat ek heel na links afgewyk het toe ek op ’n lyn moes loop, lag hy en sê ek het vir Mugg & Bean gemik maar in Ocean Basket geland (die twee is regoor mekaar in ons Mall). Intussen het ek vir kollega Strydom gesê hy moet asb. die gemeente inlig dat ek die smal weg gaan verlaat en vir eers op die breë pad gaan loop, aangesien ek nie my balans kan hou nie…

Ek klim versigtig af van die bed en gaan sit in die rolstoel met my rugsak vol enkele besittings op die skoot. Nou wonder ek hoeveel bekendes ek in die gange gaan sien. Ek probeer myself wegsteek agter die rugsak,  maar is te lank. Probeer maar my hare so half in orde druk aangesien ek nog nie in ’n spieël gekyk het in 2 dae nie.

Ook nie ver gevorder nie, sien die eerste paartjie my: “Dr Jannie, wat soek jy hier?”

“Ek gaan vir ’n joy-ride,” sê ek half oor my skouer terwyl die portier laat waai om my by die saal te kry. Regoor die kafeteria kyk ’n tweede paartjie my verbaas aan: “Dominee, wat gaan aan? Waarheen gaan jy?” Weer my gunsteling uitdrukking van die oggend: “Ek gaan vir ’n joy-ride!”, en lag want dit voel nogal so.

Eers gaan sit hulle my in ’n saal waar twee baie ou ooms lê. Aggenee, ek dag ek het die gehoes en roggel geluide in ICU agtergelaat. Middagete word bedien. Ek is opgewonde oor my kos. Toe ek so ’n lekker hap in my mond het, laat waai die een oom met so ’n diep slym roggel. En nog ene…

Hoekom is dit as ’n mens iets probeer ignoreer dat dit al hoe harder klink? Ek gaan nie my  kos laat bederf nie en soek my oorfone. Ek stel nie in die televisie program belang nie, net in klanke wat die roggelhoes kan verdoof terwyl ek eet. Het jy geweet hoe baie stilte is daar tussen woorde waar roggelklanke kan deurdring? Hier gaan ek nie oorleef nie. ’n Gawe suster kom in. “Ons gaan u nou-nou skuif sodra die bed in die ander saal oop is.” Dit voel vir my soos die goeie nuus wat die herders by die engele gehoor het. Dis ’n verlossing.

Wilma daag op net toe ek met bed en al gestoot word na die ander kamer.

“Het jy dit ook geruik,” vra ek vir haar toe ek in my enkelkamer kom. “Ja dis erg”, trek sy haar neus op.

“Wel, dis nie ek nie,” keer ek vinnig. “Ook nie ek nie,” lag sy. Laat my dink aan die storie wat ek gehoor het van die professor wat in die hysbak by die opvoedkunde gebou van die US geklim het. Daar was ook so ’n afgryslike stink geur in die hysbak. “Was dit u, meneer?”, vra hy  vir die student. Waarop dié antwoord: “Natuurlik, Prof, dink jy ek stink altyd so!”

Sy loer by die deur uit. “Dit moet uit die kamer kom van daardie groot ou wat op sy maag lê,” lig sy my in. Twee verpleegpersoneel gaan verby met hulle hande voor hul neuse. Die geur word erger. Hulle verdwyn in die kamer. ’n Verpleegster kom kyk of alles by my in orde is en maak my kamerdeur agter haar toe. “Het iemand maagprobleme?” wil ek weet. “Ja, dominee, hy het gegaan voor hy die toilet kon haal…”

Deur die loop van die dag kom verskeie besoekers vir my kuier. Die aaklige geur bly hang. Ek bly verskoning maak, maar hulle troos my dat hulle dit al ruik voor hulle by my kamer inkom. Ironies sou ek gister oor die geur van God preek. Ek kan nou met priesterlike gesag verklaar: Daar is geen manier waarop God so kan ruik nie! Nee, o duiwel!

Die volgende paar dae word daar geswoeg om die matte in daardie kamer skoon te kry met industriële masjiene. Op die deur is ’n bordjie aangebring: Cleaning in progress. Toe die volgende pasiënt na ’n paar dae daar toegelaat word, wonder ek of ek vir hom moet gaan vra: “Ruik jy dit?” Net om seker te maak hy loop die pret nie mis nie. Een van my besoekers het my mos ingelig dat as jy melk in ’n kar gemors en weer daar skoongemaak het, kom die geur weer uit sodra die kar lank in die son staan. Sy kamer is hoeka aan die oggendson se kant.

So begin ek dink. ’n Mens het mos heelwat tyd om te dink as jy net rondlê in ’n hospitaal. Watter waarde voeg ’n mens toe as jy in ’n bed moet bly? Dis tog meer geseënd om te gee as om te ontvang. Hulle kom trek weer bloed en ek hou my arm reg. Na ’n rukkie breek dit deur. Ek dink my gee is om myself oor te gee aan mense se omgee en sorg vir my. So gee ek vir hulle kans om ook van hulleself en hulle tyd te gee. Net toe ek dit klaar bedink het, kom twee kollegas een na die ander in en ek deel my nuutgevonde wysheid met hulle.

