GOEIE GOED IN SLEGTE TYE?
Kan daar in slegte tye goeie goed gebeur?
Die jaar drafstap sommer met ’n paar slegte goed wat die nuus haal. Ek wil nie eens daarna kyk nie, maar dit word so onder ’n mens se neus gevryf dat jy nie anders kan as om dit waar te neem nie.
Kan daar in slegte tye goeie goed gebeur?
Dit het my laat wonder en ek het sommer vinnig gegoogle of daar in tye van ekonomiese depressie bekende name of besighede was wat begin het en ’n sukses is. Wat met ander woorde nie onder ’n eie gemoedsdepressie ondergegaan het nie, maar juis ontstaan het?
Ek kry: What do GE, Disney, HP and Microsoft have in common? They were all startups during steep declines in the U.S. economy. GE started during the panic of 1873, Disney started during the recession of 1923-24, HP began during the Great Depression, and Bill Gates and Paul Allen founded Microsoft during the recession of 1975.
Net hierdie eenvoudige voorbeeld uit die sakewêreld is dat goeie goed in slegte tye kan gebeur. En dit het niks met die ekonomie te make nie.
Dit het alles te make met die persoon. Die mens. Ek. Jy.
Ek weet nie wat hierdie mense se geloof was nie, maar wat ek weet uit die navorsing van Shawn Achor en ander is dat gelukkige mense meer suksesvol is as ander. Ons is geneig om dit andersom te dink: Ek sal eers gelukkig wees as ek suksesvol is. Dis eerder die omgekeerde. Gelukkige mense is meer suksesvol!
STYL VAN VERDUIDELIKING
Een van die maniere waarop ’n mens meer gelukkig voel en dus jou kanse vir sukses ook sommer verbeter, is wat prof. Martin Seligman jou “explanatory style” noem. Jou styl van verduideliking. Dis die manier waarop jy wat met jou gebeur verduidelik en dus glo en dit beïnvloed weer of jy optimisties of pessimisties is. Optimistiese mense is mense wat meer hoop het en meer gelukkig is. En ons het mos gesê gelukkige mense is meer suksesvol…
Wat is die verduidelikende styl van optimistiese mense?
Professor Seligman gebruik die sogenaamde ABCDE-model om mense te leer optimisties dink (in Learned Optimism). Die motivering is dat jou gedagtes – eintlik jou oortuigings (“beliefs”) – kan lei tot ander gevoelens of gedrag. As jy dus beheer kan neem oor jou gedagtes, kan jy aktief beheer neem van jou emosies en gedrag.
ABC, die eerste drie stappe, verwys na (A=Adversity) hoe ons onsself leer ken en bewus word van die situasie, (B=Beliefs) ons oortuigings en wat ons vir onsself sê oor die situasie, en (C=Consequence) wat die gevolglike emosies en gedrag as reaksie op ons oortuigings is.
Die twee laaste stappe, DE, wil die spiraal van negatiewe denke deurbreek deur met jouself te argumenteer (D=Dispute) oor die aannames van jou oortuigings sodat dit tot (E=Energization) positiewe gevoelens en gedrag kan lei.
Om ’n ware voorbeeld te gee: Die situasie (A) is dat ek preek en tydens die preek staan ’n gesiene persoon op en stap uit die kerk. Ek dink (B) dat die stelling wat ek gemaak het moontlik aanstoot gegee het(want dis net daarna wat hy opgestaan het) en (C) voel sleg en dink nou is ek in die moeilikheid. Toe begin ek met myself stry oor my oortuiging of aanname (D) want ek ken hom – hy is my vriend en hy sal nie so optree nie. Bowendien was die stelling nie verkeerd nie, want dis wetenskaplik en teologies begrond. Onmiddellik voel ek beter (E) en gaan soek hom na die diens. Hy lag en vertel dat hy ’n heupoperasie gehad het en nie lank kan sit nie. Hy is veronderstel om meer te staan óf te lê en verkieslik nie te sit nie. Inteendeel, hy het so baie gehou van wat ek sê dat hy te lank bly sit het. En gee my sommer ’n drukkie omdat ek so bekommerd is!
