Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Geluk? Beïnvloed jou Godsverhouding jou lewensvreugde?

Nie alle mense is altyd geïnteresseerd in ’n verhouding met God nie. Mis hulle dalk iets van geluk?

Vir my as Jesusvolgeling is dit maklik om te sê dat ek dink mense mis iets. Kom ek verduidelik hoekom ek so dink. Mense se geluk lek elke dag. Dis soos ’n emmer vol water wat elke dag met verskillende spykers vol gaatjies geslaan word. Vanoggend staan die persoon baie positief op, maar deur die dag word sy gebombardeer deur al hierdie spykers en vanaand is die emmer leeg. Die probleem is dat die persoon so oormatig vol kortisol en adrenalien is wat moet help om die stryd te oorkom, dat die persoon angstig gaan slaap en vannag drie-uur word sy wakker en rol rond met ’n kop vol gedagtes wat nog meer vrese opjaag.

Die spykers wat geluk laat lek kan enigiets wees van die eise van enkelouerskap, armoede, slegte ervarings by die werk, tot die effek van al die moorde en misdaad wat mense sien. Ons leef bowendien in ’n prestasie-gerigte samelewing wat al hoe meer eise stel sodat mense voel hulle is soos rotte in ’n rotresies, maar dit voel of hulle al hoe vinniger in daardie wieletjie hardloop en tog nêrens kom nie. Dan begin mense met negatiewe waardes werk, soos kritiek, jaloesie, gebreksmentaliteit, negatiwiteit, eie sinnigheid en so aan. Dit vorm ’n bose spiraal wat almal al hoe meer aftrek.

Ons samelewing het nodig dat ons ’n nuwe kultuur skep waarin vreugde en vervulling, oorvloedsmentaliteit en hoop, positiwiteit en skoonheid, geleentheid en genade, dankbaarheid en diensbaarheid mekaar help om volle lewensvreugde te ervaar.

Pierre Teilhard de Chardin het gesê:  “We are not human beings having a spiritual experience. We are spiritual beings having a human experience.” Wat ons mis in ons samelewing wat mekaar weer kan help na hierdie nuwe kultuur, is ’n nuwe besef van die spirituele, m.a.w. van God.

Ons konneksie met God help ons om ’n breër en oper toekoms te beleef, dit gee betekenis en rigting aan ons lewe, dit inspireer ons om die wêreld vir mekaar ’n beter plek te maak en vir mekaar ruimte te maak. Konneksie en intimiteit met God help ons om minder oor onsself te bekommer en minder óór onsself te dink, meer ván onsself te dink en meer uit te reik na ander mense en die natuurlike omgewing. En uiteindelik: konneksie met God gee aan ons lewe betekenis. Ons voel ons is hier om ’n rede en ons vereer God as ons hierdie rede uitleef.

Alle mense gaan nie gereeld kerk toe nie. Hoe kan hulle weer hierdie konneksie met God optel?

Kerk toe gaan is miskien maar een uur in ’n week en dis belangrik vir my want dit help my onthou daar is ’n ander werklikheid as wat ek die res van die week gaan ervaar. Ek sien kerk toe gaan as die geleentheid waar ons almal saam ons konneksie met God bevestig en dit soort van ’n spanpraatjie is waar God vir ons as geloofsgemeenskap help om fokus te hou vir die lewenspel. En dis ’n geleentheid waarin ek weer fokus op God saam met medegelowiges en God wil eer.

Maar wat van die ander ure van die week? Mense moet net weer bewus word dat hulle ’n spirituele kant ook het. Jy is ook gees. Doen ’n keuse om jou oop te stel om in die week gereeld te let op hierdie spirituele gewaarwordinge wat jou help konnekteer met God. Gewone dinge kan jou hiermee help. Byvoorbeeld:

Albert Einstein was omtrent vier of vyf toe sy pa vir hom ’n kompas gewys het. Albert was ontsettend opgewonde hieroor. Spontaan het hy begin wonder hoekom die naald op ’n sekere manier beweeg. Waarom sou dit so doen? Sy ervaring tot op daardie oomblik was dat jy self aan iets moet raak om dit te beweeg en hier beweeg die naald oënskynlik vanself. Hierdie ervaring het so ’n indruk op hom gemaak dat dit hom lewenslank bygebly het. Dit het hom laat wonder of daar iets of iemand agter alles is. As gevolg hiervan, wou hy weet wat God besig is om te dink.

So mense moet bewustelik weer fokus op spirituele gewaarwordinge.

Ons is nie almal so slim soos Albert Einstein nie. Vereis dit buitengewone vermoëns of intelligensie om hierdie konneksie met God te hê?

Gelukkig hoef ons nie so slim soos hy te wees nie. Nee, al wat nodig is, is om met ’n openheid te leef vir Goddelike aanrakings. As as iets moois jou opval, of iemand se besondere vermoëns jou aanraak, of as die natuur jou anders laat voel, of as jy ’n aha-oomblik in studies het, of musiek geniet, of ’n skildery waardeer, of ’n oorweldigende dankbaarheid ervaar, of die goeie dade van iemand bewonder, of iets of iemand jou inspireer, vra net: Waarmee is God hier besig? Waarvan wil God my bewusmaak?

Tweedens is wat nodig is, is heilige rituele of gewoontes. Dis nie verpligte wette wat jy ten alle koste moet nakom nie, maar dis geestelike gewoontes wat jou help herinner om oop te bly vir God. Dit sluit praktyke in soos om te bid en met God te gesels, Bybel te lees, eredienste by te woon, van jou geld te gee vir die goeie, in ’n geestelike joernaal te skryf, soms te vas van sekere dinge om jou aan God te herinner, in ’n kleingroep van gelowiges te wees, geestelike musiek te luister, ’n pelgrimstog aan te pak, diens te lewer sonder vergoeding. Hierdie geloofspraktyke help jou om bewus te bly dat God lewend en werklik is in jou lewe en in hierdie wêreld. Dit help jou om hoopvol te bly, geïnspireerd te leef, lewensvreugde meer deurlopend te ervaar.

Hier is ’n eenvoudige oefening – jou 2-minute bewuswees van God oefening: haal rustig asem vir ’n minuut terwyl jy net: “Dankie, God” sê as jy uitasem. En die tweede minuut sê jy net “God” terwyl jy uitasem.

’n Laaste gedagte wat ons moet bly onthou om konneksie met God te behou?

Aanvaar en glo God is hier, teenwoordig, nou, ’n realiteit in jou lewe. Aanvaar God is jou konneksie met lewensvreugde. Want onthou: jy is nie ’n menslike wese op soek na ’n  geestelike ervaring nie, jy is ’n geestelike wese besig met menslike ervarings… Jesus het gesê in Johannes 10:10: Ek het gekom sodat jy die lewe kan hê en dit in oorvloed! God vind vreugde in jou!

(Notas van my inspirasie gedagtes op RSG. As jy wil luister, soek by www.rsg.co.za  onder Potgooi en Sondagjoernaal)