Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Die wonder van EEN!

“Health, wealth or a good life” beduie die gids na drie afsonderlike alkowe. Elkeen het ’n kraan waaruit jy ’n slukkie water kan neem en ’n wens maak vir een van hierdie drie goeie voorspellings vir jou lewe.

Ons is in Turkye saam met mede-pelgrims. By Efese besoek ons die huis van Maria, Jesus se moeder, waar sy volgens oorlewering na sy dood gebly het. Dis ’n plek van toewyding en besoekers word versoek om stil te wees. Buite in die tuin is hierdie plek met die drie krane. Uit watter ene sal ek drink? Ek wag tot almal aanbeweeg na verskillende dele van die tuin om ’n bietjie stil te raak en stap toe nader…

Uit watter kraan sou jy drink?

Op ’n manier forseer hierdie vraag ’n mens om ’n besluit te neem. Dis ’n beginsel wat ons ook kan toepas vir ons lewe in die algemeen. Wanneer ons doelwitte stel vir ’n nuwe jaar, ly ons aan wat die bekende Bill Gates van Microsoft-faam gesê het: “Ons oorskat wat ons in ’n jaar kan doen en onderskat wat ons in tien jaar kan doen.” Geen wonder so baie gee dan op sodra die jaar ’n entjie gevorder het nie. Verlam deur die versoeking van te veel begeertes. Daar is net té veel wat jy tegelykertyd wil aanpak.

Maar wat sou oor tien jaar nog belangrik vir ons wees?

Van ons doelwitte is gewoon vrees-gedrewe. Ons wil oorleef, so ons voel ons móét dit doen anders gaan ons onder. Ander is vergelyking-gedrewe. Ek is bang as ek dit nie doen nie, gaan ek nie suksesvol wees nie. Beide vrees en vergelyking is oorlewingsbehoeftes.

Soos ek naderstap na die kraan, wonder ek: Wat is die één ding wat ek begeer – en ook kan doen – wat my werklik vreugde en oorvloed sal laat beleef?

Wanneer ’n mens groter kyk as net binne die perke van vrees of vergelyking, kom jy in die panorama van vreugde en oorvloed. Dis waarmee hierdie één vraag help:Wat is die één ding wat ek begeer – én ook kan doen – wat my werklik vreugde en oorvloed sal laat beleef?

Dis om met ’n roeping te leef. Soos Frederick Buechner dit stel: “The place God calls you to is the place where your deep gladness and the world’s deep hunger meet.”

Dis om te verstaan dat as jy die één ding doen wat jou diepste mooi menswees kenmerk, is jy besig met Jesus se “…beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee”(Matteus 6:33).

Daarom help ek deesdae mense om te ontdek wat is die één woord wat hulle menswees en hierwees die beste sou beskryf. Natuurlik kan dit in ’n ander seisoen van hulle lewe ’n ander woord wees, maar wat is die één woord wat die rede vir jou hierwees nou die beste beskryf? Op ’n wonderlike manier bring hierdie een rede helderheid vir die doelwitte wat ek wil stel. Die resultate kan ons nie regtig beheer nie, maar die rede kan ons kies en dit gee vir ons rigting.

Wat is die één woord wat die rede vir jou hierwees nou die beste beskryf?

Dis na daardie kraan wat jy moet loop. En dit mag iets anders wees as net “health, wealth or a good life”. Maar dis iets wat altyd die koninkryk van God en wil van God duideliker maak. Dis die diepste vreugde en oorvloed.

Toe vat ek maar ’n slukkie… by al drie…

Maar ek weet my één ding en één roeping is: inspirasie!

Joune?