Hier is die ironie van aannames en die manier waarop ’n mens dinge verkeerdelik of ontoepaslik kan verduidelik. In dieselfde diens het iemand hom sien uitloop en na die tyd kom die persoon na my en sê dat hy uitgeloop het en dink dis oor die stelling wat ek gemaak het. Ek bars uit van die lag en vertel dat die aanname verkeerd is en hoekom. Ek stuur die persoon baie in my skik weg met “Gaan vra hom self!”
Hoe bestry ons hierdie oortuigings en aannames wat ons maak wat ons so liederlik pessimisties of negatief kan maak?
Een manier is om te gaan kyk na wat die werklike feite is. ’n Ander manier is om ’n ander alternatief te gee wat meer positief is. Of nog ’n manier: sit dit in ’n ruimer perspektief.
Die punt wat professor Seligman maak, is dat optimisme kan aangeleer word. Dit ontken nie die negatiewe gebeure nie, maar gee jou die krag om die uitdagings van die lewe te oorwin. Dit help ons floreer!
Waarmee hierdie Bybelgedeelte ons help, is om vir ons met die “B” oftewel geloofsoortuiging te help sodat ons ’n beter einde (C) kan bly glo en hoop, asook die positiewe energie (E) daaroor ontsluit. Dan maak dit nie saak wat die situasie (A) is nie.
Kom ons gesels nou oor die wonderteken by die bruilof in Kana in Galilea, Jesus verander water in wyn volgens Johannes 2:1-11.
- Groot Volume Water = Jesus is oorvloed en reiniging
Die 6 klipkanne se volume is in die omgewing van 600 liter water. Normaalweg is hierdie water gebruik deur die Jode om hulleself te reinig. Die was van jou hande, voete, gesig in ’n wêreld van intense hitte en baie stof.
Die Jode se Wet of Thora het voorgeskryf dat hierdie nie sommer net ’n gewone reiniging is nie, maar ook met die oog op die aanbidding van God. Jy moet gereinig word voordat jy tot God nader.
Nou wat het dit alles met hierdie volume water te make? Om jouself te reinig, is net ’n bekervol water nodig – en hier word 600 liter water in wyn verander. 600 liter wyn is ’n klomp wyn! Hier kry ons reeds die besef dat Jesus as ons reiniging is meer as genoeg vir almal. Jesus, sê Johannes later in 10:10, het gekom sodat ons lewe in oorvloed kan hê.
Jesus wys hier dat Hy in oorvloed voorsien, almal se sondes reinig. Dat jy in Jesus alles kry om God te aanbid. In Jesus is die oorvloed.
- Die goeie is laaste = Jesus is laaste en beste
Die seremoniemeester dink die bruidegom is besonder gasvry. Die seremoniemeester sê vir die bruidegom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”
Johannes gebruik hierdie opmerking van die seremoniemeester om daarop te wys dat die profete en priesters, sowel as Johannes die Doper eerste was, maar die laaste en beste het gekom en die laaste en beste is Jesus.
Jesus as God se laaste en beste is tussen ons, het die dissipels besef. God is hier teenwoordig. Ons kán Jesus volg.
- Maria vra = Jesus is die Enigste Verlosser
Dit het alles begin toe ’n sleg situasie opduik, soos maar in die lewe gebeur. Of dit nou ’n deurmekaar ekonomie of deurmekaar verhoudings tussen landsburgers of deurmekaar eie lewe is en of dit wyn by ’n bruilof is wat opraak. Slegte goed gebeur. Maar dis nie net slegte goed wat gebeur nie.
God se wonders gebeur ook. Maria wys vir ons dis juis waar ons moet begin. Om Jesus te vra. God is by ons.
Ons moet asb. onthou dat hierdie wonderwerk nie gebeur sodat ons elke keer kan bid vir meer wyn nie!
