Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Positiewer – met ’n Duchenne-glimlag!

“Ek kan nie onthou jy moes ook ’n paar ‘stents’ kry om jou are oop te hou nie,” kyk ek hom verbaas aan. “Jy het dan altyd so gesond gelyk!”

Sy vrou sê droogweg: “Jy kan tog ook nie almal se ‘stents’ onthou nie…”

Ons lag almal lekker saam, daardie tipe lag wat plooitjies langs jou oë vorm. As jy nie net jou mondhoeke lig nie, maar ook met jou oë glimlag, doen jy die Duchenne-glimlag. Die anatomie-kenner Guillaume Duchenne het in die 1800’s die unieke verband tussen positiewe emosie en hierdie tipe glimlag bestudeer.

Toe die helfte van my e-posadresse skielik die afgelope week verdwyn, het my glimlag ook in die slag gebly. Bowendien was my blog ’n tyd van die lug af met die oorhandiging na ’n beter diensverskaffer. Ek kon nie eintlik iets aan die saak doen nie. Net wag. Toe val dit my by van die navorsing oor die Duchenne-glimlag. En ek glimlag. Nie die botox-soort glimlag met stywe lippies en liniaalstreep-ooglede nie. Nee, ek glimlag die ene wat my mondhoeke hoog lig en my ooghoeke verkreukel van die lekker. Wanneer ’n mens só glimlag, al voel dinge nie lekker nie, skei ons liggaam endorfien en serotonien af. Dis die goedvoel-hormone.

Die geheim is dat ons brein altyd die rede vir iets soek. As jou mondhoeke hang, sal jou brein redes gee hoekom jy so voel en so moet bly voel. As jy jou mondhoeke lig, reken jou brein daar moet redes gevind word om goed te voel. Sowaar, dit begin gebeur! Om te glimlag verbeter ons siening van onsself en die wêreld. Dis ’n wonderlike positiewe spiraal: jy glimlag, jy voel nog beter, jy glimlag nog meer en jy voel in die wolke!

O ja, daar is nog ’n hele klomp ander winspunte as jy glimlag. Jou immuniteit verbeter. Jou bloeddruk stabiliseer. Jou selfbeheer verbeter. Jy kan stres beter hanteer. Jy voel minder depressief. Jy voel meer positief en sien kans vir uitdagings. Wanneer jy meer gelukkig voel, word jy ook meer suksesvol. Alles kan begin by ’n glimlag…

* Voor jy iemand bel, dink eers aan ’n situasie waar jy lekker gelag het

* Elke keer as jy kyk hoe laat dit is, glimlag die Duchenne-glimlag (mondhoeke én oë)

* Wanneer jy opgewerk of áf voel, oefen die Duchenne-glimlag

* Google ’n paar grappies – en lag totdat Duchenne trots op jou sal wees!

Pous Francis het via Twitter ge- “tweet” (ek het ook nie geweet ’n pous kan tweet nie…): “I cannot imagine a Christian who does not know how to smile. May we joyfully witness to our faith.”

As jy jou glimlag wil verloor oor onsekerhede, troos Jesus: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?” (Matteus 6:25).

God ís elke dag betrokke in jou lewe.

Glimlag – God sál voorsien!

(Wonderwerk? Soms bring jy en jou vriende verwondering en word deel van die wonder van ‘n glimlag. Hier is “The Five Strings” se video, Do you hear what I hear, wat so ‘n bietjie harte verwarm.)