HOEVEEL MôRES HET JY?
“Môre!” kan beteken ons groet as ons mekaar vandag vir die eerste keer sien. Dit kan ook beteken dat dit die volgende dag gaan wees. Maar tussen vandag se groet en môre se opdaag kan hierdie oomblik die laaste ene wees.
Woensdag 10:47 land ek en ander kollegas in Johannesburg. Ons woon ’n vergadering by wat die kerk moet leiding gee om meer missionaal te wees.
Die vergaderplek se naam is ‘eMSENI’ – ‘n Plek van Genade. Skaars 15 minute vanaf OR Tambo lughawe.
Om 11:17 stuur ek vir Wilma ’n foto van my kamer waarin ek gaan oornag.
Ek stap van my kamer na die vergaderlokaal – dis die linkerkantste saal van drie sale waarvan die middelste ene ’n eetsaal is.
Op pad sien ek mooi tonele: Galilee Way-staproete vir stilwees, vloeiende water as simbool van lewe.
’n Geopende graf met die woorde HE IS RISEN wat herinner, Jesus het opgestaan!
Ek kuier ’n oomblik by ander lede op die stoep en stap die eetsaal binne.
Freddie, ons voorsitter kom vinnig verby. Ek roep “Goeiemôre!” Hy wuif en sê hy kom nou gesels. Hy verdwyn in die ander saal.
Ek maak vir my koffie en groet ’n paar ander.
Rinel kom vinnig uit die ander saal en roep: “Het iemand kennis van noodhulp?” Rinel het reeds probeer help en toe kom hulp soek. Ester roep: “Jannie, kom help!”
Agter die tafel waar die voorsitter normaalweg sit, lê iemand op sy rug, feitlik teen die muur agter hom. Dis Freddie! Frederick is ook by hom. Ek voel die pols in sy nek en voel niks. Sy lyf is warm.
Ek begin sy bors druk maar niks gebeur nie. Hy maak net ’n effe steungeluid. Tienie neem oor met ritmiese drukking op sy bors. ‘n Ander Jannie begin met mond-tot-mond asemhaling. Ek voel sy pols en voel niks en ons bid fluisterend.
‘n Lang storie korter: ons bid, ons blaas, ons bly doen drukbewegings op sy borskas. “Kom Freddie!” roep ons kort-kort. Iemand bel die nooddienste. Ek neem my selfoon en sit die skerpliggie aan en skyn in sy oogpupille. Hulle verander nie. Maar ons hou aan. Bly hou weer my vingers teen sy keel en my ander hand s’n op sy linkerpols in die hoop vir moontlike polsslag.
Na wat soos ’n ewigheid voel terwyl ons hom aan die lewe probeer hou, kom die nooddienste daar aan. Koppel hom aan hul masjien.
Maar daar is geen lewe nie…
Ek vra almal om ’n kring te vorm terwyl ek sy hand vashou. Meteens kry ek die prentjie in my kop van die afbeelding van die leë graf waary ek netnou nog verby geloop het. Helder sien ek weer: “He is risen.”
Ek haal diep asem en sê hardop vir die lewende, opgestane Jesus dankie dat Freddie syne is. Bid vir vrede en troos vir almal, en vir sy vrou en kinders wat nog nie weet nie. In daardie oomblik besef ek dat ek dit slegs kan doen omdat ek glo Jesus het opgestaan en leef.
Toe na die eetsaal. Ek maak keel skoon en probeer die seker 40 mense wat besig is om te eet en gesels se aandag kry. Ek sê: “Freddie is so pas oorlede. Miskien moet julle asseblief na ete in die tuine gaan loop en stilword. Dalk verby daardie geopende grotgraf op pad hierheen.” Ek stel voor dat almal 14:00 terugkom en iemand verder sal reël. Jy kan die skok op al die kollegas se gesigte sien. Skielik smaak die kos nie meer lekker nie.