’n Mens is so gewoond om iets te drinke aan te bied as iemand kom kuier, maar nou kan ek nie. Wag, die pakkie met die karamel lekkers wat kollega Strydom vir my gebring het, is nog nie oopgemaak nie. Ek bied lekkers aan. Ek wonder of Strydom ooit kon weet hoe spesiaal ’n mens voel as iemand vir jou lekkers gee. Soos met nagmaal deel ons in die proe en die hele atmosfeer is sommer lekker. Elke keer as ek vir ‘n verpleegster of besoeker ’n lekker gee, gee hulle vir my die lieflikste glimlag.

Naby die einde van die week besluit die fisioterapeute hulle moet ook kom help. Nie te veel loop en beweeg nie, want dalk skiet daar weer ’n bloedklont êrens los. Ek vra vir die een of sy weet wat die akteur Clint Eastwood se naam in Afrikaans is. Sy weet nie. Dis Klont Oosthuizen. Met al die klonte in my longe kan hulle my vir eers Klont le Roux noem!

Ek stap treetjie vir treetjie soos ’n ou oom om die sirkel tussen die kamers. Baie selfbewus, want my balans is nog nie goed nie. Sy laat my eers rus op ’n bankie wat so laag soos ’n koffietafeltjie is. “Klim versigtig op die tafeltjie in die handeviervoet posisie,” gee sy opdrag. Ek kyk haar oorbluf aan. Nie geweet om reg te kom van pulmonêre embolisme vra dat ek nuwe posisies moet aanleer nie. Wag tot Wilma hiervan hoor!

Dis nog nie al nie. Nadat ek versigtig handeviervoet soos ’n kunsuitstalling op die tafeltjie balanseer, kom die volgende bevel. “Nou lig jy jou regterbeen na agter en maak dit reguit en doen dieselfde met jou linkerarm na voor!”  Ek probeer my balans vind – nie geweet dis vir ’n hond so moeilik om sy been teen ’n boom te lig nie. Nou vir die arm. Ek sukkel weer om asem te kry, deels van hierdie oefening en ook van die lag wat wil uit omdat ek net myself kan sien: Superman in aksie! Tipies mens probeer ek half loer wie my skande sien, maar verloor my balans effe. Nou moet ek konsentreer om dit met die linkerbeen en regterarm te doen. Weer met die regterbeen en toe weer die linkerbeen. “Genoeg vir een dag,” word ek bevry. “Sit eers en kry jou asem terug.”

“Is jy reg om terug te gaan?” Nou ja, ek het intussen weer die loop-op-’n-lyn-toets gedop. Ek kry dit reg as ek my voete soos ’n eend s’n na die kante uitswaai en my arms soos ’n voëlverskrikker werk. Maar nie as ek mooi met my voete reguit moet loop nie.

Ons selgroep kom kuier. Daarna gaan eet hulle en laataand bring Wilma vir my ’n bakkie met warm slap tjips. Ek verbrand my mond so vinnig eet ek aan hierdie lekkerte. Mos altyd gesê ek eet slap tjips om te detox.

Teen die Vrydag word ek ontslaan om my stil te gedra by die huis vir die volgende drie weke. Terwyl ek een dag in die braaikamer sit en lees, vlieg ’n duif teen die venster van die skuifdeur vas met ’n harde slag. Ek hou die duif dop wat op sy rug lê om te sien of hy weer gaan vlieg. Maar nee, die lyfie ontspan… die duif is dood.

Ek het op die internet hierdie aanhaling van Marcelle Proust oor die dood gesien. We say that the hour of death cannot be forecast, but when we say this we imagine that hour as placed in an obscure and distant future. It never occurs to us that it has any connection with the day already begun or that death could arrive this same afternoon, this afternoon which is so certain and which has every hour filled in advance.

Die duif het nie die dood sien kom nie. Ek ook nie die bloedklont nie. Soveel keer moes ek hoor dat ek bly kan wees ek lewe. Ek ís bly om te lewe. Toe ek die Saterdag op die vloer gaan lê en wag het vir die duiseligheid om oor te gaan, het ek vir ’n oomblik gewonder: “Is dit iets is wat my gaan laat sterf? Dan is dit so. Ek weet aan Wie ek behoort.”

Noudat ek terugkyk oor 4 weke, besef ek: As dit my tyd is, dan is dit so. Ek weet aan Wie ek behoort.

Ek weet ook vir wie ek op aarde lief het. Alhoewel ek reg is om te gaan, is ek nie nou lus om te gaan nie…

Sien ook episode 1 –

en episode 2 –

Kopiereg Dr Jannie le Roux