Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

ENERGIE VIR DIE RES VAN DIE JAAR!

“Januarie is al weer verby. Hoe gaan ons energie put vir die res van die jaar wat voorlê?”  vra Lizelle my tydens Sondagjoernaal op RSG*.

Ek het ’n baie eenvoudige oefening wat ek vir mense laat doen en natuurlik self doen as ek voel ek is nie so gelukkig en vol energie nie. Op ’n skaal van 1 tot 10, waar 1 geen energie en lus vir die lewe is nie, terwyl 10 die wonderlikste is hoe jy gaan voel, besluit hoe jy nou op die oomblik voel. Wat is jou getal? Sê maar jy het ’n 7 (so jy voel eintlik goed) wat kan jy vandag doen om dit ’n 8 te maak?

Die probleem is dat ons dink ons moet nou van ’n 2 of ’n 4 direk na ’n 10-gevoel toe gaan en dit maak ons by voorbaat lam. Die geheim is om net 1 punt te styg. Dis doenbaar. Dit help jou fokus. Skuif net jou dag met een punt. Die winspunt is dat jy meer energiek voel. ’n Mens kan hoe moeg wees, maar as jou vriend jou nooi vir iets wat vir jou belangrik is, soos om ’n opvoering te sien of saam rugby toe te gaan, kry jy meteens nuwe energie. Dis daardie een ding wat jou lewensvreugde met een punt lig. So die kuns is om vandag net met 1 punt jou gemoed en dus jou energie te lig.

Die geheim is om vroegoggend met jou een belangrikste punt te begin en dis om jou dag saam met God begin.

Die Psalmdigter in Psalms 118:24 jubel: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” In sy geval het hy ’n moeilike tyd beleef, maar tog het hy vertrek van die 1 punt waarmee hy sy dag kan verander en dis die wete dat God dinge reg gaan laat uitwerk.  Waar jy ook al vandag is, herinner jouself aan hierdie wonderlike feit: God het hierdie dag gemaak. Dis ook die psalm wat Jesus gesing het voor sy kruisiging.

Die punt van fokus op vandag is dat jy nie lamgelê word deur die mislukkings van gister of die uitdagings van môre nie. Vandag is doenbaar met God se omgee en hulp. Wanneer ’n mens leef met die geloof dat ek vandag saam met die Here deurbring – in alles wat ek doen – voel jou lewe net meer betekenisvol en dit skep weer energie.

Energie het te make met waarop jy fokus, asook die storie wat jy dan vertel en glo.

Elkeen van ons het ’n storie wat óf vir ons meer energie gee, óf ons emosioneel dreineer en ons laat voel ons het nie energie nie.

As jy fokus op die moeilikheid en nou die storie vertel en dus glo dinge gaan nie reg uitwerk nie, is jou energie klaar laer. Aan die ander kant: as jy vir jouself vertel dat hierdie goed wat gebeur jou help om jou drome en planne te verfyn, het jy ’n totaal ander storie wat meer energeer.

Gaan weer deur jou sak vol drome en kies een. Vra jouself hóékom jy dit eintlik wil doen. Dis die dieper betekenis. Jou werklike diep positiewe rede hoekom jy iets wil doen, is die storie wat jy jouself moet bly vertel. Dis hoekom Jesus gesê het soek eers die koninkryk van God” in Matteus 6. Gebruik daardie fokus en storie om jou te herinner waarom jy doen wat jy doen.

Nog ’n paar wenke:

  • Bou vir jou iets in wat vir jou ekstra vreugde gaan besorg – dit hoef geen geld te kos nie! Jy moet net iets inboek wat jy weet: ek sien daarna uit!
  • Slaap genoeg. Liggaamsherstel deur die nag gee energie vir die dag.
  • Oefening gee energie en dan sien jy meer kans vir goed, dink jy beter, is jy meer kreatief
  • Dankbaarheid. Die Bybel sê mos wees altyd dankbaar. Sien elke dag drie goed waarvoor jy dankbaar is – drie nuwe goed elke keer. Dit maak jou oop vir vreugde en nuwe potensiaal. En energie!

Wat gee jou meer energie?

* (laaste stukkie van Sondag 29 Januarie 2017 http://www.rsg.co.za/potgooi.asp)

WONDERWOORDE In hierdie video is nogal woorde wat jou energievlakke kan opjaag!