Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

GESEëNDE GEWOONTES

Ek en my vrou oefen normaalweg saam in die gimnasium. Maar toe tref ’n verkoue een van ons. En toe tref die winter ons. En die einde van die kwartaal. En ons slaag daarin om elke keer ’n verskoning te kry om nie te oefen nie.

Tot hierdie Maandag.

Toe besluit ons op ’n sekere tyd en ons gaan oefen. Weet jy ’n mens voel so goed daarna. Al die goedvoel hormone skiet los soos pofkoring en jy voel so goed jy wil dit weer doen.

Dit het my laat dink oor ons gewoontes. Sommige gewoontes vernietig ons goedvoel oor onsself. Dit vernietig selfs ons gesondheid en lewe. Terwyl ander gewoontes ons opbou en gelukkig oor onsself en die lewe en oor ons verhouding met mekaar en God laat voel. Dis laasgenoemde gewoontes wat ek geseënde gewoontes noem.

Geseënde gewoontes is die tipe gewoontes wat God se guns geniet en jouself en ander opbou.

Soms sukkel ’n mens met wilskrag om ’n geseënde gewoonte te bly navolg.

Hoe kan ons meer geseënde gewoontes navolg en die slegtes laat los?

Ons moet besef dat ons altyd eers emosioneel reageer en dis met die oog op oorlewing. Daarom sal ons altyd iets wil doen wat vir ons plesier verskaf en pyn weghaal. As ons brein dink iets gaan vir ons plesier gee, word ons brein oorspoel word met dopamien. Dopamien is die goedvoel hormoon wat vrygestel word as beloning vir iets wat ons voltooi. Navorsing wys dat net die idee aan iets wat ons vantevore gehelp het om ’n oomblik se plesier te ervaar, laat al dopamien vrystel. Daarom kan jy aan niks anders dink as om weer daardie ding te doen nie – al weet jy daardie gewoonte kan jou vernietig – soos bv. dwelmgebruik doen.

Dink byvoorbeeld aan kaaskoek… veral as jy daarvan hou.

Dit herinner my aan die dame wat ’n streng dieet gevolg het en toe by die werk opdaag met die mees dekadente kaaskoek. Daar is alreeds aan die koek geproe, kan jy sien. Verstom vra die ander mense: “Ons het gedink jy is op ’n dieet sonder kaaskoek?”

Waarop sy antwoord. “Ek was vanoggend vreeslik lus vir kaaskoek. Toe ek verby die koekwinkel ry, sien ek die kaaskoek daar. Toe bid ek en vra dat die Here vir my ’n teken moet gee. As daar ’n oop parkeerplek voor die winkel is, sal ek weet dis ’n teken om die kaaskoek te kry. Sowaar, toe ek die vierde keer om die blok ry, is daar ’n parkeerplek voor die winkel oop!”

Gewoontes neem maklik oor en ons dink redes daarvoor uit, daarom moet ons die geseëndes in plek kry.

Hoe breek ons hieruit en bou ’n goeie gewoonte?

Ons lees in Lukas 4:16 dat Jesus soos sy gewoonte was, op die Sabbatdag na die sinagoge gegaan het. In Lukas 22:39 meld Lukas weer dat Jesus na die Olyfberg gegaan het waar Hy gereeld gegaan het om te bid – volgens sy gewoonte. Dis opvallend dat Lukas dit juis as geseënde gewoonte aandui. ’n Geseënde gewoontes word ingeoefen. Ons brein aanvaar dit as normale praktyk sodat ons dit outomaties doen. Die geheim is om iets intensioneel lank genoeg te bly inoefen sodat ons nie weer daaroor hoef te dink nie.

Charles Duhigg in sy boek The power of Habit het my help verstaan dat ’n gewoonte bestaan uit ’n neurologiese patroon wat begin by ’n sneller wat die outomatiese roetine laat inskop wat sal lei tot ’n beloning. Begin jou geseënde gewoonte met ’n goeie sneller en vermy die slegte snellers. Byvoorbeeld sit jou oefenskoene en oefenklere klaar reg op pad na die deur sodat jy dit outomaties aantrek, dan gaan jy makliker oefen.

Want:

Jy is nie ’n slagoffer van jou gewoontes nie. Jy kan kies om intensioneel jou gewoontes te verander na geseënde gewoontes.

(Min of meer soos uitgesaai deur RSG Sondag 10 Julie 2016 in Sondagjoernaal)