Hoe is dit moontlik dat Christene so nydig en kwaad kan word?
Dis seker ‘n onregverdige vraag om te vra maar hoe is dit moontlik dat mense wat sê dat hulle Jesus Christus as hulle Leidsman en Verlosser sien so ongenaakbaar nydig kan wees en sonder vreugde?
Ons moet iets verstaan van hoe ons liggame werk – hoe ons ge”hardwire” is…
‘n Mens se oerbrein, ook limbiese of emosionele of reptielbrein genoem, word veral deur die amigdala bestuur. Dis hier waar ’n goeie ding verkeerd kan loop. Wanneer jy kalm is, dink ’n mens normaalweg rasioneel. Hierdie denkende deel van ons brein (neokorteks) funksioneer om al die seine wat ons deur ons sintuie ontvang, te interpreteer. Dan gee ons betekenis daaraan.
Vóór impulse vanaf die sintuie by die denkende brein kom, arriveer dit by die deel van die brein wat talamus genoem word. Die talamus is soos ’n skakelaar wat die impulse stuur na die denkende brein. Ook na die oerbrein vir emosionele response.
Nou die verrassing: in ’n krisis reageer ons vinniger as wat ons kan dink. Ons moes mos in die ou dae vinnig reageer om uit die pad van ’n dinosourus of tier te kom. Daar is nie nog tyd vir dink nie. Deesdae ervaar jy dit as jy vinnig voor ’n aankomende voertuig uit die pad spring. Dis jou oerbrein wat jou help om so vinnig te reageer. Ons doen dit as’t ware outomaties. Dis omrede die talamus wat die seine ontvang, dit so vinnig direk stuur na die oerbrein voordat dit die denkende brein bereik. Die amigdala kaap (hijack, soos die wetenskaplikes dit noem) die seine voordat jy daaroor kan dink. Die amigdala stoor gewoonlik vorige ervarings. Veral slegte ervarings wat jou in gevaar sou stel, word bewaar. As die sein inkom, evalueer die amigdala dit teen moontlike gevaar soos dit onthou word en stuur die impuls om jou te laat reageer. Daarom sal byvoorbeeld ’n harde geluid jou laat sywaarts spring, al is daar geen direkte gevaar nie. Jou amigdala het onthou dat jy in jou kinderjare in gevaar was toe ’n harde geluid gehoor is en jy reageer nou op die moontlike gevaar.
Daar is net ’n probleem: die amigdala kan jou laat oorreageer om ontoepaslik vir die situasie op te tree. As iemand net ’n skewe opmerking maak, kan jy byvoorbeeld weer so verwerp voel soos in jou kinderjare toe jy geïgnoreer of gemolesteer is. Totdat jy daaroor rasioneel dink en die gevoelens bestry met waarheid oor die huidige situasie. Die persoon het haar gedagte dalk net sleg verwoord.
Wat jy moet besef, is dat die amigdala in ’n moontlike gevaarsituasie die boodskap aan jou liggaam stuur om hormone vry te stel, gewoonlik adrenalien en kortisol. Dit stel jou in staat om vinnig te reageer. As daar egter nie werklik ’n slegte situasie is nie, sit jy nog met die hormone in oormaat en dit lei daartoe dat jy nog ’n rukkie daarna gespanne of kwaad voel. Die oer response op gevaar is gewoonlik om óf te veg, óf vlug, óf vries, óf vreet, óf voort te plant!
Dis wanneer jy jou totaal deur jou oerbrein laat lei sonder om die konsekwensies te bestuur, dat ons sondig. Sonde is om nie Jesus se voorbeeld te volg nie. Dan kom my ou self telkens na vore. Die een wat my vreugde ontken. Gevoed deur my oerbrein. Jou ou self is nie jou oerbrein nie, dit kies net die sondige pad as gevolg van die oerbrein se reaksies…
Wat is die voorbeeld wat Jesus vir ons in die woord gee van hoe ons met mekaar moet omgaan?
Jesus gee ‘n nuwe opdrag… Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. Joh. 13:34.
Jesus werk met groter perspektief: Matteus 5:43-48…Julle het gehoor dat daar gesê is:” Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.” Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg.
Solank jy iemand haat of bang is voor, stress jy te veel en word jou amigdala gekaap… wanneer jy lief is vir iemand… en bid as die aksie wat dit omvorm, verander alles. Nou gee jy nie beheer aan die ander oor, maar is jy saam met Jesus in beheer.
Omgee, compassion kom wanneer jy so intiem met Jesus leef, dat jy glo … “ek is saam met met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Galasiërs 2:19-20).
JOU WêRELDBEELD BEïNVLOED DIE BETEKENIS WAT JY AAN SEINE GEE.
EN JOU WêRELDBEELD WORD BEïNVLOED DEUR JOU GODSBEELD… SAL GOD KAN HELP? … AS JY GLO GOD KAN, IS DAAR OORVLOEDSDENKE EN DAN HAAL JY ASEM EN WEET JY GAAN DIT HANTEER
- Fokus op wat reg is en kan doen…
- Drie dankies in oggend vir wat jy waardeer
- Dink voor jy gaan slaap aan drie dinge wat reg/lekker/goed verloop het
- Oefening – dit leer jou brein dat jy iets positiefs kan doen en die krag dra oor na die ander dele van jou lewe
- 2-min asemhaling
- Positiewe vriende
- Positiewe taal
- Mediavas van negatiewe.
- Herinterpreteer stress = gereed om nuwe uitdagings te hanteer.
Is ek reg as ek sê dat gelowiges noodwendig as leiers in ‘n mindere of ‘n meerdere mate na vore moet tree en ‘n voorbeeld moet stel?
Ek reken so. In 1 Korintiërs 11:1 skryf Paulus: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”
(Notas van my inspirasie gedagtes op RSG. As jy wil luister, soek by www.rsg.co.za onder Potgooi en Sondagjoernaal)