Ons vriendin vertel dat ’n man eenkeer by die huis opgedaag het en sien al die meubels is weg. Hy skrik en dink sy vrou het hom verlaat. Maar die volgende oomblik kom sy ingestap met ’n bottel wyn in die hand.
“Ek het ons meubels verkoop sodat ons nog drank het,” beduie sy.
“Ai, jou ou planmakertjie!” lag hy.
Ons as mense het planne, maar God se planne is groter en beter en wonderliker…
Maria het reeds geweet Jesus is die Enigste Antwoord, Hulp, Verlosser. Die Enigste Verlosser wat ons kan verlos van ons slegte situasie. Die Enigste Verlosser wat ons kan verlos van ons sondes. Jesus is die Enigste Verlosser. Vra net…!
- Wonderteken = Jesus is Here
In vers 11 dui Johannes hierdie gebeure as wonderteken aan. Gewoonlik word die woord “wonderwerk” gebruik om aan te dui dat hier iets gebeur wat nie normaalweg gebeur nie. Maar Johannes lig dit nog ’n vlak: hierdie wonderwerk is ’n “wonderteken”. Dit wys heen na die heerlikheid van Jesus. Dit het nie die doel dat ons oor die wonderwerk moet praat nie, maar oor die Een wat die wonderwerk gedoen het, naamlik Jesus.
So wat wil hierdie wonderteken vir ons wys?
Jesus is Here!
Dit maak nie saak wat die situasie is waarin ons is nie, Jesus is ook in die situasie saam met ons as die Here. As die een wat enige situasie kan onderwerp aan sy wil. As die Een wat die onmoontlike moontlik maak. Dis wat Paulus bedoel as hy skryf dat alles ten goede sal meewerk. Niks kan God se wil stuit nie en God se wil is sy liefde vir ons.
Daarom kan ons bid dat reën kom. Daarom kan ons vra dat ons persoonlike situasie verbeter. Daarom kan ons vra om nie so ontsteld te voel nie.
Maar dan, as die reën kom, as die persoonlike situasie verbeter, as die ontsteltenis verander in kalmte – moet ons getuig: Jesus is die Here.
En uit hierdie gebeure wat Johannes vir ons opgeteken het, kry ons die moed om al verander niks nou nog nie, reeds vanuit hierdie wonderteken wat wys na Jesus te bely en te glo: Jesus is die Here.
My water het nog nie in wyn verander nie, maar Jesus ís die Here… dit sal nog…
So word elke situasie die spasie om te sien hoe Jesus dit gaan verander tot sy eer. So ontmoet ons die wonderlikheid van God wat so lief is dat selfs al is die tyd nie reg nie, God ingryp sodat ons kan sien God bereid om ons te ontmoet in alle oorvloed en liefde…
So word elke situasie die geleentheid om Jesus in oorvloed te ontmoet.
Kom ons keer terug na die manier van dink wat ons brein kan herbedraad sodat ons as’t ware outomaties optimisties kan wees – optimisties oor Jesus!
Ons weet reeds A= die situasie. Maar nou het ons vir B=geloofsoortuigings hierdie wonderteken wat ons kop regtrek en waarmee ons ons denke kan bly vul:
- Jesus is oorvloed en reiniging
- Jesus is laaste en beste
- Jesus is die Enigste Verlosser
- Jesus is Here!
Wie dit konsekwent bly glo, sal vind dat C=gevolge heeltemal anders sal hanteer. Want nou is dit uit die geloofsoortuiging dat God wat reeds gehelp het, weer sal help.
As jou gedagtes negatief raak, bestry dit (D) weer met hierdie geloofsoortuiging sodat jy meer optimisties en dus meer vreugdevol (E) sal wees.
Oefen dit gereeld, maak dit jou denkstyl.
En ek glo hierdie jaar gaan vir jou so vol wondertekens wees sodat jy elke keer kan sê: Jesus ís die Here. My Here en My God!