Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Pinkster. EN NOU?

Was jy een van die mense wat altyd op skool gou gekies is wanneer daar sommer spontaan voor skool of tydens pouse ’n sokker- of netbalspan opgemaak is?

Ek was nie so gelukkig nie.

Ek het die voorreg gehad om meesal net voor die heel laaste ou gekies te word vir sokker op die rugbyveld voor skool. Op daardie stadium was ek half lomp omdat ek nog gegroei het, so al plek wat oor was, was dié van “goalie” soos die doelwagter genoem is. So, ek kon darem sê ek was Beaufort Hoërskool Sentraal se Voorskoolse Sokkerspan Goalie! Terloops, sokker was nie destyds ’n sport wat formeel aangebied was in ons skool nie.

Maar kom ons gesels oor ’n ander span.

Jesus noem sy volgelinge dissipels. Dis die mense in wie die Heilige Gees kom bly. Pinkster is pas ’n baie kerke gevier. Dis die herinnering aan die uitstorting van die Heilige Gees. As Jesus sy laaste woorde op aarde gee, sê Hy volgens Matteus 28:19: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels!”

Maar as mense dink aan dissipel-wees, voel dit altyd na ’n vreeslike verpligting.

Dalk begin ons by die verkeerde punt dink oor dissipel-wees.

Wat daarvan as ons by VREUGDE begin? Dan werk ons sommer met die akroniem VOLG JESUS.

VREUGDE: Die vreugde om Jesus te volg, vloei voort vanuit die vreugde van God.

Onthou jy die gelykenis van die sogenaamde verlore seun? In Lukas 15 sien ons hoe bly God is om sy kinders by Hom te hê. Al die foute eensklaps vergete in die blydskap van die saamwees. Sefanja 3:17 sê God is vol vreugde oor ons, en hoor hier: “ [Hy] jubel en juig oor jou!”

Dissipel-wees is om hierdie vreugde te hê: God het my só lief. God kies my!

OFFER: Offer is om nie my wil nie, maar God se wil te doen.

Daar is ’n punt waarin ons moet wegkyk van onsself en ons eie belange en na Jesus kyk om werklik dissipel te wees. Soos Jesus herinner: “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.” (Joh. 15:10).

Judas, die verloënaar? Waarom het Jesus hom nie weggejaag uit sy span as Hy geweet het Hy gaan Hom verloën nie? Jesus het Judas tot die einde lief gehad, om te wys dis God se opdrag.

Petrus, die verraaier? Waarom het Jesus hom nie weggejaag uit sy span as Hy geweet het Hy gaan Hom verraai nie? Jesus het Petrus so lief gehad om God se opdrag uit te voer sodat Petrus die rots kon word waarop die kerk groei.

Matteus/Levi, die belastinggaarder? Jesus het hierdie mense wat as volksverraaiers beskou is, ook in sy binnekring genooi om God se opdrag uit te voer sodat die koninkryk kan groei.

En Sy finale offer aan die kruis: Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Luk 22:42).

LIEFDE: Onvoorwaardelik – soos Jesus!

Ons kan so onvergewensgesind wees met mekaar en voorwaardelik liefhê, maar dissipels het mekaar lief soos Jesus ons lief het. Dis hoe die wêreld weet jy is ’n dissipel. En jyself!

Daarom: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief het.” (Joh. 15:12).

GEKONNEKTEER: Hoe meer gekonnekteer in Jesus, hoe meer vreugde, offer, liefde…

Julle moet in My bly en Ek in julle…” (Joh. 15:4).

Hierdie konneksie kan deur verskillende maniere geskied, maar gebed is die onmiddellike waaraan ek dink – want bid kan jy altyd, heeltyd en oral.

JESUS: Hy het my gekies; daarom volg ek Hom.

Dallas Willard skryf: “The idea that you can trust Christ and not intend to obey him is an illusion…. In fact, you can no more trust Jesus and not intend to obey him than you could trust your doctor or your auto mechanic and not intend to follow their advice. If you do not intend to follow their advice, you simply do not trust them.”

In my gedagtes hoor ek: “Jannie, kom speel saam met My Span!”

“Dankie, ek’s in!”


WONDERLIK: Partykeer maak ‘n videogreep dit net makliker om te verstaan. Soos hierdie ene oor dissipel-wees.