Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Dié KODE het alles VERANDER!

Gestel jy kry ‘n kode wat jou héle toekoms verander?

Gestel as jy hierdie kode op so ’n plek dra dat ander mense dit ook kan sien en 94 miljoen mense dit Google in die bestek van enkele ure?

Ek sou nogal reken dat dit ’n trefferkode is!

Onlangs het ek hierdie treffende kode gebruik om mense te inspireer. Soos ek self deur dié kode geïnspireer is.

Dit het alles begin by iemand wat met Jesus in die nag kom gesels het. Soos ons ook dikwels maak as ons nie antwoorde het nie en twyfel en sukkel om dinge te verstaan.

Toe ek hierdie gebeure in Johannes 3 lees, besef ek Nikodemus het gesukkel waarmee ons soms sukkel: jy probeer ’n goeie mens en selfs goeie kerkmens wees, maar dit voel jy lééf nie.

En die kode? Net nog eers:

Na my mening het Nikodemus besef “Ek lééf eers regtig as God met my is… en Jesus leef só dat ek kan sien God is met Hom…” (vgl. vers 2)

Toe gesels Jesus met hom oor opnuut “van Bo” gebore wees, want dit gee egte léwe.

’n Mens moenie die werking van die Gees onderskat nie. As jy eers met Jesus begin gesels, begin hierdie verandering van Bo wat die Gees bring. Ons weet nie regtig hoe die gesprek geëindig het nie. Waarskynlik het Nikodemus in die donker weggesluip. Tog was dit later Nikodemus wat dit gewaag het om die liggaam van Jesus na Sy kruisiging te balsem! Jesus se dissipels is skoonveld, maar hy kom en wys dat hy nie meer in die donker wil beweeg nie.

Dit het alles te make met dié kode:

Die KODE VAN LIEFDE –

“3:16”

Sy ontmoeting met God het sy lewe in léwe verander! Want God soek nie religie nie, maar ’n relasie. Spesifiek: ’n LIEFDESRELASIE met óns.

“Want SO lief het God die wêreld…” (Johannes 3:16)

Hierdie “so” beklemtoon die idee van oneindigheid, sonder grense, volkome en volledig. Dis die intensiteit van God se liefde.

Die hele 3:16-kode verduidelik: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Johannes evangelie).

Kom ons verbeel ons ’n oomblik ons kry ’n transkripsie van dié gesprek in die hemel:

God sê heeltyd vir Jesus en die Heilige Gees: “Weet julle, Ek is so lief vir die mense wat ons geskep het. Ons het hulle na Ons beeld gemaak, maar hulle bly al verkeerd neig. Met hulle sondigheid kan hulle nie naby ons heiligheid kom nie. Ons heiligheid sal hulle verteer soos vuur wat onkruid verbrand. Iemand moet hulle red. Iemand wat in hulle plek die offer vir hulle sonde sal wees sodat Ons saam met hulle kan wees.”

Jesus kyk na die Heilige Gees en weer na God: “Ek het hulle net só lief. Dit maak eintlik seer só lief het Ons hulle. Ek sal gaan.”

Heilige Gees: “Jesus, is Jy seker? Jy weet dat Jy soos hulle gaan mens word en lag én huil. Jy gaan pyn verduur as hulle jou kruisig?”

Jesus: “Ja, Ek is seker. Maar Ek doen dit vir almal, ongeag hulle godsdiens, geslag, ras, posisie, rykdom, of watter ander goed hulle ook al gebruik om vyande van mekaar te wees. Ek sal dit doen.”

Heilige Gees: “Ek sal by Jou wees.”

God: “Daar is net een rede hoekom Ons dit doen. Omdat Ons hulle só lief het. Ons wil ’n liefdesverhouding met hulle hê. Ons sal Onsself in hulle plek gee vir hierdie liefdesverhouding. Want Ons wil hulle vir ewig saam met Ons laat lewe!”

Heilige Gees: “Jesus, is jy reg hiervoor?”

Jesus: “Ja, Ek is só lief vir Julle. En só lief vir die hele wêreld!”

God: “Gaan, Seun van God. Jy is my Enigste en my Beste. Gaan wees God met hulle.”

Jesus: “Ek gaan, want Ons wil nie vir ewig sonder hulle lewe nie!”

En so gee God se liefde léwe, want God wil saam met ons wees – vir ewig!

Toe maak ek soos Tim Tebow, ’n Amerikaanse professionele voetbalspeler. En plak dié kode onder my oë na ons die video oor sy ervaring gespeel het (sien “WONDERLIK” hier onder). Die gemeente het verras gelag toe ek skielik so verskyn, en in ons ander sentrum spontaan handegeklap.

Ek gaan jou wed: niemand wat dit sien en snap, sal hierdie kode vergeet nie. Nie omdat Tim of ek dit gedra het nie, maar:

Omdat God óns Só lief het!


WONDERLIK! Kyk hier hoe Tim Tebow se optrede eintlik ‘n wonderwerk begin het!