Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

ONS PLAASLIKE EL CAMINO

 

 paradys  

Twee jaar gelede het ek hier kom heelword. En die plek doen dit nog steeds vir my: ons eie paradys danksy twee dierbare vriende. Ek is op ‘n baie beter plek as toe.

Maar die patroon is steeds dieselfde:

Soggens vat ek en Wilma die pad (dis wat el camino beteken) langs die see. Die een dag 10 km heen en terug na die riviermond, die ander dag 8 km heen en terug na die ander baai. Party dae is dit lekker sonskyn so in die winter. Ander dae hou die grys wolke en rowwe see ons amper binne. Dan moes ons behoorlik ons moed bymekaar skraap om teen die wind te beur. Daar is nie ‘n móét vir enigiets nie, en dis ook goed.

Aanvanklik besef ek hoe onfiks ek is vir hierdie toestande. Om in ‘n gym te oefen, is baie makliker. Stadig maar seker pas ‘n mens se lyf aan. Die positiewe effek is dat ‘n mens se wilskrag teen weerstand sterker raak.

Aanvanklik het my kop geraas. Ek het gesukkel om herhalende gedagtes te keer. Mettertyd het dit nie meer gegaan oor wat binne-in my kop aangaan nie, en kan ek al hoe meer fokus op wat rondom my aan die gebeur is. Op die ou end word ‘n mens se kop  leeg en gereed vir die mooi. Al wat begin saakmaak: die hier en die nou. Die geluide van die see en seëvoëls. Die gevoel van son en sand. Die lekker om saam met my vriendin en lewensmaat ervarings te deel. Die bewusword dat God nog altyd groter as alles is. Nie nodig om te praat nie – net wéés.

Vroegoggend of laatmiddag skryf ek in my joernaal. Kort gebede waarin ek met God gesels. Neerpen wat ek by God hoor. Of dink ek hoor.

Is dit nie dalk maar wat met paradys bedoel word nie?