Toe is die lang en gespanne wag vir Alma, sy vrou. Wat sê ’n mens? Sy dogter se een beste vriendin, Maartje, en ander wag ook.
Agterna sien ek op my WhatsApp dat ek vir Wilma 12:56 laat weet het: “Onaangename nuus. Ek wag gou vir Freddie se vrou. Hy is netnou aan vermoedelik ’n hartaanval oorlede. Ons bes probeer om te help.”
Wilma is ook geskok. Sy het nog die oggend vanuit Stellenbosch telefonies met hom gepraat oor ‘n werkverwante aangeleentheid. Sy woorde aan haar was: “Praat gerus – daar’s nog baie tyd – ons begin eers eenuur met die vergadering.”
14:00 gaan verby. In die kapel, op ’n ander plek op die gronde, begin die res van die vergadergroep ’n rou-en-troosgeleentheid.
Ek is dors maar wil nie nou loop en iets te drinke soek nie. Die son skyn helder en skerp en ek gaan staan in die skaduwee. Alle kleure lyk helderder, voel meer gefokus, maar die stemme bly gedemp praat asof ons nie iemand wil wakker maak nie.
’n Motor kom ingery. Dis nie sy vrou nie. Nog ander motors. Ek gaan skink vinnig koeldrank vir my en kom weer uit. Uiteindelik daag sy vrou op saam met drie vriendinne. Sy het die nuus klaar gekry.
Sy is klein en fyn. Ek kan net dink dat sy baie veilig by hom moes voel, want hy lyk vir my soos ’n ‘huggy-bear’. Maar ek het hulle nog nie saam gesien nie. Ek noem my naam en loop met my arm om haar skouer na die saal.
In my gedagtes wens ek dat hy regop sal sit as ons daar kom. Ons stap die stil saal binne. Ons voorsitter lê onder die kombers waarmee ons hom toegemaak het.
“Los my ’n bietjie by hom asseblief,” vra sy. Sy sak langs hom neer met ’n sagte huil: “Ons het gehoop om saam oud te word!”
Hy is jonger as ek.
Later gaan sit ek langs hulle op die grond. “Het hy gely?” vra sy. “Nee, dit was baie vinnig,” verseker ek haar. “Kan ons saam bid?” vra ek. Hou hulle twee se hande styf vas. Haal diep asem en vra vir seën en vrede en troos, en sê dankie vir Freddie.
In die misterie van die heilige oomblik is hartseer en dankbaarheid ’n tweeling.
Later die aand besef ek: missionaal of gestuur wees beteken dat ’n mens saam hande hou in iemand se nood. Dis om te konnekteer met iemand wie jy enkele minute vantevore nog nooit in jou lewe gesien het nie. Omdat dit die lewe van Jesus is. Omdat jy Jesus in hulle midde leef.
Dis die wonderwerk: dat ’n mens iemand kan troos met die hoopvolle nuus dat Jesus leef, en dat hierdie lewende Jesus oor die grense van die dood en oor alle grense saam met jou loop.
Ons almal het die dag aangepak asof dit net nog ’n môre is. Vir mekaar “Goeiemôre!” gesê. Min wetend hoeveel môres op elkeen van ons wag. Jakobus herinner nogal dat ons eerder moet sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen” (4:15).
Ek weet nie wat in jou week wag nie. Ook nie in myne nie.
Dalk moet jy net doen wat jy moet doen: in die oomblik wanneer iemand léwe nodig het!
As jy Jesus volg, weet dan:
Ek is gestuur vir die oomblik.
Ek is gestuur om Jesus in hulle midde te leef.
Ek is gestuur om die lewe van Jesus te leef.
Ek is gestuur!
(Daar is soveel wat gehelp het – hierdie ervaring is net wat en wie ek kan onthou in die fokus van die oomblik. Dankie vir jou inspirerende lewe, Freddie!)
GEWONDER: Hier is ‘n saamgestelde video oor die tyd wat ons het.