Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

DAG EEN IN ICU

“So iets soos hierdie bloedklonte in die longe behoort mos nie iemand so jonk soos ek te tref nie”, sê ek vir die internis.

“Dis jou opinie”, antwoord hy ewe droog. “Jy is ‘n baie gelukkige man – 25% mense maak dit nie eens nie!”

So begin my lewe in die ICU na die oggend se geweldige duiseligheid, verlies aan balans en meer as twee weke se kortasem wees. Mind over matter het gemaak dat ek aangebeur en selfs gegym het. Ons het gedink dis maar bronchitis. Toe ek vir die tweede keer weer op vloer gaan lê omdat ek so drukking ervaar en dronk voel, ry Wilma vinnig met my na die dokter.

My dokter sê: “Staan en maak toe jou oë.” Dis weird – ek begin heen en weer wieg soos vir omval. Hy keer my van voor met sy regterarm, dan wieg ek weer agtertoe en keer hy my met sy linkerarm. Ek voel soos ’n tennisbal tussen twee spelers. “Jy kan jou oë oopmaak.” Dan beduie hy: “Loop op ‘n reguit lyn.” Ek begin maar loop die lyn heel mis. Probeer weer, nou in ‘n ander koers. Wat gaan ek vir die verkeerspolisie sê as hulle my nou aftrek. Sal darem die pypie blaas slaag…

In ICU lê ek in my eie gordynhokkie gekoppel aan ‘n monitor en drup. In een van die ander gordynhokkies gorrel-hoes ’n ou luidkeels. Dit gaan ’n lang nag wees as hy heelnag so aangaan. Bo my raas die monitor omdat ek my regterarm met die drup in te veel geknak het en die vloeistof se vloei belemmer. Help nie hier om grillerig te wees vir naalde in jou lyf nie. Naas die drup se naald in my arm kom trek hulle by drie geleenthede bloed uit my linkerarm om elke keer vir iets anders te toets. Ek draai effe op my sy. O genade, daar raas ’n ander monitor omdat ek een van die drade wat aan my lyf gekoppel is per ongeluk uitgetrek het. Ek probeer dit terugknyp aan die sticker op my bors maar dis nogal moeilik met ’n ander monitor gekoppel aan my linkerhand se middelvinger.

Dan stoot hulle ’n masjien wat lyk soos ET voor my in om ’n X-straal van my longe te neem. Al die personeel is baie vriendelik met my. Die internis is bekommerd oor wat hy op die X-straal sien. Die CT-scan van my brein die oggend het niks gewys nie – ek bedoel dit het niks slegs gewys nie. Blykbaar is dit nie vreemd dat ’n mens ’n baie klein bloedklontjie in die breinstam kan kry wat die balans laat versteur en dan nie wys op die scan nie. Hulle haal die drade weer af en ek word met bed en al gang af gestoot tot by radiologie. Nou gaan dit ’n CT-scan van my longe wees.

“Hier’s ek weer!” lag ek toe dieselfde radioloog my sien. Omdat dit Saterdag is, is sy op roep en het nou weer spesiaal ingekom vir hierdie sakie. Ons moet die monitorstickers van my bors afhaal. Ek het al verskeie bygekry na die eerstes die oggend wat hulle my hart ook gemonitor het by ongevalle. Sy pluk die eerste een af terwyl ek ’n ander ene probeer aftrek. O genade, ek het nie rekening gehou met die hare op my borskas nie. Teen die vierde ene se aftrek is ek so dankbaar ek is nie ’n vrou wat gereeld moet wax nie.

“Ons gaan weer jodium inpomp en jy gaan weer dieselfde gevoel kry as vanoggend. Jy weet mos hoe om dit te beskryf,” lag sy lekker oor my opmerking die oggend. Sy het my gewaarsku as die jodium in my are ingaan gaan ek ’n warm gevoel van my gesig tot my onderlyf voel “en party mense sê dit voel amper asof jy jou broek natmaak.” Ook proe ’n mens ’n metaalsmakie.

Vanoggend het ek haar reggehelp na die jodiumsessie. “Nee, as die jodium jou onderlyf tref, is dit dieselfde gevoel as die  volgende oggend nadat jy sterk Thai-kerrie geëet het!” Ek lê en wag. Hier begin die warmte…

Die internis diagnoseer my met pulmonêre embolisme. Die sukkel om asem te haal is blykbaar ook deel hiervan. “Jou longe is vol bloedklonte. Jy is ’n baie gelukkige man om hier te wees!”

Sien ook episode 2 – 

en episode 3 –

Kopiereg Dr Jannie le Roux