JOU KLIP IN DIE SOP?
“Dominis, ek het boontjiesop,” sou tannie Hannie my bel. Sy het altyd die dominee-titel so ’n bietjie verander. Soms het ek gewonder of sy my in gedagte het as sy die klem op die “dom” van dominee laat val. Gewoonlik is dit al aand as sy die slag bel. Of ek geëet het of nie, ons ry gou oor na hulle plaas toe waar oom Jan my lankal inwag, reg vir die groot bederf. Dan word daar gekuier en stories vertel. Goeie herinneringe. So jammer hulle is in die fleur van hulle lewe in dié skemer-ongeluk oorlede…
Wat is jou sop-storie?
Wat my eintlik aan die dink gesit het oor my sop-storie, is die verhaal van die klip-sop. Ek weet nie waar ek dit die eerste keer gehoor het nie. Daar is bowendien verskillende weergawes daarvan. Die basiese storielyn is min of meer só:
Eendag was daar ’n groot droogte. Mense het hulle kosvoorrade weggesteek uit vrees dat hulle te min gaan hê. Toe kom ’n vriendelike vreemdeling in die dorpie. Hy word gou afgeraai om te bly, want “daar is nie kos nie”.
“Moenie bekommerd wees nie. Ek het meer as genoeg. Terloops, ek het nogal gedink ek gaan klip-sop maak. Ek gaan dit met julle deel,” stel die vriendelike vreemdeling hulle gerus.
Hy vra iemand se ysterpot, maak dit vol water en maak vuur onder die pot. Toe die water begin borrel, haal hy ’n gewone klip uit sy binnesak. Hy laat val dit seremonieel in die kokende water en sit die deksel op. Rondom hom het nou al ’n hele klomp mense kringetjie gemaak om te sien wat hy doen.
Hy lig die deksel skuinsweg en ruik, terwyl hy sy lippe aflek in afwagting van die heerlike sop.
“Klip-sop saam met kool, dis nou vir jou ’n lekker sop. Dit sal baie lekkerder wees saam met kool,” mymer hy hardop. ’n Rukkie later kom een van die mense met ’n koolkop wat hy weggesteek het.
“Fantasties!” roep die vriendelike vreemdeling uit. “Klip-sop met kool. Sjoe, ’n stukkie bees en ’n knippie sout sal dit ’n fees maak!” Iemand bring dit. Nog ene sê: “Ek het wortels om by te voeg.” En ’n ander: “O, ons het aartappel!” En so bring die mense een na die ander hulle weggesteekte kos en voeg dit by die klip-sop. Die uiteinde is ’n heerlike maaltyd waarin almal deel!
Dit laat my dink aan Jesus wat in Johannes 6 vra waar hulle kan gaan brood koop om die skare mense kos te gee. Sy vraag is die “klip in die sop”. Andreas vertel van die seuntjie. Toe kom die seuntjie se twee vissies en vyf brode by. En God se hulp: “Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het…” Net die mans alleen was omtrent 5000. Dis so oorvloedig dat twaalf mandjies vol stukke garsbrood oorgebly het.
Nota vir myself:
- Vra doelgerig. Die vráág is die klip! As jy nie vra nie, het jy ’n 100% nee. As jy vra het jy ten minste ’n 50% kans. En vra in die rigting van die verwagte uitkoms!
- Wat het jy? Begin met wát daar is, die res sal bygevoeg word. Dis eintlik wat gebeur in die “brain-storming” sessies. Elkeen bring wat hy of sy wel het.
- Deel. Oorvloed en vreugde is om die bydrae van ander te beleef en jou eie deel by te voeg. As jy iets saam met iemand ervaar, is dit dubbeld so lekker as wat jy op jou eie sou doen. As almal bydra, is daar groot opwinding!
God is nogal in die oorvloed-besigheid. Sop en broodjies en vissies is net die begin…
Wat is jóú klip?
(Bewondering: Sam Berns het gelukkig sy filosofie vir ‘n gelukkige lewe met almal gedeel net voor sy dood.)